Geweld teen vroue
DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN NIGERIË
VOLGENS die Verenigde Nasies se Human Development Report 1995 is vroue van die baarmoeder tot die graf slagoffers van geweld. Studies van regoor die wêreld onthul die volgende:
Voor geboorte. In sommige lande word toetse gedoen om vas te stel of die fetus manlik of vroulik is. Vroulike fetusse word dikwels afgedryf.
As kinders. In Barbados, Kanada, Nederland, Nieu-Seeland, Noorweë en die Verenigde State berig 1 uit 3 vroue dat hulle gedurende hulle kinderjare of adolessensie seksueel gemolesteer is. In Asië en op ander plekke word ongeveer eenmiljoen kinders—meestal meisies—elke jaar gedwing om as prostitute te werk. Wêreldwyd word miljoene meisies aan verminking van die vroulike geslagsorgane onderwerp.
As volwassenes. In Chili, Mexiko, Papoea-Nieu-Guinee en die Republiek Korea is 2 uit elke 3 getroude vrouens slagoffers van gesinsgeweld. In Kanada, Nieu-Seeland, die Verenigde Koninkryk en die Verenigde State is 1 uit 6 vroue al verkrag.
In die latere lewe. Meer as die helfte van die vroue wat in Bangladesj, Brasilië, Kenia, Papoea-Nieu-Guinee en Thailand vermoor is, is deur gewese of huidige metgeselle doodgemaak. In Afrika, Suid-Amerika, verskeie Suidsee-eilande en die Verenigde State is huweliksgeweld ’n hoofoorsaak van selfmoord onder vroue.
Geweld teen vroue is ’n kenmerk van wat die Bybel “die laaste dae” noem, wanneer baie mense “beledigend”, “gevoelloos” en “wreed” sal wees (2 Timoteus 3:1-5, New American Bible). Ons kan dankbaar wees vir Jehovah God se belofte dat hy ná hierdie moeilike “laaste dae” ’n vreedsame nuwe wêreld tot stand gaan bring waarin die bewoners van die aarde “veilig [sal] woon sonder dat iemand hulle verskrik” (Esegiël 34:28; 2 Petrus 3:13). Onder God se Koninkryk sal Jesus Christus “die behoeftige red wat daar roep om hulp, en die ellendige en wie geen helper het nie. Hy sal hulle siel verlos van verdrukking en geweld.”—Psalm 72:12, 14.