Van ons lesers
Om pret te hê Ek is 12 jaar oud, en ek het die artikel “Jongmense vra . . . Waarom het ander jongmense al die pret?” (22 Julie 1996) werklik geniet. Ek het voorheen dieselfde vraag gevra. By ons skool kan jy partytjies en danse bywoon, asook aan ander bedrywighede deelneem. Ek wou al dikwels gaan. Maar die artikel het my help besef dat ek teenoor Jehovah aanspreeklik is vir die keuses wat ek maak. Ek sal dus met my Christenvriende omgaan.
A. S., Verenigde State
Ek het al soos [die Bybelskrywer] Asaf gevoel, net soos julle in die artikel bespreek het. Hierdie artikel het my die bykomende krag gegee wat ek nodig het om probleme by die skool die hoof te bied.
A. S., Japan
Sommige jongmense voel weliswaar uitgesluit of dat hulle iets ontsê word omdat hulle nie “toegelaat” word om wêreldse partytjies by te woon nie. Maar nie al die kinders van Jehovah se Getuies voel so daaroor nie! Persoonlik word ek gewalg deur baie van die dinge wat by wêreldse partytjies plaasvind, en my Christenvriende voel dieselfde daaroor. Ons—en ongetwyfeld baie ander—voel nie dat ons iets ontsê word nie!
C. H., Verenigde State
Kroegomgewing Ek skryf om vir julle te sê hoe baie ek die artikel “Geestelike blomme in ’n kroegomgewing” (22 Julie 1996) geniet het. Dit het talle wonderlike herinneringe teruggebring van die 21 maande wat ek ’n paar jaar gelede daar deurgebring het. Dit was die eerste keer dat ek van die huis af weg was. Sommige van die gesinne wat julle in die artikel genoem het—die Smiths, Griffins en Pughs—het soos moeders, vaders, tannies en ooms vir my geword. Hulle het my gehelp om ’n ryp Christen te word. Toe ek die artikel gelees het, het ek gewens dat ek weer saam met hulle kon wees. Ek onthou hulle almal met innige liefde en waardering.
P. A., Verenigde State
Kassaweblare Dankie vir die artikel “Kassaweblare—daaglikse voedsel vir miljoene” (8 Julie 1996). In Afrika heg mense groot waarde aan kassawe omdat dit al eeue lank ons stapelvoedsel is. In Nigerië weet ons egter nie veel van die blare nie, aangesien ons ons geliefkoosde maaltye, soos gari en foo-foo, van die wortels maak. Dit was interessant om te weet dat die blare in ander wêrelddele nie net vir medisyne gebruik word nie, maar vir smaaklike maaltye. Ons dank Jehovah dat hy kassawe gemaak het!
J. S. E., Nigerië
Veranderde prioriteite Ek moet vir julle sê hoe bemoedig ek was deur die artikel “Waarom hy sy prioriteite verander het” (22 Julie 1996). Ek dien al meer as 13 jaar as ’n voltydse evangeliedienaar, en dit is nie altyd maklik om in ons toenemend spanningsvolle wêreld prioriteite te stel nie. Dit word elke jaar ’n groter uitdaging om in die voltydse bediening te bly. Om te dink dat Jeremy ’n lonende loopbaan as die bewaarder van ’n natuurreservaat prysgegee het om ’n voltydse bedienaar te word, het my weer die versekering gegee dat dit die moeite werd is om die bediening as ’n prioriteit in my eie lewe te behou.
N. C., Verenigde State
Kykie in die baarmoeder Ek het onlangs uitgevind dat ek swanger is. As gevolg van ’n verbroude mediese prosedure was daar ’n gevaar dat my kind geboortedefekte sou hê. Julle artikel “’n Kykie in die baarmoeder” (8 Augustus 1996) het my help besluit om nie ’n aborsie te ondergaan nie. Ek het die tydskrif ontvang een week voor ek van my swangerskap uitgevind het.
M. C., Verenigde State
Disleksie Baie dankie vir julle artikel “Bied die frustrasie van disleksie die hoof” (8 Augustus 1996). Ek het nog altyd geweet dat daar iets met my skort, maar ek het nooit geweet wat nie. ’n Spesialis op die gebied van aandagtekortsteurnis het my onlangs as dislekties gediagnoseer. Nou leer ek om my wysvingers te gebruik as ’n hulpmiddel om te lees.
P. C., Verenigde State