Reaksie op Die mensdom se soeke na God
EEN van die hoogtepunte van die “Suiwer Taal”-Streekbyeenkomste, wat deur Jehovah se Getuies van die middel van 1990 tot vroeg in 1991 gehou is, was die vrystelling van die boek Die mensdom se soeke na God. Dit gee ’n bondige verduideliking van die oorsprong, geskiedenis en opvattings van die vernaamste godsdienste van die wêreld, en dit toon hoe die ware God gevind kan word. Hoe het lesers van oor die hele wêreld daarop gereageer?
“My opregte lof vir Die mensdom se soeke na God”, het E. G., ’n nie-Getuie van Duitsland geskryf. “So ’n breedvoerige en deeglike ondersoek van individuele godsdienste is werklik merkwaardig en verskaf boeiende leesstof. Verder ontbreek dit die boek nie aan logiese argumente nie. Inteendeel, ek kan mense net aanraai om hulle godsdiens aan die hand van hierdie boek te ondersoek.”
’n Leser van Flushing, New York, VSA, het geskryf: “Ek is ’n Moslem en Al-Islaam is my godsdiens. Ek waardeer julle nuwe boek Die mensdom se soeke na God. Ek waardeer veral die informasie wat julle oor my godsdiens het.”
In Nederland het A. v. D., ’n 17-jarige, ’n eksemplaar van die boek by ’n medeleerling gelaat wat dit in die voorbereiding van ’n skooltaak gebruik het. Die onderwyser wou weet wat die bron van haar materiaal was. Toe hy die boek sien, het hy drie eksemplare bestel. A. v. D. vertel verder: “Die volgende dag het ek drie nuwe boeke vir die onderwyser gegee, wat hy dadelik vir sommige van die ander onderwysers gewys het. ’n Rukkie later het hy vir my gesê: ‘Dit is in die haak. Ek het die goedkeuring van die skooladministrasie om 35 van hierdie boeke te bestel.’”
’n Egpaar het uit Brits-Columbië, Kanada, geskryf: “Die mensdom se soeke na God kan heel moontlik ’n invloed op meer mense uit meer kulturele agtergronde hê as wat enige ander Wagtoring-publikasie nog gehad het.”
Uit Le Havre, Frankryk, het M. H. geskryf: “Ek moet sê dat hierdie boek my verwagtinge heeltemal oortref het; dit is so duidelik, noukeurig en aantreklik. Magnifique!”
H. W. W. van Texas, VSA, het geskryf: “Hierdie boek was so interessant en boeiend dat ek dit nie kon neersit nie. Ek het dit tot laat in die nag gelees. Die gehalte is puik. Die boek bespreek die opvattings van ander mense op ’n redelike en eerbiedige manier terwyl dit hulle aanmoedig om aan te hou om na die ware God, Jehovah, te soek. En die woorde word op ’n baie persoonlike manier oorgedra, amper asof iemand langs jou sit en met jou gesels.”
’n Egpaar uit Panama, G. en S., het gesê: “Die Spaanssprekende mense aanvaar die boek geredelik. Hulle is in vervoering oor die kleurfoto’s van die tempels en die afgode.”
D. M., ’n matroos in die Amerikaanse vloot het geskryf: “Ek het eendag ’n dame ontmoet wat gesê het: ‘Wil jy ’n geestelike boek hê?’ en ek het gesê: ‘Ja’, sonder om werklik te weet watter soort boek dit was. Tot my verbasing was dit die soort boek waarna ek al lank gesoek het.”
’n Professor in wêreldgodsdienste aan ’n Amerikaanse universiteit het geskryf: “Die bondige duidelikheid van uitdrukking en die algemene akkuraatheid van die verduideliking van die sentrale leerstellings van die verskillende godsdienste is indrukwekkend. Die aanhalings van talle erkende skrywers op dié gebied toon duidelik dat die skrywer bewus is van hedendaagse geleerdheid en taalgebruik. Daar is absolute eerlikheid en geen geheime oogmerke nie.”
’n Jong meisie, N. Y., het uit die stad Nagoya, Japan, geskryf: “Ek is 12 jaar oud en het geskiedenis as vak op skool. Hierdie boek bespreek Japan se godsdienste breedvoerig. Ek het dit ook terdeë geniet om oor toorkuns en spiritisme in hoofstuk 4 en ‘’n Terugkeer tot die ware God’ in hoofstuk 15 te lees.”
Baie ander briewe van waardering is uit Argentinië, Colombia, Engeland, Puerto Rico en Spanje, sowel as ander lande, ontvang. Sien bladsy 32 as jy graag ’n eksemplaar wil ontvang van Die mensdom se soeke na God, wat nou in 26 tale uitgegee word.