Geestelikes probeer tot jongmense deurdring
“Die McGill-universiteit se kapelanie . . . is oorgeneem deur ’n groep punks met olierige hare en leerbaadjies aan”, het The Gazette van Montreal, Kanada, berig. Hulle was egter nie gewone “punks” nie. Hulle was geestelikes—universiteitskapelane—en was lede van wat die koerant “’n nuwe geslag teoloë” genoem het “wat regstreeks met universiteitstudente werk wat na geestelike verligting soek”.
Die kapelane het hulle soos “punks” aangetrek vir ’n plakkaat wat bedoel is om hulle dienste op die kampus te adverteer. Een van hulle, ’n Presbiteriaanse geestelike met die naam Roberta Clare, het verduidelik: “Ons het besluit om ’n punkplakkaat te maak, want ons wil wegbreek van die farisese, veroordelende beeld wat mense dikwels van ons het.”
Sy het egter gesê dat baie meer studente as in die verlede daarin belangstel om godsdiens op universiteit te bestudeer. Baie worstel met diep vrae en maak op dosente en kapelane vir antwoorde staat. Die koerant het ’n onderhoud met een student gevoer wat graag wou weet waarom godsdiens so ’n sterk invloed op die gemeenskap uitoefen, waarom daar soveel godsdienste is en waarom hierdie godsdienste soveel tweedrag in die wêreld veroorsaak. Hy het met die ware identiteit van Jesus Christus sowel as met die kwessie van die oorsprong van die heelal geworstel.
Gebruik hierdie kapelane die Bybel om die studente te help om God se antwoorde op sulke diep vrae te vind? Dit wil voorkom asof dit selde die geval is. Hierdie nuwe geslag teoloë het onder mekaar ooreengekom om nie bekeerlinge te maak nie, wat hulle as “skaapdiefstal” beskou.
Hoe goed hulle dit ook al mag bedoel, sulke geestelikes het ver afgedwaal van die onderrigmetodes wat Christus en sy volgelinge gebruik het. Vroeë Christene was nie bekommerd oor “skaapdiefstal” nie en het ook nie geaarsel om die Woord van God te verkondig en opregte waarheidsoekers te help om dit te verstaan nie (Lukas 24:44, 45; Handelinge 20:20). Juiste kennis van Jehovah God en sy Seun, Jesus Christus, is per slot van rekening nodig om die ewige lewe te verkry (Johannes 17:3). Dit is God se wil dat alle mense “tot juiste kennis van die waarheid moet kom” sodat hulle gered kan word.—1 Timoteus 2:3, 4.
Die werk van Jehovah se Getuies sluit gratis tuisbybelstudies in met diegene wat graag antwoorde op hulle Bybelvrae wil hê. Jehovah se Getuies in jou gemeenskap sal jou graag wil help.