Die antwoord op ’n gebed
’N VROU van Christchurch, Nieu-Seeland, sê die Ontwaak!-artikels oor “Hoe die letsels van kindermolestering genees kan word” was ’n antwoord op haar gebed. Sy verduidelik:
‘In Augustus 1991 het ’n paar van ons die verskriklike ondervinding gehad om te sien hoe ’n vriendin die pyn verduur wat dit meebring wanneer ’n mens onthou hoe jy gemolesteer is. Ek was ongeveer drie dae lank baie geskok, maar ons het vurig tot Jehovah gebid en ’n tydskrif gevra wat die onderwerp bespreek. Ons het hulp nodig gehad. Ons het net vyf weke gewag. Ek wil julle namens die talle, talle slagoffers bedank vir die uitstekende, liefdevolle artikels in die Ontwaak! van 8 Oktober 1991.’
Die bostaande is slegs een van honderde briewe van waardering vir die Ontwaak! oor kindermolestering. In ’n ander brief wat vroeër vanjaar ontvang is, het die skrywer gesê dat sy die artikels eers na verskeie probeerslae kon deurlees, want sy kon nie ophou huil nie. Sy sê:
“Emosies wel in my op selfs nou terwyl ek my waardering probeer uitspreek vir die tyd en energie wat daaraan bestee is om dié van ons te help wat so vernederd en skuldig gevoel het nadat ons seksueel en emosioneel verkrag is deur iemand wat ons kwansuis ‘liefgehad het’ toe ons so jonk en kwetsbaar was. Ek het geen idee gehad dat soveel ander soortgelyke ondervindinge gehad het nie. Ek sukkel steeds om die gevoelens te verwerk, maar die wenke op bladsye 10 en 11 help baie. Ek het soveel om te sê, maar ek hoef net te sê dat ek Jehovah dank dat julle op hom vertrou het vir moed om oor so ’n moeilike onderwerp te skryf.”
Nog iemand het gesê: “Dit was tot dusver een van julle voortreflikste artikels oor menseverhoudinge. Dit het hierdie sataniese gebruik en die wat daaraan skuldig is aan die kaak gestel, en dit het aan dié wat nie slagoffers is nie, verduidelik watter ernstige skade dit aanrig; die slagoffers is vertroos en voorgelig. Hulle kan nou baie medelye en onderskraging van God se volk verwag.”
Jehovah se Getuies is ’n internasionale organisasie van meer as viermiljoen Bybelstudente wat hulle daaraan toewy om mense te help met hulle probleme en meer omtrent God se voornemens te leer. As jy graag meer inligting of ’n gratis tuisbybelstudie wil hê, skryf gerus aan Wagtoring, Privaatsak X2067, Krugersdorp, 1740 of aan die gepaste adres op bladsy 5.