Hulle het hulle belofte nagekom!
ANTONIO, wat in sy finale skooljaar was, wou informeel vir sy klasmaats getuig. Hy het dus sy geskiedenisonderwyseres gevra om die video Jehovah’s Witnesses Stand Firm Against Nazi Assault te vertoon. Hoewel die onderwyseres skepties was, het sy ingestem en gesê dat sy die video die volgende dag sal vertoon.
“Aan die begin”, vertel Antonio, “het die onderwyseres met ’n meerderwaardige houding na die video gekyk; maar toe sy besef dat vooraanstaande geskiedkundiges die geskiedenis van Jehovah se Getuies in die konsentrasiekampe beskryf, het sy aandagtig geluister. Toe die video klaar was, het sy vir my dankie gesê dat ek haar gevra het om dit te vertoon.”
Gedurende die volgende geskiedenisperiode het die onderwyseres die werk van die Bibelforscher, soos Jehovah se Getuies destyds in Duitsland bekend gestaan het, probeer beskryf; maar sy het besef dat dit beter sou wees as Antonio dit doen. Antonio het die Getuies se rol in die gemeenskap en sommige van hulle leerstellings verduidelik. Hy het afgesluit deur te sê: “Dit spreek vanself dat mense nie by die kosbare boodskap wat ons verkondig, baat kan vind as hulle nie na ons luister nie, as hulle die deure in ons gesig toeklap of as hulle nie ons publikasies lees nie.”
Al Antonio se klasmaats het met hierdie stelling saamgestem, en die onderwyseres het ’n voorstel aan die klas gedoen. Wanneer die Getuies weer met hulle praat, sal hulle na die Getuies luister en hulle publikasies neem. Die klas het nog ’n hele ruk oor die video gepraat. Jy kan jou net voorstel hoe tevrede Antonio gedurende die volgende paar dae gevoel het toe hy sien hoe ’n hele paar van sy klasmaats met Wagtoringpublikasies in die klas aankom en hy elkeen van hulle glimlaggend hoor sê het: “Sien jy, ek het my belofte nagekom!”