Loof Jehovah in ’n verenigde koor
‘DIE sang was so pragtig dat dit my hoendervleis gegee en my tot trane beweeg het. Geen musiekinstrumente was nodig nie, en wat soos ingewikkelde meerstemmige sang geklink het, is met verbasende gemak bemeester. Die harmonie was voortreflik.’
Dit is wat Nathan H. Knorr, die voormalige president van die Wagtoringgenootskap, gesê het nadat hy ’n byeenkoms van Jehovah se Getuies in Zambië bygewoon het. Dit is ’n goeie beskrywing van die aangrypende klank van die stemme van honderde swart broers wat harmonieus saam sing.
Sang is ’n deel van die kultuur in Afrika. In ’n tipiese stat is dit niks snaaks om te sien hoe vroue op die maat van tradisionele liedjies skoffel, hoe jongmense hulle geliefkoosde wysies neurie terwyl hulle die koeie melk en hoe mans eentonige deuntjies oor en oor sing asof hulle die osse daardeur wil aanspoor om hulle swaar vrag te trek nie. Daar is ’n lied vir feitlik elke bedrywigheid in die stat.
Kinders word in baie skole in Afrika deur middel van die solfametode geleer om te sing. Wat is die solfametode? Dit is basies ’n leermetode wat gegrond is op die “do, re, mi”, wat ’n hele paar jaar gelede deur ’n welbekende musiekrolprent bekend gemaak is. Do, re, mi, fa, sol, la, ti, en do stem ooreen met die agt note van ’n toonleer wat op Westerse musiekinstrumente gespeel word. Hierdie letternotasiestelsel gebruik dubbelpunte, strepe, kommas en lyntjies om die aantal maatslae in ’n maat en die duur van die note aan te dui. Die vier stemme (sopraan, alt, tenoor en bas) word onder mekaar geskryf en dit is hierdie samesmelting van die stemme wat sulke aangrypende musiek voortbring. Baie is dit eens dat dit baie makliker is om hierdie metode te leer en daarvolgens te sing as die balknotasie wat algemener gebruik word.
Die melodieë in die liedereboek Sing lofliedere voor Jehovah wat deur Jehovah se Getuies gebruik word, is dus vir al die swart broers in Afrika volgens die solfametode getranskribeer. Eers is daar baie ure voor ’n klavier deurgebring om die melodieë in konvensionele vierstemmige harmonie oor te skryf. Daarna is elke stem om die beurt na die letternotasie van die solfastelsel verander. Vervolgens is iemand wat die solfastelsel ken, gevra om deur elke stem van elke lied te sing om die akkuraatheid van elke noot na te gaan. Rekenaars is toe gebruik om die letters van die solfanotasie bo die woorde van elke lied aan te bring. Eindelik kon die maklik leesbare musiek wat jy op hierdie bladsy sien persklaar gemaak word.
Die gevolg? Jehovah se Getuies in Afrika kan hulle stemme in vreugdevolle lof tot Jehovah laat saamsmelt. Die woorde van een van die liedere spreek hulle gevoelens goed uit: “Laat almal met die hande klap; jubel oor Gods regering. ’n Loflied sing ons vreugdevol, eensgesind, met waardering.”
[Diagram van Koninkrykslied volgens solfametode op bladsy 27]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)