So lank voor dit blom!
DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN BOLIVIA
WAAROM ry besoekers twee tot drie uur lank van die dorp La Paz in die Andesgebergte af, oor ’n deel van die barre vlakte van die Altiplano, na ’n afgesonderde gebied met die naam Comanche? Waarom kom party plantkundiges van die uithoeke van die aarde af om hierdie groot rots te besoek wat maar baie klein is in vergelyking met die uitgestrektheid van die landskap?
Die antwoord: Om die Puya raimondii te sien—die plant wat al die grootste van alle kruie en die merkwaardigste plant van die Andesgebergte genoem is. As jy in die lente soontoe gaan, sal jy miskien gelukkig genoeg wees om ’n baie uitsonderlike vertoning van blomme te sien wat, volgens sommige, honderd jaar neem om te ontwikkel.
Jy sal die Puya raimondii nêrens anders honderde kilometers ver vind nie; trouens, hierdie seldsame spesie groei net in ’n paar plekke, wat almal in die Andesgebergte is. Aangesien dit geen houtagtige struktuur soos dié van bome en struike het nie, klassifiseer plantkundiges dit as ’n kruid. Maar jy het nog nooit so ’n groot kruid gesien nie! Die ontsaglike roset van smal, stekelrige blare is gans te hoog vir selfs die langste man om by te kom. As jy binne-in kyk, besef jy dat dit ’n lewensgevaarlike plek vir klein voëltjies is. In die smal ruimtes tussen die blare is daar byna altyd die uitgedroogde oorblyfsels van voëltjies wat tussen die blare ingevlieg het, dalk om van ’n valk weg te kom, en toe deur die dodelike punte deurboor is.
Die blomme sal heel moontlik vir jou die interessantste deel van hierdie plant wees. Onder die tientalle plante in hierdie kolonie sal jy gewoonlik net een of twee, indien enige, vind wat blom.
Dit is werklik ’n opwindende ondervinding om hierdie reus van die plantewêreld in volle bloei te sien. Bo sy blaarryke basis toring die langste blomaar in die botaniese wêreld uit. Daarop reik duisende geel blomme 10 meter die lug in—hoër as ’n drieverdiepinggebou! In luisterryke afsondering kleef die Puya raimondii aan die rotse en reik dit hoog die lug in.
Maar ongelukkig word die Puya raimondii met uitwissing bedreig. Om die een of ander rede hou mense daarvan om hierdie plant te verbrand. Niemand weet eintlik of hulle dit doen omdat hulle daarvan hou om so ’n groot vlammende fakkel te sien en of dit is om hulle warm te maak wanneer dit koud word of omdat hulle bang is dat skape in die stekelrige blare verstrik sal raak en sal sterf nie. Nietemin bestaan die poeja nog steeds, ten spyte van vuur, ryp, winde, ’n verskroeiende son en min grond. Hoe doen die plant dit?
Die Puya raimondii behoort aan ’n groot familie van sowat 2 000 spesies wat blykbaar die besondere vermoë het om te groei waar ander plante nie kan nie—die bromelias. Behalwe een soort is hulle almal inheems aan die Amerikas. Soos die poeja het baie van hulle wortels wat hoofsaaklik dien om hulle te anker. Hulle het mikroskopiese skubbe op hulle blare wat hulle in staat stel om vog uit die lug eerder as uit die grond te absorbeer. En wanneer daar reën of dou is, syfer dit af tot in sentrale reservoirs wat nie net water aan die plant voorsien nie, maar ook aan ’n menigte klein diertjies. Maar die Puya raimondii is die grootste van al die bromelias.
Wat belangstelling wek in dié “koningin van die Andesgebergte”, soos dit al genoem is, is die merkwaardige lang tyd wat dit neem om volwasse te word en te blom. ’n Welbekende plantkundige het die littekens van blare op ’n dooie poeja getel en die ouderdom daarvan op 150 jaar geskat. Ander beweer dat die plante slegs 70 jaar lank lewe. Die plaaslike mense noem hulle honderdjarige plante, omdat hulle glo dat die plante honderd jaar neem om hulle blomtyd te bereik. Die eerste een wat ooit van ’n saadjie gekweek is, het volgens berig in 1986 in Kalifornië na slegs 28 jaar geblom. Wat die waarheid ook al is omtrent die poejas wat hoog in die Andesgebergte groei, hulle neem ’n baie lang tyd om volwasse te word.
[Prent op bladsy 22]
Hoe groei die reusagtige “Puya raimondii” in so min grond?
[Prent op bladsy 23]
Die “Puya raimondii” se duisende blomme trek baie voëls
[Prent op bladsy 23]
’n “Puya raimondii” wat vuur oorleef het