Van ons lesers
Parfuum Dit is vir my moeilik om te sê presies hoe teleurgesteld ek was toe ek die artikel “Daardie duur parfuums” gelees het (8 Oktober 1991). Dit verduidelik hoe mense parfuum kan kies sonder enige waarskuwings oor die nadelige uitwerking daarvan op talle mense wat aan omgewingsiekte ly! Duisende het ’n ernstige of matige allergie vir parfuums. Waarom moet die probleem vererger word?
C. M., Verenigde State
Ons waardeer hierdie opmerkings. Maar die Bybel veroordeel nie die gebruik van reukwater nie, dus kan mense self hieroor besluit. (Vergelyk Exodus 30:7; Johannes 12:3-5, “NAV”.) ’n Christen sal nietemin die nadelige gevolge wat parfuum op ander kan hê, in ag wil neem, byvoorbeeld tydens gemeentelike vergaderinge.—RED.
Godsdienstig verdeelde huisgesinne Dankie vir die artikel “Jongmense vra . . . Sê nou my ouers ondersteun my nie in my godsdiens nie?” (8 Januarie 1992). Dit is dikwels baie moeilik en soms ontmoedigend wanneer ’n mens God dien sonder jou gesin se ondersteuning. Julle het my gehelp om te besef dat ek baie ondersteuning van die “gesin” in die Christengemeente ontvang.
S. H., Verenigde State
Aangesien my huweliksmaat ’n ongelowige is, het ek dieselfde gebrek aan ondersteuning ondervind. Die artikel het my gehelp om te besef dat ek bygedra het tot die probleem deur nors en stryerig te wees. Ek het die eenvoudige maar goeie raad nodig gehad om die inisiatief te neem om hulp in die gemeente te kry. Dankie dat julle my gehelp het om my situasie objektief te beskou.
K. V., Verenigde State
Radon Julle het ’n fout gemaak in julle artikel “Radon—’n Gevaar in jou huis?” (22 Oktober 1991). Julle sê: “Die tyd waarin ’n radioaktiewe stof verval, word sy halfleeftyd genoem.” Hoewel die tyd waarin ’n stof verval en sy halfleeftyd met mekaar verband hou, is dit nie dieselfde nie.
J. G., Verenigde State
Dankie dat jy hierdie punt onder ons aandag gebring het. Dit sou akkurater gewees het om te sê dat die halfleeftyd die tyd is wat dit neem vir die helfte van die atome in ’n radioaktiewe stof om te verval. Die tyd waarin ’n stof verval (aantal atome wat elke sekonde verval), verminder namate die aantal radioaktiewe atome wat oorbly, verminder.—RED.
Sport As ’n onderwyser wat liggaamlike opvoeding en sport aanbied, het ek veral belanggestel in die reeks “Sport—Watter plek beklee dit?” (22 Augustus 1991). Julle identifisering van die perversiteite en gevare van hedendaagse sport, soos oormatige kompetisie, handelsbelange, geweld en bedrog is korrek. Maar daar is ’n merkbare verskil in die manier waarop sport in Europa en in die Verenigde State benader word; julle artikels het amper uitsluitlik van Amerikaanse sport gepraat.
S. O., Frankryk
Daar het al dikwels artikels oor sport in die “Ontwaak!” verskyn wat uit ’n internasionale oogpunt aangebied is, waaronder etlike verhale deur atlete uit Europa, Afrika en Latyns-Amerika. En hoewel die onlangse artikels op Amerikaanse sport toegespits was, glo ons dat lesers in verskillende lande daarby kan baat vind as hulle die Bybelbeginsels toepas wat daarin bespreek is.—RED.
Ek is ’n sprekende voorbeeld van die feit dat sport, of “liggaamlike oefening”, werklik “tot weinig nut” is. Op skool het ek in die vlugbalspan gespeel en geesdriftig aan wedstryde en kompetisies deelgeneem. Maar ek het nie in goeie geselskap verkeer nie, en ek het geestelik swak geword. Baie tyd is dus daardeur verspil. Nadat ek die skool verlaat het, het ek besluit om my aan Jehovah toe te wy en die voltydse bediening te betree. Vandag verskaf dit my groot vreugde aangesien ‘godsaligheid vir alles nuttig is’.—1 Timotheüs 4:8.
P. G., Brasilië