Seminare om verhoudinge tussen dokters en Jehovah se Getuies te verbeter
GOD se wet verbied Christene om bloed op enige wyse in te neem (Handelinge 15:28, 29). Gehoorsaamheid aan dié wet het soms tot misverstande gelei wat tot gevolg gehad het dat Christene beskikbare en effektiewe alternatiewe mediese behandeling van hulle gesondheidsprobleme geweier is.
Om beter begrip te bewerkstellig en om dokters te help om behandeling sonder die gebruik van bloed te voorsien, het Jehovah se Getuies ’n nuttige skakeldiens tot stand gebring. Die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies het Hospitaalinligtingsdienste (HID) in Brooklyn, New York, ingestel om gekose Getuie- ouer manne op te lei om op Hospitaalskakelkomitees (HSK’s) te dien. Mediese navorsing is gedoen en die resultate is in seminare aan die HSK’s aangebied. Hierdie inligting word weer aan dokters en gesondheidsorgsentrums verskaf. Besprekings met ander ervare dokters kan ook gereël word in ’n poging om konfrontasie te vermy.
Was hierdie program suksesvol? Was die inligting wat verskaf is werklik nuttig? Hoe het dokters hierop gereageer? Die volgende indrukke van ’n mediese dokter wat ’n onlangse HSK-seminaar bygewoon het, is insiggewend en gerusstellend.
“Ek hoop julle sal hierdie indrukke eerlik en nuttig vind.
“Laat ek julle in die eerste plek sê dat dit ’n voorreg was om gevra te word om die tweede seminaar van die Hospitaalskakelkomitee by te woon wat deur personeellede van Hospitaalinligtingsdienste van Jehovah se Getuies se hoofkwartier in New York aangebied is. Nie alleen is daar aan my verwagtinge vir hierdie vergadering voldoen nie, maar dit is ver oortref. Die voorsitter se inleidende opmerkings het ’n aanduiding gegee van wat die toon van die tweedaagse program sou wees. Hy het beklemtoon dat die HSK nie net ’n instrument is om gedurende die hospitaalverblyf van siek Getuies in hulle behoeftes te voorsien nie. Die komitee bied ’n gulde geleentheid om talle mites die nek in te slaan wat algemeen deur die publiek en geneeshere, hospitaaladministrateurs en ander mediese personeel oor die Getuies geglo word.
“Baie van hierdie mense is verras om te verneem dat Jehovah se Getuies glad nie soos Christian Scientists in hulle siening van mediese sake is nie. Getuies oefen nie ’n ‘reg om te sterf’ uit en probeer ook nie om martelaars te wees nie. Die bloedkwessie is ook nie ’n voorskrif van die organisasie nie, maar eerder ’n opregte persoonlike oortuiging. Sulke openbarings onderstreep die opvoedkundige doel van die HSK. Ja, hoe ongewoon dit ook al mag lyk, selfs geneeshere het baie om te leer, ook wat bloedlose mediese alternatiewe betref. Die omvang en deeglikheid van die navorsing wat deur hierdie reëling voorsien word, verstom my voortdurend, en baie van die inligting is vir my beslis nuut. Maar die opvoedkundige funksies van die HSK hou nie hier op nie. Hospitaaladministrateurs, gemeenskapsdienste en selfs regs- en hofbeamptes vind ook daarby baat.
“Die komitees doen buitengewone moeite om geneeshere te vind wat met die Getuies se oortuigings sal saamwerk, met hulle in verbinding te tree en hulle hulp te werf. Dit strek natuurlik baie verder as die geneeskundige gemeenskap, want die HSK bou ook goeie verhoudinge met hospitale, mediese personeel, regsgeleerdes en regters op. Miskien is die treffendste boodskap wat oorgedra word dat Jehovah se Getuies redelike mense is, nie dwepers nie, en dat hulle maar net aanvaarbare alternatiewe vir bloed vra. . . . Daar is groot gevare verbonde aan die gebruik van bloed, en die HSK speel beslis ’n rol daarin om hierdie gevare bekend te maak en die potensiële risiko’s van bloed en bloedprodukte onder die aandag van die mediese gemeenskap te bring.
“Ek verwonder my voortdurend oor die inligting wat Hospitaalinligtingsdienste en die Wagtoringgenootskap aan die HSK voorsien. Maar soos enige vakman vir jou sal sê, kan feitlik enige werk gedoen word as die regte gereedskap voorsien word. . . . Dit was fassinerend om van die strukture te hoor wat nou bestaan om vinnig en effektief op feitlik enige mediese noodgeval te reageer. Elke HSK-lid is opgelei om noodsaaklike demografiese inligting te verkry, om vinnig vas te stel wat die gesindheid van geneeshere en hospitale is asook om noukeurig te bepaal hoe ernstig die noodgeval is en wat die moontlike gevaar van geregtelike stappe deur die hospitaal is, soos hofbevele vir oortappings.
“Ons het maniere ondersoek om die behoeftes en begeertes van Getuiepasiënte duidelik te maak, hoe om ongelowige familielede te hanteer, selfs hoe om geneeshere se diens op te sê en pasiënte na alternatiewe mediese fasiliteite oor te plaas wat simpatieker staan teenoor die behoeftes van Getuies. Die aandag is gevestig op die HSK se interaksie met die media en riglyne is voorsien wat weer eens die primêre fokus beklemtoon het dat Getuies nie alle mediese sorg weier nie, maar net bloed. Dit kan min of meer beskou word soos ’n toegewyde Katoliek wat aborsie weier maar nie alle chirurgie nie.
“Die skakelkomiteelede is opgelei om talle algemene vrae te hanteer wat deur hospitale sowel as geneeshere, en partymaal selfs deur Getuies self, geopper word. Dit kan geskille insluit soos die aanvaarbaarheid van immunoglobuliene of albumien, die gebruik van kriopresipitaat of mediese tegnieke soos bloedverdunning, buiteliggaamlike sirkulasie, die “cell saver” of hemodialise.
“Ek het ’n boeiende bespreking geniet oor die wetlike oorwegings wat daarby betrokke is om die wet ter verdediging van Getuies en hulle godsdiensoortuiging te verstaan en te gebruik. Die regterlike beslissings wat die grondslag vorm vir die verdediging van die Getuies se reg op mediese selfbeskikking is ’n interessante onderwerp vir bespreking. Vir party lyk die werk van die Hospitaalskakelkomitee dalk oorbodig, selfs onnodig; maar in werklikheid is hierdie netwerk van ondersteuningsdienste noodsaaklik. Ek sien elke dag Getuiepasiënte wat onbekend is met die hospitaalomgewing en dalk onbewus is van talle bloedlose mediese alternatiewe. Bowendien kan min mense werklik bekend wees met die hele spektrum van tegemoetkomende geneeshere waarvan die komitees kennis dra of met die spesifieke wetlike regte en verantwoordelikhede wat ons almal het en waarvoor ons te staan kom as ons bloedlose mediese behandeling soek.
“Laat ek ’n oomblik afdwaal om die werk van HID te prys. As ’n intervensionele kardioloog vind ek dat daar min tyd is om al die tydskrifte te lees wat direk met my subspesialiteit verband hou, wat nog te sê van dié oor die wyer veld van interne geneeskunde. Dit sou ’n onmoontlike taak wees om deur die hele hooimied van mediese literatuur te soek na daardie verwysings wat dalk ’n paar baie spesifieke oplossings bied vir die probleme wat ek in die bloedlose behandeling van my pasiënte teëkom. Die Genootskap kom weer eens tot my redding deur ’n magneet te voorsien waarmee ek die naald van toepaslike navorsing uit daardie spreekwoordelike hooimied van tydskrifartikels kan trek.
“Die nuwe inligting wat voortdurend van Brooklyn kom, help my om op hoogte te bly van die jongste verwikkelinge wat my praktyk kan beïnvloed. Dit is baie deegliker en boeiender as enige rekenaardiens wat tydskrifte bespreek waarmee ek bekend is. Natuurlik moet dit so wees, veral wanneer daar oorweeg word wat op die spel is.”—Deur dr. Stephen E. Pope, ’n kardioloog van die San Franciscobaai-gebied, in Kalifornië, VSA.
[Venster op bladsy 20]
• In die Verenigde State is nagenoeg 18 000 dokters bereid om Jehovah se Getuies van bloedlose mediese sorg te voorsien. Wêreldwyd is daar 50 000 sulke dokters.
• In die Verenigde State is daar 45 mediese sentrums waar bloedlose geneeskunde en chirurgie beskikbaar is. Wêreldwyd is daar 80 sulke sentrums.