“Dokters heroorweeg bloedoortappings”
“Program wat ontwerp is om Jehovah se Getuies te help, hou voordele vir almal in”
Kris Newcomer, ’n mediese skrywer, het onder hierdie opskrifte in die Rocky Mountain News gesê: “Meer as 100 dokters van Denver het saamgespan om Jehovah se Getuies tegemoet te kom, wat bloed as ’n heilige vloeistof beskou wat nie geskenk of gedurende chirurgie en ander mediese prosedures oorgetap mag word nie.” Dr. Greg van Stiegmann van die Program vir Bloedlose Geneeskunde en Chirurgie by die Universiteitshospitaal in Denver, Colorado, Verenigde State, het gesê: “Wat gebeur het, is dat ons fakulteitslede wat bereid is om hulle werkswyse te verander ’n groep laat vorm het.”
Dr. Van Stiegmann het gesê dat hoewel die program in die behoeftes van Jehovah se Getuies sal voorsien, hulle nie die enigstes is wat bloed weier nie. Daar is ’n toenemende aantal mense wat beter daaraan toe sal wees as hulle nie bloed ontvang nie. “Ons probeer ons uiterste bes om vir niemand ’n oortapping te gee nie. . . . Veelvoudige studies laat baie goeie gegewens aan die lig kom wat daarop dui dat ’n mens se finale prognose in verband met jou eerste kankeroperasie baie gunstiger is as jy nie voor of na jou operasie ’n oortapping ontvang het nie”, het dr. Van Stiegmann gesê.
Die artikel het verder gesê: “Die verandering in die moderne geneeskunde se perspektief is welkome nuus vir die nagenoeg 10 000 Getuies van Jehovah in Colorado. Die Ou-Testamentiese boek Genesis bevat die gedeelte: ‘Die vleis met sy siel, met sy bloed, mag julle nie eet nie’, wat vir Getuies beteken dat geen bloed hoegenaamd ingeneem mag word nie, ook nie deur oortapping nie.”