Van ons lesers
Ortodokse Kerk As ’n Ortodokse Christen het julle artikel “Die Grieks-Ortodokse Kerk—’n verdeelde godsdiens” (8 Januarie 1996) my belangstelling gewek. Die volgende keer dat julle die Ortodoksie swartsmeer, moet julle eerlik genoeg wees om die bydraes daarvan te bespreek, soos hoe dit die Christelike godsdiens tydens Islamitiese vervolging en Sowjet-heerskappy bewaar het. Buitendien is die skeiding van Kerk en Staat ’n onbybelse opvatting. Was koning Dawid of Salomo se regerings van die Kerk geskei?
M. F., Verenigde State
Ons het aandag gegee aan die krisis waarmee die Ortodokse Kerk tans te kampe het—’n kwessie wat die media in Griekeland goed gedokumenteer het. Hierdie krisis is die gevolg van die kerk se versuim om Jesus se bevel te gehoorsaam om “geen deel van die wêreld” te wees nie en om neutraal in politieke aangeleenthede te bly (Johannes 17:16).—RED.
Paniekaanvalle Dankie vir die artikel “Hoe om paniekaanvalle die hoof te bied” (8 Junie 1996). Ek ondervind al die afgelope 14 jaar hierdie aanvalle en het gedink dat ek die enigste mens met hierdie probleem is. Soms ervaar ek hierdie gevoelens selfs by die Koninkryksaal. Hoewel my probleme dalk nie sal weggaan nie, het hierdie artikel my werklik gehelp.
C. C., Spanje
Ek het die artikel oor paniekaanvalle met ’n see van trane gelees. Dit sal my help as paniek my weer probeer oorweldig. Ek voel die artikel is ’n antwoord op my gebede.
M. B., Skotland
Dit is al amper 30 jaar dat ek nie met ’n trein of ’n bus kan ry of tussen ’n klomp mense kan wees nie. Vergaderinge by die Koninkryksaal en byeenkomste was nog altyd groot uitdagings. Julle kan dus verstaan dat hierdie artikel ’n bron van groot bemoediging en vertroosting vir my was. Uit die diepte van my hart bedank ek julle dat julle op so ’n opbouende en vertroostende manier oor hierdie siekte geskryf het.
Y. T., Japan
Ek is ’n voltydse evangeliedienaar, en ek het sedert 1994 hierdie verskriklike aanvalle gekry. Ek het my vreugde verloor en wou nie my huis verlaat nie. Ek het gedink dat hierdie gevoelens weens ’n gebrek aan geloof was, maar nou weet ek dat ek nie die enigste Christen is wat dit ondervind nie.
S. A., Brasilië
Waltzing Matilda Die liedjie “Waltzing Matilda” wek aangename herinneringe by my op. Dankie vir die artikel (8 Junie 1996) wat inligting oor die agtergrond van daardie liedjie gegee het. Deur dit te lees, is ek weer beweeg om al die artikels in die Ontwaak! te lees.
J. M., Duitsland
Telefoonmaniere Dankie vir die uitstekende artikel “Hoe is jou telefoonmaniere?” (8 Junie 1996). Ek werk vir ’n bank wat kliëntediens per telefoon lewer. Ek het die artikel vir my opsiener gegee, en hy het vir my gesê dat hy die artikel nuttig, tydig en prakties gevind het. Hy het gevra dat ek die artikel omstuur sodat al 32 telefoniste dit kan lees.
N. J. S., Brasilië
Aangesien ons in die verlede probleme gehad het met ongewenste elemente wat oproepe met kriminele beweegredes gedoen het, het ons lank die telefoonmaatskappy se voorstel gevolg om die telefoon neer te sit as ’n oproeper weier om hom na drie beleefde versoeke te identifiseer. Dit het ’n paar keer tot gekrenkte gevoelens gelei wanneer ’n vriend gebel en die “raai wie”-speletjie gespeel het wat in die artikel gemeld word. Artikels soos hierdie bevorder vriendelikheid en begrip, selfs in sulke skynbaar nietige sake.
G. A., Verenigde State