Kom, luister na die gratis openbare toespraak “Die enigste weg wat na die ewige lewe lei”
Byna 20 jaar gelede het dr. Alvin Silverstein in sy boek Conquest of Death geskryf: “Ons sal die geheim van die lewe ontrafel. Ons sal verstaan . . . hoe ’n persoon verouder.” Hy het selfs voorspel: “Daar sal nie meer ‘ou’ mense wees nie, want die kennis wat die oorwinning van die dood moontlik sal maak, sal ook ewige jeug teweegbring.”
Meer onlangs het ’n artikel in The New York Times Magazine van 28 September 1997 berig gelewer omtrent die optimisme oor “lewensverlenging” van ’n aantal gesondheidsbewuste mense wat entoesiasties is oor die potensiaal van die hedendaagse tegnologie. “Ek glo werklik dat ons die eerste geslag kan wees wat vir ewig lewe”, het ’n entoesias gesê. ’n Ander een was glo “houtgerus in sy oortuiging . . . dat genetiese versterkingstegnieke betyds beskikbaar sal word om [hierdie geslag] te red deur veroudering te stuit, en dit dalk om te keer”. Verbaas sulke optimisme jou?
Glo jy dat die mens deur middel van sy tegnologie die dood sal oorwin? Of is daar ’n ander manier om vir ewig te kan lewe? Miljoene mense regoor die wêreld is daarvan oortuig dat die ewige lewe werklik verwesenlik kan word. Vind uit hoe dit moontlik is deur die uitnodiging aan te neem en na die opwindende toespraak “Die enigste weg wat na die ewige lewe lei” te kom luister, wat ’n hoogtepunt van die “Goddelike lewenswyse”-streekbyeenkoms van Jehovah se Getuies sal wees. Jy kan daarna luister by ’n byeenkoms in jou omgewing, want van hierdie maand af sal dit by honderde streekbyeenkomste oor die hele wêreld gehou word.
Tree in verbinding met die plaaslike Getuies van Jehovah of skryf aan die uitgewers van hierdie tydskrif om uit te vind waar die naaste streekbyeenkoms gehou sal word.