Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g97 6/8 bl. 16-17
  • Osteoporose—die ‘brosbeen’-siekte

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Osteoporose—die ‘brosbeen’-siekte
  • Ontwaak!—1997
  • Soortgelyke materiaal
  • Osteoporose—’n Stille siekte
    Ontwaak!—2010
  • Inhoudsopgawe
    Ontwaak!—2010
  • Hoe om die menopouse te hanteer
    Ontwaak!—1995
  • Ons beskou die wêreld
    Ontwaak!—2002
Sien nog
Ontwaak!—1997
g97 6/8 bl. 16-17

Osteoporose—die ‘brosbeen’-siekte

“Osteoporose is ’n toestand waarin die hoeveelheid beenweefsel so min is dat geringe druk die bene maklik laat breek. Iemand met osteoporose kan as gevolg van ’n val op die ys ’n handgewrig of heup breek of kan as gevolg van ’n vriendelike drukkie ’n gebreekte rib opdoen. . . . Trouens, die hoeveelheid beenweefsel kan so min wees dat ’n mens ’n breuk in jou ruggraat kan veroorsaak deur bloot die gewig van jou liggaam te dra.”—“Osteoporosis—A Guide to Prevention & Treatment”, deur John F. Aloia, M.D.

LY JY aan osteoporose? Hierdie beenverdunningsiekte kom algemeen onder postmenopousale vroue voor. Maar dit kan ook by jonger vroue sowel as by mans ontwikkel. Volgens die Amerikaanse Nasionale Gesondheidsinstitute tas osteoporose “15-20 miljoen mense in die Verenigde State” aan. In die Verenigde State is osteoporose elke jaar verantwoordelik vir ongeveer 1,3 miljoen breuke in mense wat 45 jaar en ouer is. Dit kos jaarliks $3,8 miljard (R17,8 miljard).

Health Tips, ’n publikasie van die Kaliforniese Mediese Opvoedkunde- en Navorsingsvereniging, verduidelik: “Hoewel die simptome van osteoporose die opmerklikste in latere jare is, begin die proses wat die bene verswak eintlik 30-40 jaar voor die eerste breuk opgedoen word. Ná die ouderdom van 35 begin mans en vrouens beenmassa verloor. Namate die bene ligter en dunner raak, kan breuke makliker opgedoen word en neem dit dalk lank om gesond te word omdat die liggaam nie meer nuwe been so maklik soos voorheen kan vervaardig nie. Die presiese oorsaak van osteoporose is onbekend, maar onvoldoende kalsium en vitamien D in die dieet, verlaagde estrogeenvlakke in vroue en te min oefening kan alles tot die ontwikkeling daarvan bydra.”

Die boek Understanding Your Body—Every Woman’s Guide to a Lifetime of Health sê dat een van die algemene simptome wat met menopouse gepaardgaan die verlies aan beensterkte is. Dit sê: “Osteoporose, letterlik poreuse bene, is ’n algemene en vername gesondheidsprobleem vir vroue ná die menopouse.”

Navorsing dui daarop dat osteoporose dalk voorkombaar sowel as behandelbaar is. ’n Voorsorgmaatreël is om toe te sien dat die liggaam die regte hoeveelheid kalsium het sowel as vitamien D, wat noodsaaklik is vir kalsiumopname. Nog ’n voorsorgmaatreël is gereelde gewigdraende oefeninge, soos om te stap of te draf.

Dr. Carol E. Goodman het in Geriatrics gesê: “Postuurverbetering en versterkende oefeninge moet voorgeskryf word—en ons moet net so gesteld wees op hierdie voorskrifte as wat ons is op voorskrifte vir medisyne. ’n Ideale oefenprogram vir ’n ouer osteoporosepasiënt kan maklik wees om te verstaan en eenvoudig en veilig wees om te volg.”

Hoewel osteoporose nie genees kan word nie, raak nuwe middels daarvoor beskikbaar. Daarbenewens kan dit voorkom word deur die regte voeding, genoeg oefening en, vir sommige, hormoonvervangingsterapie. Vir die grootste doeltreffendheid moet daar met hierdie maatreëls begin word voordat beenverlies intree, en dit moet lewenslank volgehou word.

[Venster op bladsy 17]

Beskerming teen osteoporose

1. Kalsium

2. Vitamien D

3. Sonskyn

4. Goeie liggaamshouding

5. Rugsorg-voorsorgmaatreëls

6. Oefening

7. Om nie te rook nie

[Venster op bladsy 17]

Kalsium in algemene voedselsoorte

Voedselkalsium (milligram)

Vetvrye melk, 1 koppie300

Cheddar-kaas, 1 blokkie van 2,5 sentimeter130

Jogurt, 1 koppie300

Beesvleis, hoender, vis, 170 gram30-80

Ingemaakte salm, 85 gram170

Brood, graansoorte, rys, 1 koppie20-50

Tofoe (sojawrongel), 100 gram150

Amandels, 1/2 koppie160

Okkerneute, 1/2 koppie50

Broccoli, 1 stingel150

Spinasie, 1 koppie200

Raapblare, 1 koppie250

Die meeste ander groentesoorte, 1 koppie40-80

Appelkose, gedroog, 1 koppie100

Dadels, ontpit, 1 koppie100

Rabarber, 1 koppie200

Die meeste ander vrugte, 1 koppie20-70

Geneem uit Understanding Your Body, deur Felicia Stewart, Gary Stewart, Felicia Guest en Robert Hatcher, bladsy 596.

[Venster op bladsy 17]

Sommige faktore wat bydra tot osteoporose

Oorerflikheidsfaktore

Van die vroulike geslag

Nie-swart

Noord-Europese voorouers

Ligte gelaatstrekke

Skraal

Klein (1,57 meter of minder)

Lewenstylfaktore

Buitenshuise sonlig, minder as drie uur per week

Lae kalsiuminname

Hoë kafeïen- en/of fosfaatinname

Geneesmiddels

Teensuurmiddels wat aluminium bevat

Tiroïed of levotiroksien

Steroïed (kortisoon)

Dilantien (langdurige behandeling)

Furosemied (ontwateringsmiddel)

Mediese probleme

Vroeë of premature menopouse

Amenoree (maandstondafwesigheid)

Anorexia nervosa

Hipertireose (ooraktiewe skildklier)

Niersiekte of -stene

Diabetes

Gebrek aan laktase (melkonverdraagsaamheid)

Ingewandsiekte (dikdermontsteking, kronkeldermontsteking)

Alkoholisme

Om langer as drie weke bedlêend of onbeweeglik te wees

Gewrigsrumatiek

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel