Nuwe dobbelaars—Jongmense!
SKUD jy jou kop in ongeloof oor hoe diep die volwassenebevolking, mans sowel as vroue, in dobbelverslawing vasgevang is? Verstom dit jou as jy lees van volwasse dobbelaars wat alles waarvoor hulle hulle hele lewe lank gewerk en wat hulle bereik het—hulle werk, sakeonderneming, gesin, en vir party, hulle lewe—ter wille van dobbelary opgee? Kan jy die redenasie van ’n ervare, opgevoede volwassene verstaan wat, nadat hy $1,5 miljoen (R5,5 miljoen) gewen het, aangehou speel het tot hy dieselfde aand $7 miljoen (R25,4 miljoen) verloor het? In baie gevalle is dit gierigheid, ’n gejaag na die ontwykende rykdom. Maar alte dikwels is dit die opwinding van dobbelary self.
As julle ouers met jong kinders is, troos julle julle dalk daaraan dat dobbelary ’n spel vir volwassenes is. Dink maar weer. Let op die jong nuwe dobbelaars wat hulle kans afwag—of reeds speel. Die feite sal jou moontlik verstom.
Die volgende opskrifte van artikels het in onlangse koerante en tydskrifte verskyn: “Kanse is goed dat dobbelary die tienerprobleem van die negentigerjare kan wees.” “Meer jongmense raak aan dobbelary verslaaf.” “‘Crack van die negentigerjare’: Kinders raak aan dobbelary verslaaf.” “My seun kon nie ophou dobbel nie.”
Lees nou wat onder die opskrifte staan. “Die owerheid blameer die groei in staats- en kerkondersteunde dobbelary grootliks vir die krisis”, het een koerant geskryf. “Vandag is weddery toegankliker as ooit vir ontvanklike jongmense. En kenners waarsku dat meer as 90 persent van kompulsiewe volwasse dobbelaars die gewoonte vorm voor hulle 14 is”, het die koerant gesê. “Voorheen het die meeste kompulsiewe dobbelaars op om en by 14-jarige ouderdom begin dobbel. Nou sien ons dat dit tot 9 of 10 daal”, het ’n ander navorser gesê. “Waarom? Omdat die geleentheid bestaan”, het sy bygevoeg. “Kinders . . . word oral met dobbeladvertensies gebombardeer. Dit is sosiaal aanvaarbare opwinding.” “Dit word vinnig erger”, het een woordvoerder van ’n groep met die naam Dobbelaars Anoniem gesê. “Die kinders begin al hoe jonger, en meer van hulle as ooit tevore word daarin vasgevang.”
Volgens ’n studie van tienerdobbelaars in een Amerikaanse staat is ongeveer 3,5 persent potensieel kompulsiewe dobbelaars; nog 9 persent sal moontlik “hoërisiko”-dobbelaars word. “Dit is opvallend dat die syfers getoon het dat daar meer onder jongmense gedobbel word as onder die algemene volwassenebevolking”, het William C. Phillips, koördineerder van beradingsdienste by een Amerikaanse kollege gesê. “Ons sal in die volgende dekade of wat meer probleme met dobbelary onder jongmense ondervind as met die gebruik van verdowingsmiddels—veral die onwettige gebruik van verdowingsmiddels”, het ’n ander verslawingsberader gesê. Professor Henry Lesieur het ’n studie onder junior en senior hoërskoolleerlinge gedoen. The Los Angeles Times het berig dat “sy bevindinge opvallend ooreenkom met die studie onder kollegestudente: Die persentasie tieners wat as ‘patalogiese’ of ‘kompulsiewe’ dobbelaars beskou word—mense wat beheer oor hulle dobbelary verloor het—maak gemiddeld 5% van die landwye tienerbevolking uit.”
Dobbelterapeute stem saam dat dit nie die aantal jeugdige dobbelaars is wat hulle bekommer nie, maar eerder die “gesindheid van kinders, ouers en selfs opvoedkundiges oor tienerdobbelary. . . . Baie kinders en hulle ouers beskou dobbelary as ’n ‘onskadelike afleiding’, met gevolge wat baie minder ernstig is as dié van betrokkenheid by dwelms en alkohol of geweld of promiskuïteit.” Maar gedragsberader Durand Jacobs het gewaarsku dat dobbelary jongmense aan misdaad, stokkiesdraaiery en ’n begeerte na maklike geld kan blootstel.
Beskou byvoorbeeld een hoërskoolleerling wat op ’n vroeë ouderdom begin dobbel het. Terwyl hy op skool was, het hy baie van sy klastyd gebruik om saam met ander leerlinge te dobbel. Wanneer hy verloor het en sy sakgeld op was, het hy geld gesteel wat die leerlinge bygedra het om kosmandjies vir behoeftige gesinne te koop. Hy het met die gesteelde geld gedobbel in die hoop dat hy sy gesin se televisiestel en ’n oniksring sou kon terugkoop wat hy verpand het om vroeëre dobbelskuld af te betaal. Teen die tyd dat hy in standerd sewe was, het hy al 20 dae in ’n jeuggevangenis deurgebring omdat hy $1500 (R5 500) gesteel het, en hy het dikwels dollarinset-poker en $5-inset-pool gespeel. “Hoe ouer ek geword het, hoe groter het die bedrae geword”, het hy gesê. Dit was nie lank nie of hy het by sy bure gesteel om sy dobbelskuld te betaal. Sy ma was raadop. Op 18-jarige ouderdom was hy ’n kompulsiewe dobbelaar.
In Engeland, sê sosioloë, laat slap dobbelwette kinders toe om op dobbelmasjiene te speel. By lughawens en arkades onderhou baie kinders hulle verslawing deur van hulle ouers te steel en hulle aan winkeldiefstal skuldig te maak.
“Onder jongmense op hoërskool en universiteitskampusse is die vorm van dobbelary wat die gewildste is en die vinnigste groei sportweddenskappe onder [die leerlinge en studente] self, soms word dit deur plaaslike beroepswedders gesteun”, het Jacobs gesê. “Ek sou skat dat daar baie min hoërskole en universiteitskampusse is wat nie goedgeorganiseerde sportpotte met hoë insette het nie.” Hierby ingesluit is ook die kaartspel, loterye en casino’s waar baie tieners toegelaat word omdat hulle ouer lyk as wat hulle is.
“Een van die punte wat gestel moet word”, het Jacobs gesê, “is dat die meeste mense aangehou dobbel het tot hulle kompulsiewe dobbelaars was omdat hulle wenners was toe hulle as tieners begin het.” “Die ‘oorgrote meerderheid’ jongmense, het hy gesê, is deur hulle ouers of familielede met dobbelary in aanraking gebring wat dit as pret afgemaak het”, het The Los Angeles Times voorts gesê. ’n Ander berader vir verslaafdes aan gewoontevormende middels het ook gesê: “Ouers het te doen met dieselfde geskil as wat hulle met alkohol en dwelms gehad het. Ek dink net dat hoe meer ’n mens dobbelary uitbrei, hoe meer nuwelinge verskyn daar by die klub van kompulsiewe dobbelaars.” Kenners wat kompulsiewe dobbelaars behandel, sê dat al hoe meer jeugdiges wat aan dobbelary verslaaf is hulle verslawing met stelery, die verkoop van dwelms en prostitusie onderhou, net soos met dwelms en alkohol die geval is. Ouers beskou dobbelary dalk as “pret”, maar nie polisiebeamptes nie.
“Kinders wat aan dobbelmasjiene verslaaf raak . . . , het al die skadelike eienskappe van volwasse kompulsiewe dobbelaars getoon. Jongmense wat aan hierdie dobbelmasjiene verslaaf geraak het, het moontlik al op 9 of 10 begin. Hulle het al hulle sakgeld, kosgeld vir skool en kleingeld wat by die huis rondgelê het, opgebruik. ’n Jaar of twee later het die seuns begin steel. Alles in die kind se kamer is verkoop: kolwe, boeke, selfs kosbare artikels soos platespelers; ander kinders sou ook vind dat hulle speelgoed wegraak. Niks in die huis was veilig nie. Moody het van desperate ma’s gehoor wat al hulle besittings in een kamer ophoop sodat hulle dit kan oppas, of wat hulle handsakke onder die beddegoed moet wegsteek wanneer hulle gaan slaap. Hierdie radelose ma’s kon net so min verstaan wat met hulle kinders gebeur as broeivoëls wat deur ’n koekoek beroof is. Die kinders het dit steeds reggekry om van iewers te steel. Teen die tyd dat hulle 16 was, het die polisie aan die deur geklop.”—Easy Money: Inside the Gambler’s Mind, deur David Spanier.
Soos hierdie artikels getoon het, het baie volwassenes en jongmense vir die eerste keer by hulle kerke met dobbelary te doen gekry—bingo, loterye, ensovoorts. Behoort godsdiensinstellings en hulle leiers wat beweer dat hulle navolgers van Christus is enige vorm van dobbelary aan te moedig, te bevorder en te ondersteun? Beslis nie! Alle aspekte van dobbelary buit een van die slegste eienskappe in mense uit, die begeerte om iets verniet te kry, of eenvoudiger gestel, gierigheid. Diegene wat dit bevorder, moedig mense aan om te glo dat dit reg is om uit die verliese van ander voordeel te trek. Sou Jesus sulke bedrywighede bevorder, aangesien dit gesinsverbrokkeling, skande, siekte en selfvernietiging tot gevolg het? Nooit! God se geïnspireerde Woord maak dit eerder duidelik dat gierigaards God se Koninkryk nie sal beërf nie.—1 Korintiërs 6:9, 10.
Ouers moet hulle kinders van kleins af leer dat enige vorm van dobbelary verkeerd is. Moet dit nie as pret beskou nie, maar eerder as die begin van luiheid, leuens, bedrog en oneerlikheid. Bystandsprogramme soos Dobbelaars Anoniem is in baie stede ingestel. As jy ’n probleem het, is dit selfs belangriker om die geïnspireerde raad te soek wat in God se Woord, die Bybel, vervat is. Party wat selfmoord oorweeg het, sê dat hulle hulle lewe te danke het aan die feit dat hulle ag geslaan het op sulke geïnspireerde raad.
Dit is interessant dat Jehovah se Getuies al baie wat in die strik van kompulsiewe dobbelary vasgevang was, gehelp het om los te breek. Een so ’n voormalige kompulsiewe dobbelaar het geskryf dat ná baie jare se betrokkenheid by verdorwenhede, insluitende dobbelary, “onmiddellike en dramatiese gedragsveranderinge begin plaasvind het namate ek en my vriendin die Bybel saam met Jehovah se Getuies gestudeer het. Dobbelary was ’n verslawende krag, en dit was uiters moeilik om dit te bowe te kom. Met Jehovah se hulp en die ondersteuning van my vriendin—saam met studie, gebed en bepeinsing, veral oor God se beskouing van gierigheid—het hierdie verslawing aan dobbelary onder beheer gekom, en ek en my vriendin, wat nou al 38 jaar my vrou is, het albei ons lewe aan Jehovah toegewy. Hoewel ons al gedien het waar daar hulp nodig was en jare lank in die voltydse bediening was en hoewel ek as ’n reisende verteenwoordiger van die Wagtoringgenootskap gedien het, is my verslawing steeds daar en word dit net met Jehovah se hulp en leiding beheer.”
Kan jy, as dobbelary vir jou ’n probleem is, van die verslawing vrygemaak word? Ja, as jy aanhou om van God se hulp gebruik te maak en dit aanbied vir ander wat dit dalk nodig het.
[Lokteks op bladsy 9]
Binnekort sal daar meer probleme wees met jongmense wat dobbel as met dwelms
[Lokteks op bladsy 11]
Gierigaards sal God se Koninkryk nie beërf nie
[Venster op bladsy 10]
Speelmunte welkom by ’n Katolieke heiligdom in Las Vegas
Besoekers aan die Heiligdom van die Allerheiligste Verlosser vra die priester dikwels: “Vader, sal u bid dat ek wen?”
Jaarliks besoek miljoene mense Las Vegas, Nevada, VSA, vanuit alle dele van die wêreld om die grille van die geluksgodin te toets. In die heiligdom van hierdie Rooms-Katolieke Kerk met sy warm beligting, waar beelde van die Geboortetoneel, die Laaste Avondmaal en die Kruisiging teen die mure staan, word dobbelwinste in die kerkbanke gebruik: Aanbidders sit speelmunte in die kollektebord.
“Af en toe kry ons ’n $500-speelmunt [R1 800] in een van die borde”, het vader Leary van die heiligdom met ’n sagte Ierse aksent gesê.
’n Rooms-Katolieke Kerk hoër op in die Las Vegas-gebied het die aanbidders dekades lank bedien, maar toe vier van die wêreld se grootste hotel-casino’s—die MGM Grand, die Luxor, die Excalibur en die Tropicana—aan die suidelike punt van die gebied gebou is, is die nuwe Heiligdom van die Allerheiligste Verlosser net een blok daarvandaan gebou.
Toe die priester gevra is waarom dit gedoen is, het hy gesê: “Waarom nie? Dis waar die mense is.”
Dit is ook waar die geld is. Waar anders dan?
[Prent op bladsy 9]
Dobbelary lei tot slegte omgang