Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g98 11/22 bl. 6-7
  • Van die 29ste verdieping af gesien

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Van die 29ste verdieping af gesien
  • Ontwaak!—1998
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n “Groot taak afgehandel”
    Ontwaak!—1998
  • Menseregte vir almal—’n Wêreldwye werklikheid!
    Ontwaak!—1998
  • Hedendaagse menseregte en onregte
    Ontwaak!—1998
  • Regte sonder verantwoordelikhede?
    Ontwaak!—1999
Sien nog
Ontwaak!—1998
g98 11/22 bl. 6-7

Van die 29ste verdieping af gesien

WANNEER jy op die 29ste verdieping van die Verenigde Nasies se gebou in die stad New York uit die hysbak klim, wys ’n klein blou teken waar die Kantoor van die Hoë Kommissaris vir Menseregte (OHCHR) is. Hierdie skakelkantoor verteenwoordig die hoofkantoor van die OHCHR in Genève, Switserland—die middelpunt van die VN se menseregtebedrywighede. Hoewel Mary Robinson, die Hoë Kommissaris vir Menseregte, aan die hoof van die OHCHR in Genève staan, is Elsa Stamatopoulou, ’n gebore Griek, hoof van die kantoor in New York. Vroeër vanjaar het mev. Stamatopoulou goedgunstig ’n onderhoud aan ’n Ontwaak!-redaksielid toegestaan en oor vyf dekades van menseregtebedrywighede teruggekyk. Hier volg ’n paar dele uit die onderhoud.

V. Watter vooruitgang meen u is gemaak wat die bevordering van menseregte betref?

A. Ek sal vir jou drie voorbeelde van vooruitgang noem: Eerstens, 50 jaar gelede was die konsep van menseregte glad nie op die internasionale agenda nie; vandag is dit alomteenwoordig en in werking. Regerings wat ’n paar dekades gelede nog nooit van menseregte gehoor het nie, praat nou daaroor. Tweedens, ons het nou ’n internasionale regskode, of wetboek, wat uit tallose konvensies saamgestel is wat swart op wit vir regerings sê watter verantwoordelikhede hulle teenoor hulle onderdane het. [Sien die venster “Die Internasionale Verklaring van Menseregte”, op bladsy 7.] Dit het baie jare van harde werk geverg om hierdie kode saam te stel. Ons is uiters trots daarop. Die derde voorbeeld is dat meer mense as ooit tevore vandag aan menseregte-organisasies behoort en hulle duidelik oor menseregte-aangeleenthede kan uitspreek.

V. Watter struikelblokke is daar?

A. Aangesien ek al 17 jaar lank met menseregteprogramme van die VN werk, besef ek natuurlik dat ons met frustrerende probleme te kampe het. Die grootste hiervan is dat regerings menseregte dikwels as ’n politieke aangeleentheid beskou in plaas van ’n humanitêre aangeleentheid. Hulle is dalk onwillig om hulle na menseregteverdrae te skik omdat hulle polities bedreig voel. In daardie gevalle verander menseregteverdrae in dooie letters. Nog ’n terugslag was die onvermoë van die VN om growwe menseregteskendings in plekke soos die eertydse Joego-Slawië, Rwanda en, onlangser, in Algerië te voorkom. Die feit dat die VN nie die massamoorde wat in daardie lande gepleeg is, kon voorkom nie, is ’n blyk van ’n ontsettende onvermoë. Die meganismes vir menseregte is daar, maar iemand moet dit in werking stel. Wie sal dit doen? As die belange van lande wat beskerming kan verleen nie in die gedrang is nie, is daar dikwels geen politieke beweegrede om menseregteskendings stop te sit nie.

V. Wat dink u hou die toekoms in?

A. Ek sien ’n hindernis in die weg wat lei na menseregte vir almal, asook goeie vooruitsigte. Iets wat my kwel, is die gevaar wat ontstaan weens die vorming van ’n wêreldomvattende ekonomie, wat veroorsaak dat groot maatskappye hulle in lande vestig waar arbeid goedkoper is. As dit nodig is, kan ons vandag regerings die skuld gee vir menseregteskendings en druk op hulle uitoefen. Maar wie kan ons die skuld gee vir skendings wanneer multilaterale handelsooreenkomste die mag al hoe meer van regerings af na die ekonomiese magte van die wêreld verskuif? Aangesien ons nie hierdie ekonomiese magte beheer nie, verswak dit die posisie van intergoewermentele organisasies soos die VN. Uit die oogpunt van menseregte is hierdie neiging vernietigend. Dit is nóú uiters belangrik om die private sektor by menseregte-organisasies te betrek.

V. En die goeie vooruitsigte?

A. Die ontwikkeling van ’n wêreldwye menseregtekultuur. Ek bedoel dat ons mense deur opvoeding meer van menseregte bewus moet maak. Dit is natuurlik ’n ontsaglike uitdaging omdat dit ’n verandering in denkwyse behels. Daarom het die VN tien jaar gelede ’n wêreldwye openbare inligtingsveldtog van stapel gestuur om mense oor hulle regte en lande oor hulle verantwoordelikhede in te lig. Die VN het daarbenewens die jare 1995 tot 2004 tot die “Dekade vir Opvoeding oor Menseregte” verklaar. Opvoeding sal hopelik mense se verstand en hart verander. Dit klink dalk amper soos die Evangelie, maar wat opvoeding oor menseregte betref, is ek beslis ’n gelowige. Ek hoop dat die wêreld die menseregtekultuur in die volgende eeu as sy ideologie sal aanneem.

[Venster op bladsy 7]

Die Internasionale Verklaring van Menseregte

Behalwe die Universele Verklaring van Menseregte is daar ook ’n Internasionale Verklaring van Menseregte. Hoe hou hulle met mekaar verband?

Wel, as ’n mens die Internasionale Verklaring van Menseregte vergelyk met ’n boek wat vyf hoofstukke het, dan kan die Universele Verklaring vergelyk word met hoofstuk 1. Hoofstukke 2 en 3 is die Internasionale Verdrag oor Burgerlike en Politieke Regte en die Internasionale Verdrag oor Ekonomiese, Maatskaplike en Kulturele Regte. En hoofstukke 4 en 5 bevat elk ’n Opsionele Protokol.

Hoewel die Universele Verklaring blykbaar sedelike waarde het, en vir nasies sê wat hulle behoort te doen, is hierdie vier bykomende dokumente wetlik van krag, en sê hulle vir nasies wat hulle moet doen. Alhoewel daar in 1949 met hierdie dokumente begin is, het dit dekades geneem voordat hulle almal in werking getree het. Vandag vorm hierdie vier dokumente, tesame met die Universele Verklaring, die Internasionale Verklaring van Menseregte.

Behalwe hierdie Internasionale Verklaring het die VN meer as 80 ander menseregteverdrae bekragtig. “Dit is dus verkeerd om te dink dat die menseregteverdrae in die Internasionale Verklaring belangriker as die ander is”, sê ’n deskundige op die gebied van menseregte. “Die Konvensie oor die Regte van die Kind van 1990 is die VN se dokument wat deur die meeste lande bekragtig is, en tog maak dit nie deel uit van die Internasionale Verklaring nie. Die term ‘Internasionale Verklaring van Menseregte’ word nie soseer as ’n formele konsep gebruik nie, maar is meer vir publisiteit geskep. En jy stem seker saam dat dit inderdaad ’n treffende frase is.”a

[Voetnoot]

a Toe hierdie artikel geskryf is, het 191 lande (waarvan 183 lidlande van die VN is sowel as 8 lande wat nie lede is nie) al die Konvensie oor die Regte van die Kind bekragtig. Slegs twee lande het dit nie bekragtig nie: Somalië en die Verenigde State.

[Prent op bladsy 6]

Elsa Stamatopoulou

[Erkenning]

UN/DPI photo by J. Isaac

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel