Kanada se Hooggeregshof versterk die regte van ouers
DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN KANADA
WANNEER julle kind ernstige mediese probleme ondervind, is julle as liefdevolle ouers natuurlik besorg en bekommerd. Hoe gerusstellend en bemoedigend is dit vir julle wanneer verantwoordelike, medelydende dokters julle keuse van behandeling respekteer! Situasies ontstaan egter wel waar daar eiemagtig opgetree en ouers se wense geïgnoreer word. Baie dikwels lei dit tot ’n traumatiese ondervinding.
In Kanada gee kindersorgwette aan staatsamptenare die reg om kinders weg te neem. Vier provinsies laat die staat toe om ouers se keuses tersyde te stel sonder ’n geregtelike verhoor. Dit lewer geskilpunte op wat vir alle ouers en kinders belangrik is. Op watter gebied het die ouers die reg om besluite te neem? Watter prosedure moet gevolg word om basiese reg aan ouers en kinders te laat geskied as die staat besluit om by ouerlike besluitneming tussenbeide te tree? Beskerm die Grondwet ouerlike besluitneming?
In The Toronto Star van 3 Maart 1995 het ’n artikel verskyn wat hierdie geskilpunte opgesom het, soos dit verband gehou het met ’n saak waarby ’n babadogtertjie betrokke was wat in 1983 te vroeg gebore is. Haar ouers was Getuies van Jehovah. “[Hulle] sou die meeste vorme van mediese behandeling aanvaar, maar het beswaar gemaak teen bloedoortappings. Die dokters het ’n hofbevel aangevra. Die regter het die Kinderhulp-vereniging in beheer geplaas. Geen bloed is tot drie weke later aan die baba gegee nie, en toe slegs ter voorbereiding vir ’n opsionele oogondersoek en ’n moontlike oogoperasie. Die ouers het hulle beswaar tot in die Hooggeregshof gevoer.”
’n Uitspraak is op 27 Januarie 1995 gelewer, en hoewel die Hooggeregshof nie omgekeer het wat in 1983 gedoen is nie, het vyf van die nege regters riglyne uiteengesit om die misbruik van die staat se gesag te verhoed. Die Hofbeslissing versterk die regte van ouers om mediese besluite vir hulle kinders te neem.
Die Hof het veral ouerlike besluitneming in ag geneem met die oog op godsdiensvryheid wat deur die Canadian Charter of Rights and Freedoms gewaarborg word. Regter Gerard La Forest, wat die meerderheid verteenwoordig het, het gesê: “Die reg van ouers om hulle kinders volgens hulle godsdiensoortuiging groot te maak, met inbegrip van die reg om mediese en ander behandeling te kies, is ook ’n basiese aspek van godsdiensvryheid.”
Dit is die eerste keer dat Kanada se hoogste hof beslis het dat godsdiensvryheid onder die Charter die reg van ouers insluit om mediese behandeling vir hulle kinders te kies. Regter La Forest het hierdie beginsel gedefinieer toe hy gesê het: “Dit beteken nie dat die staat nie tussenbeide kan tree wanneer hulle dit nodig ag om die kind se reg op onafhanklikheid of gesondheid te beskerm nie. Maar so ’n tussenkoms moet geregverdig wees. Met ander woorde, ouerlike besluitneming moet die beskerming van die Charter geniet sodat tussenkoms deur die staat behoorlik deur die howe beheer kan word, en dit moet slegs toegelaat word wanneer dit aan die fundamentele waardes van die Charter voldoen.”
Regter La Forest het beklemtoon dat dit nodig is om ’n goeie rede te hê vir inmenging in ouerlike besluitneming toe hy gereageer het op opmerkings wat deur twee van sy mederegters gemaak is: “Sommige van hulle opmerkings kan dit laat klink asof hulle dit goedkeur dat ’n ouer se regte verontagsaam kan word net omdat ’n deskundige meen dat dit nodig is. Ek sou baie bekommerd wees as ’n mediese deskundige ’n ouer se standpunt kon verontagsaam sonder om die nodigheid daarvoor te bewys.”
Wat mediese behandeling betref, is ouerlike besluitneming as ’n grondwetlike reg erken onder die Canadian Charter of Rights and Freedoms. ’n Kragtige boodskap is dus aan kindergesondheidswerkers en regters uitgestuur. Hulle moet versigtig en met die nodige respek vir die regte van ouers optree. Verantwoordelike dokters sal ook toon dat hulle hierdie riglyne verwelkom deur die ouers se keuse van redelike alternatiewe te ondersteun, en dit sluit bloedlose behandeling vir kinders in.
In die lig van die huidige debat oor bloedoortappings en die gevare daaraan verbonde, insluitend vigs, kan ’n mens regter La Forest se opmerking verstaan toe hy bygevoeg het: “Die bekommernis wat deur die appellante in hierdie appèl uitgespreek is, opper die wyer vraag van hoe gepas dit is om voort te gaan met behandeling waarvan die mediese voordele uiters twyfelagtig is . . . Die mediese getuienis wat in 1983 voorgelê is . . . , laat ons egter nie toe om die nodigheid van die bloedoortapping te bevraagteken nie, al sou sommige nou, as hulle daarop terugkyk, in die versoeking kom om dit te doen. Hierdie appèl herinner ons egter wel aan die noodsaaklikheid daarvan om versigtig te werk te gaan wanneer ouers se weiering tersyde gestel word.”—Ons kursiveer.
Die voormelde artikel in The Toronto Star het afgesluit: “Wat is deur die Hooggeregshof se beslissing bereik? Eerstens het dokters, ouers, maatskaplike werkers en regters nou riglyne vir wanneer daar ’n meningsverskil tussen ouers en dokters ontstaan. Tweedens behoort die klem op mediese alternatiewe die weg te baan tot groter inskiklikheid in die kwessie van oortappingsgeneeskunde in ’n tyd wanneer al hoe meer bloedlose alternatiewe ontwikkel en beskikbaar gestel word. Derdens moet daar, wanneer dokters besluit dat hulle die ouers se besluit tersyde wil stel, ’n billike verhoor in die hof wees met die onus op die staat en die dokters om die noodsaaklikheid vir die voorgestelde tussenkoms te bewys.”
Dokters, regters en ouers in ander lande sal die riglyne wat deur die meerderheid in die beslissing van die Kanadese Hooggeregshof uiteengesit is ongetwyfeld nuttig en opbouend vind. Hopelik sal dokters in alle wêrelddele aanhou om mediese sorg op ’n sensitiewe en medelydende manier te voorsien, met besorgdheid vir die regte van kinders sowel as ouers.