“Verkwikkend in hierdie onstuimige wêreld”
DIT is hoe die 22-jarige Igor van Joego-Slawië verlede jaar Die Wagtoring in ’n brief beskryf het. Hy het verduidelik:
“Ek het ’n paar maande gelede Die Wagtoring begin lees. Ek lees nuwe sowel as ouer nommers van Die Wagtoring (van 1991 af), en ek hou baie daarvan. Ek dink ’n tydskrif soos hierdie is werklik verkwikkend in hierdie onstuimige wêreld.
“Ek het die artikels wat julle oor sendelinge gepubliseer het veral interessant gevind, en dit is hoekom ek vir julle skryf. Eerstens wil ek graag weet of ek een van Jehovah se Getuies kan word. Ek moet vir julle sê dat ek ’n Katoliek is, maar ek dink dat julle godsdiens baie beter as enige ander een is, veral omdat geen ander godsdiens soveel moeite doen om God se Woord te verkondig nie.
“As die feit dat ek ’n Katoliek is nie ’n struikelblok is nie, sal ek graag wil weet hoe ek een van Jehovah se Getuies kan word. Ek het net een begeerte. As dit enigsins moontlik is, wil ek graag in Belgrado gedoop word. Indien dít moontlik is, sê asseblief vir my wanneer ek kan kom en of daar enige voorvereistes is om gedoop te word. Indien my begeerte nie prakties uitvoerbaar is nie, gee asseblief vir my inligting oor waar ek gedoop kan word en wie ek daaroor kan nader.
“Dan wil ek ook graag weet hoe ’n mens ’n sendeling kan word. Kan ek direk nadat ek gedoop is met opleiding vir sendingdiens begin? Is dit nodig om eers ’n sekere aantal jare in die bediening te wees? . . .
“Neem asseblief my brief ernstig op. Ek dink dat sendingdiens die beste manier is om die goeie nuus van God se Koninkryk te verkondig.”
Op bladsy 2 van elke nommer van Die Wagtoring word die doel van die tydskrif verduidelik: “Dit troos alle volke met die goeie nuus dat God se Koninkryk binnekort diegene gaan vernietig wat hulle medemens verdruk en dat dit die aarde in ’n paradys gaan omskep.” As jy meer inligting wil hê oor hoe jy ’n eksemplaar kan ontvang of as jy wil hê dat iemand jou tuis moet besoek om ’n gratis Bybelstudie met jou te hou, kan jy gerus skryf aan Wagtoring, Privaatsak X2067, Krugersdorp, 1740, Suid-Afrika, of na die gepaste adres op bladsy 5.