Kners jy op jou tande?
SEDERT die vroegste tye al kners mense op hulle tande wanneer hulle gespanne is. Die Bybel gebruik dikwels die gekners van tande om woede en angs aan te dui (Job 16:9; Matteus 13:42, 50). In vandag se bose en spanningsvolle wêreld kners miljoene mense letterlik op hulle tande, en die meeste is nie eens daarvan bewus dat hulle dit doen nie. Hulle is dalk besig om hulle tande weg te slyt.
Waarom kners sommige mense op hulle tande? Die oorsake is menigvuldig en word nog nie ten volle verstaan nie. Maar in sommige gevalle wil dit voorkom of emosionele spanning ’n heel waarskynlike oorsaak is. Die UC Berkeley Wellness Letter sê: “Mense wat op hulle tande kners, sê dikwels dat hulle huweliks- of finansiële probleme ondervind, dat hulle besig is met finale eksamens, dat hulle bang is dat hulle hulle werk sal verloor of dat hulle onder ’n ander vorm van druk verkeer.” Ander moontlike oorsake en bydraende faktore sluit foutiewe kontak tussen die bo- en ondertande, slaapversteurings of alkoholverbruik in. Die Wellness Letter stel dus voor dat lyers minder alkohol probeer inneem; dat hulle eenvoudige stappe doen om te ontspan voordat hulle gaan slaap, soos om ’n warm bad te neem, of dat hulle met ’n vriend of vertroude raadgewer oor sorgwekkende probleme praat.
Jy merk dalk op dat jy gedurende die dag op jou tande byt of hulle teen mekaar skuur. Maar hoe kan jy uitvind of jy dit doen terwyl jy slaap? Chroniese knersery, bekend as bruksisme, kan soms ’n geluid voortbring wat hard genoeg is om iemand anders wat in dieselfde kamer slaap, wakker te maak. Jy word moontlik wakker met slape wat pyn of jou kakebeen maak dalk klikgeluide.a Jou tandarts merk miskien selfs op dat jou tande erg geslyt is. Hy kan maatreëls voorstel wat ’n mate van verligting sal bied, soos ’n plaatjie wat jy snags oor jou tande kan dra. Hoewel so ’n mondskerm nie ontwerp is om te keer dat jy op jou tande kners nie, kan dit jou tande teen verdere beskadiging beskerm. In elk geval, ontspan! Hoe minder jy jou bekommer, hoe minder kners jy dalk op jou tande.
[Voetnoot]
a Sien asseblief die Ontwaak! van 22 Junie 1991, bladsye 20-2, vir verdere inligting.