Onderwysers—Waarom het ons hulle nodig?
“Een dag met ’n groot onderwyser is beter as ’n duisend dae van ywerige studie.”—’n Japannese spreuk.
ONTHOU jy ’n onderwyser wat jou werklik beïndruk het op skool? Of as jy nog op skool is, het jy ’n gunstelingonderwyser? Indien wel, waarom?
’n Goeie onderwyser boesem vertroue in en maak dit ’n fassinerende uitdaging om te leer. ’n Sewentigjarige van Engeland het aangename herinneringe wanneer hy aan sy Engelse onderwyser by sy skool in Birmingham dink. “Mnr. Clewley het my van vermoëns bewus gemaak wat ek nie geweet het ek het nie. Ek was skaam en teruggetrokke, en tog het hy my gehelp om aan die dramawedstryd by die skool deel te neem. In my laaste jaar het ek die dramaprys gewen. Ek sou dit nie sonder sy aanmoediging kon gedoen het nie. Dit is jammer dat ek hom nooit in latere jare gesien het om hom vir sy toegewydheid aan sy leerlinge te bedank nie.”
Margit, ’n vriendelike vrou in haar vyftigerjare, van München, Duitsland, sê: “Daar was een onderwyseres van wie ek veral gehou het. Sy het ’n manier gehad om ingewikkelder dinge op ’n eenvoudige wyse te verduidelik. Sy het ons aangespoor om vrae te vra as ons iets nie verstaan het nie. Sy was nie onpersoonlik nie, maar vriendelik. Dit het die klasse aangenamer gemaak.”
Peter, ’n Australiër, onthou ’n wiskundeonderwyser wat, soos hy dit gestel het, “ons deur middel van praktiese voorbeelde gehelp het om die waarde te sien van wat ons leer. Toe ons trigonometrie gedoen het, het hy ons gewys hoe om net met behulp van trigonometriese beginsels die hoogte van ’n gebou te bereken sonder om eers daaraan te raak. Ek onthou hoe ek vir myself gesê het: ‘Dit is ongelooflik!’”
Pauline, van noordelike Engeland, het vir haar onderwyser gesê: “Ek sukkel met wiskunde.” Hy het gevra: “Sal jy graag beter wil doen? Ek kan jou help.” Sy sê verder: “Gedurende die volgende paar maande het hy ekstra aandag aan my gegee en my selfs ná skool gehelp. Ek het geweet hy wou hê dat ek moes slaag—dat hy omgegee het. Gevolglik het ek harder gewerk, en ek het verbeter.”
Angie, van Skotland, wat nou in haar dertigerjare is, onthou mnr. Graham, haar geskiedenisonderwyser. “Hy het geskiedenis so interessant gemaak! Hy het die feite soos ’n storie vertel en was werklik entoesiasties oor elke onderwerp. Hy het dit laat lewe.” Sy dink met geneentheid terug aan mev. Hewitt, haar bejaarde graadeenonderwyseres. “Sy was vriendelik en het omgegee. Ek het eendag in die klas na haar toe gegaan om haar ’n vraag te vra. Sy het my in haar arms geneem. Sy het my laat voel dat sy werklik vir my omgee.”
Timothy, van suidelike Griekeland, het sy waardering so uitgespreek. “Ek onthou nog my wetenskaponderwyser. Hy het die manier waarop ek na die wêreld rondom my en na die lewe kyk, vir altyd verander. Hy het ’n atmosfeer van ontsag en verwondering in die klaskamer geskep. Hy het ’n passie vir kennis en ’n liefde vir begrip by ons laat posvat.”
Ramona, van Kalifornië, VSA, is nog ’n voorbeeld. Sy skryf: “My hoërskoolonderwyseres was baie lief vir Engels. Haar entoesiasme was so aansteeklik! Sy het selfs die moeilike dele maklik laat lyk.”
Jane, van Kanada, het met geesdrif gepraat oor ’n liggaamsopvoedingonderwyser wat “allerhande interessante idees gehad het om pret te hê en te leer. Hy het ons op uitstappies geneem en ons geleer om te ski en op die ys vis te vang. Ons het selfs bannock, ’n soort Indiaanse roosterkoek, voorberei oor ’n kampvuur wat ons self gemaak het. Vir ’n meisie wat meestal binnenshuis gebly en gewoonlik met haar neus in die boeke gesit het, was dit alles ’n wonderlike ondervinding!”
Helen is ’n skamerige vrou wat in Sjanghai gebore is en in Hongkong skoolgegaan het. Sy sê: “In graad vyf het ek ’n onderwyser, mnr. Tsjan, gehad wat liggaamlike opvoeding en skilderkuns aangebied het. Ek was maar tingerig en was glad nie goed in vlugbal en basketbal nie. Hy het my nie in die verleentheid gestel nie. Hy het my pluimbal en ander sportsoorte laat speel waarin ek beter gevaar het. Hy was bedagsaam en vriendelik.
“Dit was ook die geval met skilderkuns—ek kon eenvoudig nie voorwerpe of mense skilder nie. Hy het my dus patrone en ontwerpe laat skilder, waarvoor ek ’n groter aanleg gehad het. Omdat ek jonger as die ander leerlinge was, het hy my oorreed om nog ’n jaar in daardie graad te bly. Dit was ’n keerpunt in my skoolloopbaan. Ek het selfvertroue gekry en vordering gemaak. Ek sal hom altyd dankbaar wees.”
Watter onderwysers maak blykbaar die grootste indruk? William Ayers beantwoord hierdie vraag in sy boek To Teach—The Journey of a Teacher: “Doeltreffende onderwys verg bowenal ’n bedagsame, liefdevolle onderwyser wat werklik belangstel in die lewe van leerlinge. . . . Doeltreffende onderwys gaan nie oor spesifieke tegnieke of style, planne of dade nie. . . . Die onderwys gaan hoofsaaklik oor liefde.” Wie is dus die suksesvolle onderwyser? Hy sê: “Die onderwyser wat jou hart geraak het, die onderwyser wat jou verstaan het of wat vir jou as persoon omgegee het, die onderwyser wie se passie vir iets—musiek, wiskunde, Latyn, vlieërs—aansteeklik was en jou gemotiveer het.”
Daar bestaan geen twyfel nie dat baie onderwysers al deur leerlinge en selfs ouers bedank en sodoende aangemoedig is om ondanks terugslae voort te gaan met hulle werk as onderwysers. Iets wat so baie van hierdie opmerkings in gemeen het, is die opregte belangstelling van die onderwyser in die leerling en die goedhartigheid wat hy of sy teenoor die leerling toon.
Nie alle onderwysers het natuurlik so ’n positiewe benadering nie. Maar dan word onderwysers ook dikwels aan baie druk blootgestel wat beperk wat hulle vir hulle leerlinge kan doen. Dit gee aanleiding tot die vraag: Waarom kies mense so ’n moeilike beroep?
[Prent op bladsy 4]
“Die onderwys gaan hoofsaaklik oor liefde”