Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g92 5/22 bl. 4-5
  • Hoe kan die gesin help?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Hoe kan die gesin help?
  • Ontwaak!—1992
  • Soortgelyke materiaal
  • Een van my ouers is ’n alkoholis—Hoe kan ek daarmee saamleef?
    Ontwaak!—1992
  • ’n Alkoholis in die gesin
    Ontwaak!—1992
  • Genesing is moontlik
    Ontwaak!—1992
  • Jy kan probleme te bowe kom wat ’n gesin skade berokken
    Die geheim van gesinsgeluk
Sien nog
Ontwaak!—1992
g92 5/22 bl. 4-5

Hoe kan die gesin help?

“Eers neem die man ’n drankie en dan neem die drankie ’n drankie en uiteindelik neem die drankie die man.”—’n Oosterse gesegde.

JY LOOP op die randjie van ’n moeras. Skielik gee die grond mee. Binne oomblikke sink jy in dryfsand weg. Hoe meer jy spartel, hoe dieper sink jy weg.

Alkoholisme verswelg die hele gesin op ’n soortgelyke wyse. Die medeafhanklike huweliksmaat spook desperaat om die alkoholis te verander. Gemotiveer deur liefde dreig sy hom, maar hy hou aan drink. Sy steek sy drank weg, maar hy koop net nog. Sy steek sy geld weg, maar hy leen by ’n vriend. Sy doen ’n beroep op sy liefde vir die gesin, vir die lewe, selfs vir God—maar dit is tevergeefs. Hoe meer sy spook, hoe dieper sink die hele gesin in die moeras van alkoholisme weg. Om die alkoholis te help, moet lede van die gesin eers die aard van alkoholisme verstaan. Hulle moet weet waarom party “oplossings” feitlik altyd sal misluk, en hulle moet leer watter metodes werklik werk.

Alkoholisme is meer as net dronkenskap. Dit is ’n chroniese drinkversteuring wat gekenmerk word deur ’n beheptheid met alkohol en ’n verlies aan beheer oor die inname daarvan. Hoewel die meeste kenners saamstem dat dit nie genees kan word nie, kan alkoholisme met ’n program van lewenslange onthouding gestuit word.—Vergelyk Mattheüs 5:29.

In party opsigte kan die situasie vergelyk word met dié van ’n diabeet. Hoewel die diabeet nie sy toestand kan verander nie, kan hy met sy liggaam saamwerk deur suiker te vermy. Net so kan ’n alkoholis nie sy liggaam se reaksie op drank verander nie, maar hy kan in harmonie met sy versteuring werk deur hom heeltemal van alkohol te onthou.

Maar dit is makliker gesê as gedaan. Die alkoholis word deur ontkenning verblind. ‘Ek is nie so sleg nie.’ ‘My gesin dryf my tot drank.’ ‘Wie sal nie wil drink met ’n baas soos myne nie?’ Sy rasionalisering is dikwels so oortuigend dat die hele gesin dalk aan die ontkenningsproses meedoen. ‘Julle pa moet aan die einde van die dag ontspan.’ ‘Pa moet iets drink. Hy moet soveel geneul van Ma verduur.’ Enigiets solank die gesin se geheim, dat Pa ’n alkoholis is, nie blootgelê word nie: “Dit is die enigste manier waarop hulle ook kan bestaan”, verduidelik dr. Susan Forward. “Leuens, verskonings en geheime is in hierdie huise so volop soos suurstof.”

Gesinslede kan die alkoholis nie uit die dryfsand trek voordat hulle hulleself eers uitkry nie. Party gesinslede maak dalk beswaar: ‘Dit is die alkoholis wat hulp nodig het, nie ek nie!’ Maar dink hieroor na: Hoeveel word jou emosies en dade deur die alkoholis se gedrag beïnvloed? Hoe dikwels laat sy dade jou kwaad, besorg, gefrustreerd en bevrees voel? Hoe dikwels bly jy tuis om na die alkoholis om te sien wanneer jy by belangriker aktiwiteite betrokke moet wees? Wanneer die gesinslede wat nie alkoholiste is nie stappe doen om hulle eie lewe te verbeter, volg die alkoholis dalk hulle voorbeeld.

Hou op om die blaam op jou te neem. ‘As jy my beter behandel, sal ek nie hoef te drink nie’, beweer die alkoholis dalk. “Die alkoholis moet jou dit laat bly glo sodat hy die verantwoordelikheid van sy drinkery op jou kan afskuif”, sê raadgewer Toby Rice Drews. Moenie dit glo nie. Die alkoholis is nie net van alkohol afhanklik nie, maar ook van mense wat hom in sy ontkenning sterk. Gesinslede kan dus onwetend die alkoholis se drinkery aanmoedig.

Die Bybelspreuk oor opvlieëndheid kan net so op die alkoholis van toepassing wees: “Laat hom die gevolge dra. As jy hom een keer uit die moeilikheid help, sal jy dit weer moet doen” (Spreuke 19:19, Today’s English Version). Ja, laat die alkoholis sy werkgewer bel, homself bed toe sleep en skoonmaak waar hy gemors het. As die gesin sulke dinge vir hom doen, help hulle hom net om homself dood te drink.

Kry hulp. Dit is moeilik en miskien selfs onmoontlik vir ’n gesinslid om self uit die dryfsand te kom. Jy het ondersteuning nodig. Steun swaar op vriende wat nie die alkoholis se ontkenning sal ondersteun nie en jou nie in die situasie sal los waarin jy is nie.

As die alkoholis instem om hulp te verkry, is dit ’n rede vir groot vreugde. Maar dit is net die begin van die herstelproses. Die fisiese afhanklikheid van alkohol kan binne ’n kwessie van dae deur ontgifting beëindig word. Maar die sielkundige afhanklikheid is baie moeiliker om te beheer.

[Venster op bladsy 5]

Kenmerkende eienskappe van alkoholiste

Beheptheid: Die alkoholis sien gretig uit na sy drinktye. Wanneer hy nie alkohol drink nie, dink hy aan alkohol.

Geen selfbeheersing: Sy drinkery is dikwels anders as wat hy hom voorneem, ongeag hoe vasbeslote hy is.

Onbuigsaamheid: Selfopgelegde gedragslyne (“Ek drink nooit alleen nie”, “nooit gedurende werkstyd nie”, ensovoorts) is bloot ’n rookskerm vir die alkoholis se werklike reël: “Niks mag met my drinkery inmeng nie.”

Toleransie: ’n Buitengewone vermoë om ‘jou drank te kan vat’, is nie ’n seën nie—dikwels is dit ’n vroeë teken van alkoholisme.

Negatiewe gevolge: Normale gewoontes verwoes nie jou gesin, loopbaan en fisiese gesondheid nie. Alkoholisme doen dit wel.—Spreuke 23:29-36.

Ontkenning: Die alkoholis rasionaliseer, vergoelik en verskoon sy gedrag.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel