Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g92 7/22 bl. 14
  • ‘Sedelike verdorwenheid in hoër onderwys’

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • ‘Sedelike verdorwenheid in hoër onderwys’
  • Ontwaak!—1992
  • Soortgelyke materiaal
  • Geldsake
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2009
  • Hoe om met minder geld klaar te kom
    Nog onderwerpe
  • 2 | Beskerm jou geld en besittings
    Ontwaak! – 2022
  • Ondersteuning van die Koninkrykswerk – Plaaslik en wêreldwyd
    Georganiseer om Jehovah se wil te doen
Sien nog
Ontwaak!—1992
g92 7/22 bl. 14

‘Sedelike verdorwenheid in hoër onderwys’

“DIE rekenings van 14 van die land [VSA] se mees vooraanstaande universiteite word reeds die afgelope 6 maande deur ’n span ouditeure ondersoek om uitgawes op te spoor wat ‘per abuis’ van die regering teruggeëis is. ‘Ons het gevind dat die 14 universiteite ongeveer $20,4 miljoen se ontoelaatbare uitgawes ingesluit het’”, het die ouditeure volgens ’n verslag gesê wat in die Britse tydskrif New Scientist van 25 Januarie 1992 gepubliseer is.

Die regeringsouditeure het verlede jaar begin ondersoek instel nadat daar ontdek is dat die Stanford-universiteit hulle ongeveer $25 miljoen van die belastingbetalers se geld wederregtelik toegeëien het. Die uitgawes het die volgende ingesluit: vars blomme daagliks vir die rektor van die universiteit se huis, ’n huweliksonthaal, waardevermindering op ’n seiljag, ledegeld vir ’n buiteklub en die bedryfskoste van ’n winkelsentrum. Toe Donald Kennedy, wat op daardie stadium die rektor van die Stanford-universiteit was, met hierdie onaangename feite gekonfronteer is, het hy gesê dat hy “uitgawes wat maklik deur die publiek verkeerd verstaan kan word”, sal uitskakel, en sodoende sal “enige verwarring vermy word wat dalk daardeur kan ontstaan”. Die Boston Herald van 1 Januarie 1992 het soos volg oor sy antwoord kommentaar gelewer: “Die enigste probleem was met ander woorde dat die groot ongeskoolde publiek buite die kampus dalk nie sou kon verstaan wat die edele opvoedkundiges in die akademiese wêreld doen nie.”

Dit was ná hierdie openbarings oor die Stanford-universiteit dat Amerikaanse regeringsouditeure op hulle meer onlangse ondersoek van die 14 universiteite gestuur is en die verdere bedrogspul van $20,4 miljoen ontdek het. Vername universiteite soos die Universiteit van Michigan, Johns Hopkins, Yale en Emory was daarby betrokke. Uitgawes wat deur die 14 universiteite ingedien is, het items ingesluit soos “vliegkaartjies vir die rektors se vrouens; ’n vliegkaartjie na die Grand Canyon om ’n vergadering van beleggers by te woon; talle uitgawes om voetbalwedstryde by te woon; onkoste om iemand te huur om verhale by ’n Kersparty te vertel en ledegeld vir universiteitsatletiekverenigings asook vir verskeie sosiale klubs, waaronder ’n seiljagklub”.

Toe die federale ondersoekbeamptes aangekondig het dat hulle MIT (Tegnologiese Instituut van Massachusetts) en die Harvard-universiteit ook gaan besoek, het hierdie institute groot besnoeiings aangekondig. MIT het sy eise vir navorsingsuitgawes met $731 000 verminder; Harvard het sy uitgawes met $500 000 verminder. Die Duke-universiteit het “agtelosige foute” ontdek in die bedrae wat hulle teruggeëis het. Cal Tech (die Kaliforniese Instituut vir Tegnologie) het besluit dat hulle nie meer hulle ledegeld vir buiteklubs van die regering sou terugeis nie. Die Universiteit van Pittsburgh sou nie meer belastingbetalers se geld gebruik om vir operakaartjies of vir vliegkaartjies vir die rektor en sy vrou na die Grand Cayman-eiland te betaal nie.

The Boston Herald het gesê: “Die sedelike verdorwenheid strek veel dieper as geldsake. Dít is maar net toevallig waar iemand ’n klip omgerol het en die publiek laat sien het wat daaronder rondkruip. . . . Die skandale by Stanford en ander vooraanstaande institute ten opsigte van hulle uitgawes gaan nie soseer oor die somme geld wat daarby betrokke is as oor die feit dat dit ’n simptoom van ’n dieperliggende sedelike mislukking is nie. Dit is net die publiek se verontwaardiging en institusionele veranderinge self wat waarskynlik die neiging sal stuit.”

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel