Die ontwikkeling van ’n gesonde gemeenskap
DIE assistentredakteur van die tydskrif New African het onlangs geskryf: “Gaan vandag na enige Afrikaland en jy sal ’n klein groepie elite vind wat in weelde lewe terwyl die meerderheid in verdrukkende armoede ly. . . . Hoe kan ons hierdie strik van armoede vryspring? Die eenvoudigste oplossing is: verwyder die elite en verdeel die rykdom. In die praktyk werk dit nie. In die eerste plek is daar net nie genoeg vir almal nie. Tweedens, verwyder die elite en hulle sal onmiddellik deur ander vervang word. Derdens, eksperimente met sosialistiese ideale het slegs daarin [geslaag] om armoede gelykop te verdeel.
“Daar is net een oplossing vir ontwikkeling wat deur al die eeue in alle lande gewerk het: die ontwikkeling van die individu. Dit is mense wat gemeenskappe skep. Goed opgevoede, gesonde, positiewe en vindingryke mense sal ongetwyfeld gesonde, sterk gemeenskappe oplewer.”
As die assistentredakteur na ’n voorbeeld gesoek het, sou hy gevind het dat Jehovah se Getuies ’n voorbeeld daarvan is. In Afrika, trouens in die hele wêreld, probeer die Getuies mense help om opgevoede, gesonde lede van ’n wêreldwye gemeenskap te word. Hulle leer ongeletterde volwassenes onder meer lees en skryf. Deur middel van hulle publikasies leer hulle mense aangaande higiëne, gesondheidsorg en gesinsverhoudinge. Die Getuies moedig mekaar by hulle vergaderinge sowel as op ’n individuele basis aan om die Bybel se raad na te kom, naamlik om eerlik, hardwerkend en produktief te wees.
Die resultaat is ’n sterk, ywerige gemeenskap wat wêreldwyd uit ongeveer vyfmiljoen mense bestaan. Maar die Getuies eien hulle nie die eer daarvoor toe nie. Hulle skryf hulle geestelike welvaart toe aan die lewende God wat sê: “Ek‚ Jehovah‚ is jou God‚ die Een wat jou leer om jouself te bevoordeel‚ die Een wat jou laat tree op die weg waarop jy moet wandel.”—Jesaja 48:17, NW.
As jy graag meer inligting oor die Bybel en die praktiese raad daarin wil hê, kan jy gerus met Jehovah se Getuies by jou plaaslike Koninkryksaal in aanraking kom, of skryf na die naaste adres op bladsy 5.