Van ons lesers
Tuisonderrigting Ek het julle artikel “Tuisonderrigting—Is dit vir jou?” waardeer (8 April 1993). Ek self word tuis onderrig, en ek het agtergeraak met my skoolwerk. Maar toe ek julle artikel gelees het, het dit my aangespoor. Nou probeer ek bybly.
N. S., Verenigde State
Gesinsbeplanning Ek het my vreeslik vererg toe ek julle hoofartikels van 22 Februarie 1993 oor “Gesinsbeplanning—’n wêreldwye vraagstuk” gelees het. Dit is belaglik om voor te stel dat verantwoordelike Christene die grootte van hulle gesin moet beperk. Op watter grondslag sê julle dat God se bevel in Genesis [‘om die aarde te vul’] nie op Christene van toepassing is nie?
A. D., Verenigde State
God se bevel aan Adam en Eva om ‘die aarde te vul’, is aan Noag en sy gesin herhaal. Maar nêrens in die Bybel word die voortplantingsopdrag aan Christene opgelê nie (Genesis 1:28; 9:1-5; Handelinge 15:29). Trouens, die Bybel prys Christene wat “ter wille van die koninkryk” ongetroud bly (Mattheüs 19:12; 1 Korinthiërs 7:38). Elke egpaar moet dus hulle eie besluite met betrekking tot kinders en geboortebeperking neem. Aangesien Christene beveel word om in die fisiese, emosionele en geestelike behoeftes van hulle kinders te voorsien, sal verantwoordelike ouers dalk meen dat dit verstandig is om die grootte van hulle gesin te beperk sodat hulle hierdie sorg kan voorsien (1 Timotheüs 5:8). Dit ondermyn geensins die feit dat kinders ‘’n erfdeel van Jehovah’ is nie (Psalm 127:3).—RED.
Alkoholisme Dankie vir die uitstekende “Jongmense vra . . .”-artikels in die nommers van 8 en 22 Januarie 1993, met die titels “Kan ek regtig aan drank verslaaf raak?” en “Hoe kan ek ophou drink?” Ek is 48 jaar oud en ’n alkoholis [wat die probleem nou te bowe kom]. Die verwoestende gevolge van hierdie “siekte” van die liggaam, verstand en gees is hartverskeurend. Toe ek begin besef dat ek aan alkohol verslaaf is, het ek gevoel asof Jehovah my nooit sou vergewe nie. Maar ek het na die ouere manne toe gegaan, en hulle het my liefdevol gehelp. Ná ’n terugval het ek by ’n alkoholbehandelingsprogram aangesluit. Wanneer ek nou die drang na drank kry, bid ek en peins ek oor God se nuwe wêreld. Ek lees ook die talle artikels oor alkoholisme in Die Wagtoring en die Ontwaak! of dié wat bemoedigende lewensverhale bevat. Dankie vir julle begrip van die probleme wat Jehovah se volk ondervind en vir die goeie artikels wat julle voorsien.
C. D., Verenigde State
Jongmense vra . . . Ek wil julle opreg bedank vir die artikel “Moet ek skooldanse bywoon?” (8 Maart 1993). Ek was onder baie druk om “my” afskeid by te woon. Maar nadat ek hierdie kosbare artikel gelees het, het al my twyfel verdwyn. Ek gaan dit nie bywoon nie, en ek dink nie dat ek veel gaan mis nie.
J. L., Verenigde State
Dankie vir die artikel “So baie huiswerk—Wat kan ek doen?” (8 April 1993). Ek het die wenke daarin onmiddellik toegepas, en ek trek werklik voordeel daaruit. Nou kan ek meer tyd aan geestelike dinge bestee. Baie dankie!
M. M., Italië
Baie dankie dat julle die artikel “Hoe kan ek ’n mislukte romanse verwerk?” gepubliseer het (8 Mei 1993). Ek beleef ’n baie moeilike tydperk. Dikwels lyk dit asof ek nooit gaan trou nie. Terwyl ek dus hierdie tydskrif gelees het, het ek nie die krag gehad om my trane in te hou nie. Maar nadat ek dit gelees het, het ek gevoel dat ek verstaan en waardeer word. Dit het my meer laat besef dat Jehovah ons liefhet en verstaan wat ons deurmaak.
R. Z., Italië