Springende musikante van die insekwêreld
ONS gee toe dat ons ’n buitensporige eetlus het. En dit is so dat ons eetlus die boere woedend kan maak omdat hulle ons as ’n pes beskou wat hulle gesaaides vernietig. Ons as sprinkane het nietemin ’n paar interessante kenmerke—die manier waarop ons spring, vlieg, klim en “musiek” maak.
Het jy byvoorbeeld geweet dat ons vyf oë het? In plaas daarvan dat ons soos baie mense ’n bifokale bril moet dra, het ons drie klein ogies in ons voorkop om naby te kan sien. Ons ander twee oë is groot en sit verder terug op ons kop sodat ons kan sien wat reg rondom ons gebeur. Daarom kan ons altyd voor jou bly. Sal jy nie graag sulke oë wil hê nie?
Hoe goed kan ons spring? Ons kan tien keer hoër as ons eie hoogte spring en omtrent 0,9 meter ver spring. As ’n mens dit wil naboots, sal jy so hoog soos ’n sesverdiepinggebou moet spring. Ons geheim is die uiters kragtige spiere in ons agterbene. Hulle gee ons die skopkrag om sulke hoogtes te bereik.
Selfs nadat ons uit jou pad gespring het, kan ons dit vir jou nóg moeiliker maak om ons te vang deur ons twee paar vlerke te gebruik. Die harde, boonste vlerke verrig dieselfde funksie as vliegtuigvlerke, terwyl die delikater onderste vlerke as ’n bykomende aandrywingsmiddel dien. Deur ons vaardighede van spring en vlieg saam te gebruik, kan ons dus gewoonlik ver genoeg wegvlieg dat jy sal ophou om ons te agtervolg.
Is dit vir jou moeilik om teen ’n vetgesmeerde paal uit te klim? Nie vir ons nie. Trouens, ons kan teen ’n glibberige grashalm ophardloop en skaars gly, danksy die manier waarop die Skepper ons ses pote ontwerp het. Op elke poot is daar piepklein kussinkies met fyn haartjies wat ’n taai vloeistof afgee en ons help om stewig aan dinge vas te klou. Daarbenewens is elke poot toegerus met twee sterk, gestekelde kloue wat keer dat ons agteruit teen steiltes afgly. Ja, nog lank voordat mense aan bergklim gedink het, was ons al goed toegerus om te klim.
Die mannetjies is die musikante. Hulle beïndruk dan ook die wyfies, wat hulle as taamlik begaafd beskou. Ja, ons kan hoor en op verskillende klanke reageer. Ons ore is weerskante van ons borsstuk. Wanneer die mannetjie dus wil, sal hy ’n skurwe agterbeen saggies oor die uitstaande aartjies van ’n vlerk trek, net soos ’n violis sy strykstok oor die snare van sy viool trek. Hoe kalmerend is dit tog om op ’n warm midsomersdag in die veld te lê en na die simfonie van duisend sprinkane en krieke te luister. A, die klank van somer!