Die Ontwaak! was die inspirasie vir ’n antirookplakkaat
DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN ITALIË
DIE Italiaanse Antikankerliga en ’n plaaslike koerant het onlangs in die stad Mortara in die noorde van Italië ’n kompetisie onder hoërskoolleerlinge gereël om ’n antirookplakkaat te ontwerp. Die 14-jarige Simona, een van Jehovah se Getuies, het verskeie nommers van die Ontwaak! geraadpleeg vir idees oor die gevare van tabak, veral die nommers van 8 Julie 1989 en 22 Mei 1995. Simona skryf: “Toe ek navorsing gedoen het, was die voorblaaie van hierdie nommers vir my baie treffend. Ek het ’n skedel met ’n sigaret in sy mond geteken soos die een wat ek in die Ontwaak! gesien het, en die titel op die voorblad het my die idee vir my slagspreuk gegee.” Haar slagspreuk was: “Rook—Dit maak miljoene mense dood om miljoene te maak.” Haar plakkaat was een van 250 wat vir die kompetisie ingeskryf is.
Hoewel Simona jonger as baie van die ander leerlinge in die kompetisie was, het sy die eerste prys gewen, wat ’n beurs van R1 900 ingesluit het. Simona het aan die takkantoor van die Wagtoringgenootskap geskryf om dankie te sê vir die treffende voorblaaie van die Ontwaak! wat haar die idees gegee het. Sy geniet dit om die Ontwaak! te lees, nie net weens die voorblaaie nie, maar ook weens die tydige en praktiese artikels oor gesondheid, aktuele gebeure en die uitdagings waarvoor jongmense te staan kom. Sy sluit haar brief soos volg af: “Ns.: Hou aan met die goeie werk!”
As jy graag meer inligting wil hê oor ander kwessies wat Christene raak, kan jy gerus by die plaaslike Koninkryksaal met Jehovah se Getuies in verbinding tree of die koepon hieronder instuur.
□ Stuur asseblief vir my meer inligting oor hoe ek die brosjure Wat vereis God van ons? kan kry.
□ Tree asseblief met my in verbinding in verband met ’n gratis tuisbybelstudie.