Ontwaak!—“’n noodsaaklike instrument van onskatbare waarde”
“DANKIE vir julle artikel met die titel ‘RSD—’n raaiselagtige, pynlike steurnis’, in die nommer van 8 September 1997. As ’n hofverslaggewer word daar dikwels van my verwag om van getuienis oor talle uiteenlopende en ingewikkelde sake verslag te doen. Ek het onlangs ’n berig geskryf oor die verklaring van ’n narkotiseur wat in pynbeheer spesialiseer. Die getuienis het geheel en al oor RSD [reflekssimpatiese distrofie] gehandel. Omdat ek gereeld die Ontwaak! lees, was ek onmiddellik bekend met die terminologie en behandelingsmetodes, wat alles duidelik in die nommer van September uiteengesit is. Ek het later hierdie artikel vir party van die prokureurs gewys wat by die saak betrokke was.
“Ek beskou die Ontwaak! as ’n noodsaaklike instrument van onskatbare waarde in my voortdurende opleiding. Dit hou my baie goed op hoogte van oneindig baie onderwerpe.—G. M. A.”
As jy graag meer inligting wil hê oor hoe jy een van die jongste nommers van die Ontwaak! kan ontvang, wat nou in 81 tale uitgegee word, kan jy gerus met Jehovah se Getuies in jou omgewing in aanraking kom of skryf na die naaste adres op bladsy 5.