Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g99 5/22 bl. 16-17
  • ’n Besoek aan Viëtnam se Baai waar die draak gehardloop het

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • ’n Besoek aan Viëtnam se Baai waar die draak gehardloop het
  • Ontwaak!—1999
  • Soortgelyke materiaal
  • Shark-baai—’n mariene wonderwêreld
    Ontwaak!—2007
  • Ontdekking by Red Bay
    Ontwaak!—2005
  • Hedendaagse grotbewoners
    Ontwaak!—2000
  • Skoonheid weggesteek in die donker
    Ontwaak!—2004
Sien nog
Ontwaak!—1999
g99 5/22 bl. 16-17

’n Besoek aan Viëtnam se Baai waar die draak gehardloop het

EEN bedompige oggend het ons in Hanoi ’n bus gehaal en 165 kilometer oos gereis na een van die skilderagtigste plekke in Viëtnam, die wêreldberoemde Ha Long-baai—oftewel die Baai waar die draak gehardloop het. Ons het al dikwels van die baai se asemrowende skoonheid gehoor, en nou sou ons dit uiteindelik met ons eie oë sien.

Om twaalfuur het ons bus by die baai stilgehou. Maar ons was nog nie heeltemal by ons bestemming nie. Dit is nie net die smaraggroen water van Ha Long-baai wat dit so beroemd maak nie, maar ook die natuurskoon van die 3 000 eilande wat oor die 1 500 vierkante kilometer van die baai versprei is. Omdat elke eiland uniek is, wou ons ’n paar van hulle besoek. Ons het dus op ’n boot geklim, en kort voor lank het ’n onvergeetlike avontuur vir ons begin.

Ons het ongeveer ’n uur lank gevaar toe ons op ’n idilliese baai omring deur klein eilandjies afkom. Die manne op die boot het die anker laat sak. Dit was tyd om ons te verfris deur in die koel, liggroen water te swem! Ons geplas het gou ’n groep nuuskierige kinders se aandag getrek wat in hulle klein bootjies na ons toe geroei het. Die kinders en hulle gesinne woon almal in die baai op huisbote, oftewel jonke.

Jy het dalk al tot die gevolgtrekking gekom dat die inwoners van Ha Long-baai vissers is. Maar jy weet dalk nie dat hulle ook ’n kuns beoefen wat aan die uitsterf is nie—die kuns om seile te maak. Michael Buckley se Moon Travel Handbook on Vietnam sê: “Halong is een van die laaste plekke waar jonkseile nog met die hand gemaak word deur gesinne van seilmakers. Growwe katoenpanele word met sydraad aanmekaar gewerk, en elke naat word met die hand gedoen. Om te keer dat dit verrot of muf, word die klaargemaakte seil in ’n vloeistof gedoop wat van ’n beetagtige plant van die jamfamilie af kom. Die seil word drie of vier keer gedoop en gedroog, ’n proses wat die seil sy donkerrooi-taankleur gee.”

Wonder jy hoe Ha Long-baai, die Baai waar die draak gehardloop het, sy naam gekry het? Ons het nie enige drake op ons reis gesien nie! Maar ons het wel uitgevind dat die eilande van Ha Long-baai volgens legende geskep is deur ’n groot draak wat in die berge gewoon het. The Lonely Planet Guidebook on Vietnam verduidelik: “Terwyl [die draak] na die kus toe gehardloop het, het sy swiepende stert valleie en skeure in die land gekerf; toe hy in die see spring, het die dele wat deur sy stert oopgeruk is vol water geword, en net stukkies hoogliggende land kon nog gesien word.”

Die werklike monsters is natuurlik die wind en die water, wat hierdie eilande tot verskillende fatsoene en groottes gevorm het. As jy jou verbeelding gebruik, sal jy byvoorbeeld sien dat Hon Ga Tsjoi, die Veghaan-eilandjie, wel lyk soos twee hane wat baklei.

Ons was teen skemer terug by die hawe, en het alreeds uitgesien na die volgende dag se verkenningstog. Die volgende oggend ná ontbyt het ons op ’n seilboot weggevaar om ’n paar van die grotte, of spelonke, in die omgewing van nader te ondersoek. Mis wat oor die baai gehang het, het alles na ’n sprokieswêreld laat lyk. Ons het ’n hele paar grotte besoek. Een van hulle word genoem Hang Daoe Go—die Grot van die Houtpale. Dit bestaan uit drie kamers wat deur 90 trappies met mekaar verbind word. Hoe het die grot sy naam gekry? Die boek The Lonely Planet Guidebook on Vietnam verduidelik: “Die grot het sy Viëtnamese naam gekry van die derde kamer, wat na bewering gedurende die 13de eeu gebruik is om die skerp bamboespale te bêre wat deur [die Viëtnamese oorlogsheld] Tran Hoeng Dao in die bedding van die Batsj Dang-rivier geplant is” sodat hulle die invallende Koeblai Khan kon uitoorlê.

Ons het opgeklim tot by die grot en toe omgedraai om na die toneel onder ons te kyk. Wat ons gesien het, was werklik skouspelagtig. Gou, kry die kamera! Met die grot se stalaktiete op die voorgrond en ons boot op die agtergrond wat saggies in die turkooisgroen baai wieg, sou dit die volmaakte foto wees! Ha Long-baai is werklik ’n fotograaf se paradys en ’n kunstenaar se droom.

Later in die dag het ons in ’n klein motorboot geklim om ’n groot eiland van nader te gaan beskou. Skielik was dit stikdonker om ons. Dit was asof die berg ons heel ingesluk het! Ons was besig om deur ’n grot te vaar. Maar dit was nie lank voordat ons aan die ander kant uitgekom het nie. Tot ons verbasing was ons op ’n groot meer. Daar was hoë kalksteenkranse aan elke kant. Ons het plante gesien wat teen die kranse groei. Die manne op die boot het die enjin afgeskakel. Die stilte is net deur voëlgeluide verbreek. Ons sal daardie rustige oomblik nog lank onthou.

Voor ons ons oë kon uitvryf, was dit tyd vir ons om na Hanoi terug te gaan. Ons uitstappie was te kort. Ons het egter baie herinneringe gehad om saam met ons te neem—ruwe eilandpieke, jonke op die water en veral Ha Long-baai, wat maar net een van die pragtige plekke in Viëtnam is.

Ons sien uit daarna om ander interessante plekke in hierdie mooi land te sien. Ons dank die Skepper, Jehovah God, dat hy so ’n verskeidenheid en prag in die skepping voorsien het en vir sy belofte dat die hele aarde eendag so ongerep soos Ha Long-baai sal wees.—Bygedra.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel