“’n Gaping tussen geestelikes en leke wat al hoe wyer word”
“DAAR is in Amerikaanse evangeliese kerke ’n gaping tussen geestelikes en leke wat al hoe wyer word”, sê Robert K. Johnston, ’n professor van teologie en kultuur. In Ministerial Formation, ’n tydskrif van die Wêreldraad van Kerke, meld hy party van die faktore wat hierdie vervreemding veroorsaak: Namate gesinsdruk meer word, wil predikante volgens roosters werk wat ooreenkom met dié van “dokters wat oor naweke beurte maak om te werk”. As die predikant wel ekstra ure werk, verwag hy om vir die werk vergoed te word. “Namate etiese en regsdruk toeneem”, sê die professor dat teologiese kweekskole boonop hulle gegradueerdes waarsku om probleme te voorkom deur “hegte vriende net onder hulle ‘klub’ van ander geestelikes” te hê en om hulle gemeentelede as “kliënte” te behandel. Daarenteen is dit nie verbasend nie dat baie gemeentelede hulle predikante beskou as persone wat aan ’n elitegroep behoort wat nie in voeling is met die behoeftes en probleme van die gemiddelde kerkganger nie.
Watter soort predikant kan die gaping nouer maak? Een studie wat ontleed het waarom predikante in hulle bediening misluk, het gevind dat gemeentelede nie ’n predikant se akademiese kennis en professionele vaardighede as noodsaaklik beskou nie. Kerklidmate wil nie ’n intellektuele reus, ’n goeie spreker of ’n vaardige administrator hê nie. Hulle wil bowenal hê dat hulle predikant ’n “man van God” moet wees wie se woorde en dade ooreenstem. As daardie eienskap ontbreek, sê professor Johnston, sal “geen hoeveelheid inligting wat oorgedra word of vaardigheid wat getoon word” die gaping oorbrug nie.
Wat sê die Bybel aangaande die vereistes vir ’n ouer man in die gemeente? “Die opsiener moet dus onberispelik wees, die man van een vrou, matig in gewoontes, gesond van verstand, ordelik, gasvry, bekwaam om te onderrig, nie ’n dronk bakleier nie, nie ’n slaner nie, maar redelik, nie strydlustig nie, nie ’n liefhebber van geld nie, iemand wat sy eie huisgesin op voortreflike wyse beheer, wat kinders met alle erns in onderworpenheid het . . . Bowendien moet hy ook ’n voortreflike getuienis hê van mense wat buite is, sodat hy nie in smaad en ’n strik van die Duiwel val nie.”—1 Timoteus 3:2-4, 7.