“Net vir my geskryf”
DIT is wat ’n jong meisie van St. Lucia in Wes-Indië oor die boek Jou jeug—Hoe om dit ten beste te benut gesê het. “Toe ek by hoofstuk 5 kom”, het sy verduidelik, “het ek gesien dat die inligting net vir my geskryf is. Dit was oor masturbasie en homoseksualiteit.
“Masturbasie is een van my groot probleme. Drie jaar lank stry ek al om dit te oorkom. Ek het selfs gedink dat ek die enigste een in die hele wêreld is wat dit doen. Ek dank God dat hy julle hierdie waardevolle boek laat skryf het wat my raad gegee het oor wat om te doen. Ek pas julle wenke vir die probleem toe.
“My tweede probleem is in verband met kêrels. Ek is al baie keer op hierdie gebied teleurgestel. My huidige kêrel het ’n ander meisie, en dit lyk asof hy liewer vir haar is as vir my. Ek weet net nie wat om te doen nie.
“Ek moet egter sê dat wanneer my vriende, veral my kêrel, my seermaak ek net hierdie boekie neem en dit lees. Dit help my baie. Ek kry baie raad daaruit waaraan ek nooit gedink het nie. Nadat ek baie hoofstukke in hierdie rooi boekie gelees het, wou ek net gaan sit en huil. Hoofstukke 8 en 23 het my werklik opgebeur en vertroos.”
Dit is beslis nie maklik om in hierdie swaar tye groot te word nie. Jongmense kom voor talle nuwe situasies te staan en moet belangrike besluite neem. Moet ek rook? Dwelms aanvaar? Wat is die korrekte gedrag teenoor iemand van die ander geslag? As jy graag meer inligting of ’n gratis tuisbybelstudie wil hê, skryf gerus aan Wagtoring, Privaatsak X2067, Krugersdorp, 1740, of aan die gepaste adres op bladsy 5.