’n Opvoedkundige hulpmiddel vir die lewe
’n Skoolonderwyser in Zimbabwe, Afrika, het gesê dat die vak “Opvoeding vir die lewe” aangebied word by Nyatsime-kollege, waar hy onderwys gee. En hy het die gesinsprobleme beskryf wat hyself ondervind het en het erken dat hý hulp nodig gehad het om dit op te los.
Hy het verduidelik wat gebeur het net nadat hy getroud is: “Probleme het byna onmiddellik ontstaan en daartoe gelei dat ons in November 1989 besluit het om uitmekaar te gaan.” Daar was ook ander probleme. Hy het geskryf: “Ek is die oudste seun van my ma, wat die eerste vrou van my pa was. Toe ek in die tweede jaar van my onderwyserskursus was, het my pa gesterf, en ek moes vir my 16 jonger broers en susters sorg.”
’n Studie van die Bybel saam met Jehovah se Getuies het hierdie skoolonderwyser gehelp om sy gesinsprobleme op te los. Hy en sy vrou is weer verenig en gelukkig. Hy het geskryf: “Ek en my vrou het deur ons harde ondervinding geleer dat die mens se pogings om sy probleme sonder God se hulp op te los tevergeefs is.” Maar wat van hulp aan sy leerlinge met hulle probleme?
“Ek het die boek Vrae wat jongmense vra—Antwoorde wat werk as ’n gepaste handboek by ons skoolhoof en ander onderwysers aanbeveel”, het hy geskryf. “Hulle het almal ingestem, en die skool het my ’n bestelling vir 56 boeke gegee, wat ek sedertdien by die skool afgelewer het.”
Ons is seker dat jy ook grootliks baat sal vind by hierdie pragtig geïllustreerde opvoedkundige hulpmiddel met 320 bladsye. As jy graag meer inligting wil hê oor hoe jy ’n eksemplaar kan ontvang of as jy ’n gratis tuisbybelstudie wil hê, kan jy gerus skryf aan Wagtoring, Privaatsak X2067, Krugersdorp, 1740, Suid-Afrika of na die gepaste adres op bladsy 5.