Van ons lesers
Radio Baie dankie vir die uitstekende artikel “Die radio—’n Uitvindsel wat die wêreld verander het” (8 Oktober 1996). Ek is 18 jaar oud, en ek hou baie daarvan om na die radio te luister. Ek het die bespreking oor die ontwikkeling van die radio baie interessant gevind. Dit was veral interessant om te leer dat Jehovah se Getuies in die verlede die radio gebruik het om die goeie nuus van die Koninkryk te verkondig.
F. B., Italië
Vlinders Ek het alleen in ’n plaasgebied getuieniswerk gedoen en het besluit om die aandag te vestig op die artikel “’n Delikate dog geharde reisiger” (8 Oktober 1996). Ek het ’n boer ontmoet, ’n baie groot man—nie die soort persoon met wie ek gewoonlik oor vlinders sou praat nie! Maar nadat hy die pragtige foto’s gesien het, het hy die tydskrifte geneem en gesê dat daar talle seldsame vlinderspesies op sy plaas gevind kan word. Toe ek daar weg is, het sy vrou reeds die tydskrif met groot belangstelling begin lees. Soos die vlinder sal ek dus teruggaan—en hulle meer oor God se Koninkryk leer!
B. B., Engeland
Dit was een van die genotvolste artikels wat ek nog gelees het. Net ’n paar dae nadat ek die tydskrif ontvang het, het ek opgemerk dat ons bome vol koningvlinders was! Ek het God gedank vir sy wonderlike skepping.
S. M., Verenigde State
Boosheid toegelaat Dankie vir die artikel “Jongmense vra . . . Waarom laat God toe dat slegte dinge gebeur?” (22 Oktober 1996). Nadat ek eensaamheid, vernedering en groot hartseer moes verduur in my huwelik van 18 jaar met ’n ontroue man wat geen respek vir vroue het nie, was dit soos genesende olie toe ek lees dat Jehovah ’n liefdevolle God is wat vir ons omgee. Dit was asof Jehovah my self vertroos het.
H. T., Verenigde State
Sigarette Ek wil graag iets sê oor die artikel “Sigarette—Wys jy dit van die hand?” (22 Oktober 1996). Hoe jammer tog dat ek dit nie jare gelede gehad het nie! My man het in hierdie jaar aan longkanker gesterf. Hy was 50 jaar lank ’n strawwe roker. Ek het nie geweet dat sigarette so ’n verwoestende uitwerking het nie.
H. G., Duitsland
Akee Julle artikel “Akee—Jamaika se nasionale gereg” (22 Oktober 1996) was uitstekend. As ’n inboorling van Jamaika het ek nog nooit akee aan enigiemand voorgesit wat gesê het dat hy nie daarvan hou nie. Ek moedig enigiemand aan wat Jamaika gaan besoek om dit te probeer!
E. B., Verenigde State
Hoe bly was ek tog om nog ’n bespreking van ons Skepper se werke te sien! Akeebome is volop hier in Ghana en dien in sommige dorpe as skaduweebome. In die woud groei hulle baie hoog. Vlermuise, papegaaie en ander voëls gaan sit op hulle takke. Die akeeboom is nóg ’n wonderlike gawe van God.
P. A. E., Ghana
Perde Ek móés eenvoudig skryf om my waardering uit te spreek vir die artikel “Hulle bewerk die grond nog steeds met perde” (22 Oktober 1996). Ek is baie lief vir diere, en dit het iets binne-in my hart geraak. Ek het gehou van die manier waarop julle die verhouding wat die mens met diere kan hê, bespreek het, veral die deel oor hoe ’n mens “gesprekke” met jou perde kan geniet.
V. H., Verenigde State
Ek lewe al my hele lewe lank in ’n stadsgebied, en my begeerte om na aan Jehovah se skepping te wees, moet nog bevredig word. Deur julle artikel te lees, kon ek in my verbeelding met perde werk. Baie dankie vir sulke mooi artikels.
L. A. D., Verenigde State