Haar inisiatief is beloon
BAIE JONGMENSE ONDER JEHOVAH SE GETUIES stel ’n goeie voorbeeld deurdat hulle openlik oor hulle geloof praat. Neem Stella, ’n tiener van Saloniki in Griekeland, as voorbeeld. “By een van ons Christelike vergaderinge”, sê sy, “is maniere bespreek waarop ons ons video’s kan gebruik om ander te help om Jehovah te leer ken. Ek het aan ’n manier gedink waarop ek die video Jehovah’s Witnesses—The Organization Behind the Name kon gebruik. Die volgende dag het ek met die skoolhoof gepraat en voorgestel dat die video by die skool gewys word. Tot my verbasing het hy geen beswaar gehad nie—solank die onderwysers ingestem het.
“Later daardie selfde dag het die skoolhoof vir my gesê dat die video die volgende week gewys kon word—maar eers ná skool. Ek was teleurgesteld, want ek het gedink dat my klasmaats nie hulle vrye tyd sou opoffer om na die video te kyk nie. Die volgende dag het ek nogtans almal genooi om dit by te woon. Hulle het nie net die uitnodiging aanvaar nie, maar het ook leerlinge uit ander klasse genooi. Ses onderwysers—waaronder ’n teoloog—het ook gekom om na die video te kyk.
“Almal het noukeurig aandag geskenk. Ná die tyd het die skoolhoof my genooi om ’n vraag-en-antwoord-bespreking te hou. Baie leerlinge was beïndruk deur die vrywilligerdiens wat by die hoofkwartier van Jehovah se Getuies gelewer word, wat in die video gewys is. ‘Selfs al word hulle nie betaal nie, doen hulle hulle werk met vreugde!’ het een leerling gesê.
“Ek het almal wat na die video kom kyk het, van ons Bybelpublikasies vertel. Ek het ook Koninkryksnuus Nr. 36, ‘Die nuwe millennium—Wat hou die toekoms vir jou in?’ versprei. Die skoolhoof het meer eksemplare gevra sodat hy dit vir die onderwysers kon gee wat nie teenwoordig was nie.
“Agterna het baie leerlinge met hulle vriende oor die video gepraat. Ek was bly dat ek hierdie geleentheid gebruik het om ’n getuienis te lewer. My klasmaats toon groter respek vir my; maar belangriker, hulle toon respek vir die God wat ek aanbid!”