Instrumente van ondenkbare marteling
LAAT die woorde “boei”, “marteling” en “teregstelling” jou ril? Vir die derduisende slagoffers van die Inkwisisie en die heksejagte in Europa (tussen die 13de en die 19de eeu) was dit ’n pynlike werklikheid. Die instrumente wat hier uitgebeeld word, kom uit daardie tyd en behoort aan ’n museum in Rüdesheim aan die Ryn, in Duitsland. Dit gee ons ’n idee van die slagoffers se lyding.
Die arme slagoffer het onbeskryflike foltering deurgemaak terwyl hy tydens ondervraging sonder klere op die Inkwisisiestoel gesit het, wat vol skerp dorings was. Die slagoffer se arms, bene of gewrigte is deur die knieskroewe uitmekaargeskeur of vergruis. Die katpoot is gebruik om sy vlees aan repe te skeur; geen deel van die liggaam is ontsien nie. Die doringkraag het vretende sere aan die slagoffer se nek, skouers en kakebeen veroorsaak, wat gou tot bloedvergiftiging en die dood gelei het.
Inkwisiteurs wat deur die Rooms-Katolieke Kerk aangestel is, het hierdie en soortgelyke instrumente gebruik om af te reken met andersdenkendes—meestal gewone mense wat reeds verdoem is en dan deur marteling gedwing is om “belydenis” te doen. Trouens, tydens die pouslike Inkwisisie wat die Waldense geraak het, is die martelinstrumente selfs met gewyde water besprinkel.
Die Christendom dra ’n swaar skuldlas vir die Inkwisisie. Die geskiedskrywer Walter Nigg verduidelik: “Die Christendom sal geen verdere seëninge ontvang totdat dit uiteindelik—openlik en met diepe oortuiging—die sondes bely wat tydens die Inkwisisie gepleeg is en elke vorm van geweld in verband met godsdiens opreg en onvoorwaardelik afsweer nie.”
[Prent op bladsy 31]
Inkwisisiestoel
Knieskroewe
Doringkraag
Katpoot
[Erkenning]
Alle foto’s: Mittelalterliches Foltermuseum Rüdesheim/Rhein