Van ons lesers
Geleerdheid Ek het onlangs aan ’n Nigeriese universiteit gegradueer en het net 2 persent gekort om die hoogste punte te behaal. Ek was ietwat terneergedruk. Toe julle dus die artikel “Hou geleerdheid op die regte plek” (22 Augustus 1994) uitgegee het en getoon het dat geleerdheid nie nagejaag moet word om akademies uit te blink nie, het ek dinge in die regte perspektief begin sien. Hoewel my professore my aangemoedig het om met nagraadse kursusse voort te gaan, oordink ek die saak ernstig in die lig van wat ek geleer het.
G. J., Nigerië
Ek is 14 jaar oud en onder baie druk om hoër geleerdheid na te streef. Met behulp van julle artikel het ek besluit wat ek graag wil doen. Ek wil ’n pionier [voltydse evangeliedienaar] wees, en indien ek ekstra opleiding nodig het om werk te kry, wil ek graag na ’n vakskool toe gaan en fotografie leer.
H. O., Verenigde State
Ek het gekies om nie aanvullende opleiding te kry nie. Ek verkies om daardie tyd te gebruik om ander oor ons Skepper te leer. Mense is gewoonlik verbaas oor hoeveel ek aangaande ’n verskeidenheid onderwerpe weet. Hulle vra: “Is jy op universiteit?” Ek sê dan vir hulle dat ek dít wat ek weet uit die Bybel en die lektuur wat deur die Wagtoringgenootskap voorsien is, geleer het.
M. L., Verenigde State
Julle artikel het getoon dat dit nodig is om oor die voor- en nadele van aanvullende opleiding na te dink. Ek wou graag weer skool toe gaan, maar wou nie geestelike bedrywighede verwaarloos nie. Ek het my rooster vir Christelike vergaderinge aan die skoolsekretaris verduidelik, en hy het my klasse so gereël dat ek al my vergaderinge kon bywoon.
M. F. S., Brasilië
Swakker vat? Dankie vir die insiggewende artikel “Die Bybelse beskouing: Die ‘swakker vat’—’n Belediging vir vroue?” (8 Oktober 1994). Alle mans behoort hierdie artikel te lees, aangesien dit so pragtig uiteengesit is.
G. B., Verenigde State
Ek het nooit die Bybel se uitdrukking in 1 Petrus 3:7 oor vroue wat ‘swakker vatte’ is duidelik verstaan nie. Ek het altyd gedink dat vroue minderwaardig is, en terwyl ek grootgeword het, het ek gesien hoe mans vroue met baie min respek behandel. Maar daardie artikel het my denke verander.
T. C., Verenigde State
Ander geslag Baie dankie vir die artikels: “Jongmense vra . . . Waarom is dit so moeilik om aan niks anders as die ander geslag te dink nie?” en “Hoe kan ek ophou om heeltyd aan die ander geslag te dink?” (22 Julie 1994; 8 Augustus 1994). Dit was goed om te weet dat ek nie mal is nie, aangesien ek op 12-jarige ouderdom sterk gevoelens het vir ’n seun wat ek ken. Die tweede artikel het my gehelp om nie meer so baie aan hom te dink nie. Ek het ’n ouer Christensuster in die gemeente hiervan vertel en sy het my gehelp.
P. Z., Verenigde State
Ek het besef dat die deel oor masturbasie op my van toepassing is. Ek het gedink dat masturbasie my sou help om my seksuele begeertes te laat afneem, maar dit het dit net vererger. Ek bid dat Jehovah my sal vergewe omdat ek by hierdie vieslike gebruik betrokke was.
P. M., Verenigde State
Die artikel het op die regte tyd vir my gekom. In die skool word daar net oor seks gepraat. Daar is ’n meisie op skool wat in dieselfde gemeente as ek is. Ek dink sy is baie intelligent, slim en mooi. Die artikel het my gehelp om nie altyd aan haar te dink en na haar te kyk nie.
M. F., Duitsland