“Dokters” wat kriewel en ’n eetlus het
Hoe afstootlik die gedagte ook al vir sommige mag wees, daar is ’n vaardige en higiëniese “dokter” wat besig is om weer sy verskyning te maak—die nederige maaier. ’n Berig in The Journal of the American Medical Association (JAMA) sê dat dokters in die Verenigde Koninkryk ’n proefondersoek gedoen het op 12 pasiënte met oop sere op hulle bene. Ses is met die gewone hidrojelterapie behandel, en op die ander ses is maaiers gebruik.a
“Al ses pasiënte wat met die larweterapie [maaierterapie] behandel is, het ná net 3 dae skoon wonde gehad”, sê JAMA. Van dié wat die gewone behandeling ontvang het, “het net twee na 1 maand se behandeling skoon wonde gehad; die ander vier het verdere mediese sorg nodig gehad”. Die Britse mediese tydskrif The Lancet sê dat maaierterapie “die behandelingstyd dramaties kan verminder in vergelyking met konvensionele terapieë” en dat die koste daarvan “net oor die helfte van die koste van hidrojel is”.
Wanneer die maaierterapie gebruik word—sê maar op ’n wond wat deur nekrose aangetas is—sit dokters jong, steriele larwes op die wond, sê JAMA. (Dokters gebruik natuurlik net dié larwespesies wat nie gesonde weefsel aanval nie.) Die wond word dan met ’n fyn nylonmaas en ’n absorberende kussinkie bedek om vloeibare dooie weefsel op te neem. Wanneer die maaiers versadig is, word hulle verwyder en weggegooi, en nuwes word opgesit totdat die wond heeltemal skoon is. Daarna bevorder bloedvloei na die oorblywende gesonde weefsel die groei van nuwe vlees.
“Ons het nog nooit ’n pasiënt gehad wat die maaiers geweier het nie”, het die vaskulêre chirurg Michael Walker gesê. “Dit is personeel, nie pasiënte nie, wat gril.” Buiten die Verenigde Koninkryk gebruik die Verenigde State en Kanada ook larweterapie in party mediese sentrums. Trouens, ’n chirurg wat in The Lancet aangehaal word, het gesê dat “daar baie meer pasiënte in die VSA is wat vra vir maaierterapie as wat daar dokters is wat bereid is om dit toe te pas”.
Maaierterapie is toevallig ontdek. “Dokters op die slagveld”, sê Science World, “het opgemerk dat soldate se wonde wat vol maaiers was, geneig was om gouer te genees as wonde daarsonder. Kort daarna is daar met maaierterapie begin.” En nou word dit in honderde hospitale in die Verenigde State en Europa gebruik.
[Voetnoot]
a Hierdie gebruik is nie dieselfde as die gebruik van bloedsuiers om bloed uit iemand te suig nie. Sien Die Wagtoring van 1 September 1982, bladsy 30.
[Prent op bladsy 22]
’n Aantal maaiers op ’n vinger (werklike grootte)
[Erkenning]
Picture copyright SMTL, http://www.smtl.co.uk/
[Prente op bladsy 22]
Voor
Ná
[Erkenning]
Photos by R. Sherman, University of California, Irvine