“Dit was baie moeilik om sonder hom groot te word”
“EK SKRYF nadat ek ons jongste byeenkomsvrystelling, Wanneer ’n geliefde sterf, gelees het, om my diepe en opregte dankbaarheid te betuig vir ’n uiters geloofversterkende brosjure wat op so ’n sensitiewe wyse geskryf is.
“Ek is 18 jaar oud. My pa is dood in ’n motorongeluk toe ek agt was, en al was dit tien jaar gelede, is daar nog steeds ’n groot eensaamheid in my. Dit was baie moeilik om sonder hom groot te word. Daar is soveel dinge wat ek hom wou vertel het, met hom wou gedeel het, oor hom wou uitgevind het. Hoe ongelooflik vertroostend is dit tog om aan Jehovah se liefdevolle opstandingshoop herinner te word! Dit bring trane in my oë. Nogmaals dankie dat julle my hoop hernieu het.”—’n Jong Getuie in Oostenryk.
Tientalle soortgelyke briewe is deur die Wagtoringgenootskap se kantoor in New York ontvang. Die brosjure met 32 bladsye, wat nou in 18 tale uitgegee word, bied vertroosting aan miljoene mense. As jy oor ’n afgestorwe geliefde treur, kan jy gerus uitvind hoe om ’n eksemplaar van hierdie publikasie te ontvang deur te skryf aan Wagtoring, Privaatsak X2067, Krugersdorp, 1740 of na die gepaste adres op bladsy 5.