’n Unieke Wes-Afrikaanse pennie
Deur Ontwaak!-medewerker in Sierra Leone
HET jy al ooit geld gesien wat so lyk? Dit is ’n Kissi-pennie. Party van hierdie munte word in die Sierra Leone- Nasionale Museum, in Freetown, uitgestal. Die inligtingskaart lui: “Hierdie eienaardige geldsoort is eie aan Sierra Leone en Liberië. Dit was tot 1945 nog in die provinsies in omloop. Aangesien dit die simbool van ’n kop (ronde kant) en voet (skerp kante) was, is daar gesê dat dit geld met ’n gees is. Wanneer ’n hoofman gesterf het, is baie van hierdie pennies gebreek en in sy graf gesteek. Die laaste opgetekende wisselkoers was 50 Kissi vir een Wes-Afrikaanse sjieling.”
Volgens die boek The African Slave Trade, deur Basil Davidson, is slawe lank gelede vir “stukke yster” gekoop. Was dit Kissi-pennies? Party kenners meen so. Ander stem nie saam nie. Maar al is hierdie munte nie gebruik om slawe te koop nie, is hulle beslis gebruik om vroue te koop.
Soos vroeër gemeld is, is hierdie munte soms vir godsdiensdoeleindes gebruik, veral in verband met die onskriftuurlike opvatting van die onsterflikheid van die siel. Wanneer iemand gesterf het, is dit as gepas beskou om hom in sy geboortedorp te begrawe. As hy ver daarvandaan gesterf het, was dit natuurlik nie altyd maklik om die lyk huis toe te bring nie. Die oplossing was om die siel deur middel van ’n Kissi-pennie te vervoer.
’n Familielid van die afgestorwene sou na die dorp reis waar hy gesterf het en ’n pennie by die toordokter kry wat die siel van die oorledene glo deur middel van ’n towerspreuk daaraan heg. Die familielid moes dan die siel (die pennie) terug huis toe dra en in die voorvaderlike graf begrawe.
Die familielid het die pennie in ’n skoon lap toegedraai en sy reis begin, wat in stilte voltooi moes word. Mense het geglo dat die siel die pennie sou verlaat en sou terugkeer na die dorp waar die persoon gesterf het indien die familielid langs die pad met iemand gepraat het. Dan sou die familielid weer moes teruggaan om dit te gaan haal—en hy sou die toordokter ongetwyfeld weer moes betaal!
As dit nodig geword het om gedurende die reis te praat, kon die familielid dit doen as hy, voordat hy begin praat het, die pennie versigtig neergesit het, maar nie op die grond nie. Sodra die pennie weer opgetel is, moes hy weer stilbly.
Kissi-pennies was 33 tot 36 sentimeter lank en gevolglik glad nie geskik om in ’n sak of beursie te dra nie. Maar die vorm daarvan was destyds prakties omdat dit maklik in bondels vasgemaak en op die kop gedra kon word. Ryk mense het hierdie pennies in hulle solder gebêre. Wanneer die klimaatstoestande reg was, het kondensasie op die geld gevorm en na onder gedrup. Die hoeveelheid “reënval” was ’n goeie aanduiding van die rykdom van die persoon in wie se huis jy gesit het.