Het die Bybel by Babiloniese skeppingsverhale geleen?
PARTY mense probeer die Bybel se skeppingsverslag in verband bring met mitologiese heidense verslae. Daar was verskeie skeppingsverhale in eertydse Babilon, maar die een wat algemeen bekend geword het, is ’n mite wat te doen gehad het met Mardoek, Babilon se nasionale god. Kortom: die verhaal vertel van die bestaan van die godin Tiamat en die god Apsoe wat die ouers van ander gode geword het. Die dade van hierdie gode het Apsoe so beangs gemaak dat hy besluit het om hulle te vernietig. Maar Apsoe is deur een van hierdie gode, Ea, doodgemaak, en toe Tiamat vir Apsoe se dood wraak wou neem, is sy deur Ea se seun Mardoek doodgemaak, wat haar liggaam toe in twee verdeel het en die een helfte gebruik het om die hemel te maak en die ander helfte in verband met die totstandbrenging van die aarde. Mardoek se daaropvolgende dade het die skepping van die mensdom (met Ea se hulp) ingesluit deur die bloed van ’n ander god, Kingoe, die leier van Tiamat se leër, te gebruik.
Toe die Babiloniese skeppingstafels oorspronklik ontdek is, het party geleerdes verwag dat verdere navorsing ’n ooreenkoms sou toon tussen hulle en die Genesisverslag van die skepping. Party het gedink dat dit duidelik sou word dat die Genesisverslag aan die Babiloniese verslag ontleen is. Maar verdere ontdekkings het die wye gaping tussen die twee verslae net duideliker na vore laat kom. Hulle stem nie ooreen nie. Volgens die publikasie The Babylonian Legends of the Creation and the Fight Between Bel and the Dragon wat deur die kurators van die Britse Museum uitgegee word, “is die fundamentele begrippe van die Babiloniese en die Hebreeuse verslae wesenlik verskillend”. Skrywer P. J. Wiseman sê dus: “Dit is meer as net beklaenswaardig dat baie teoloë aanhou om die uitgediende teorie te herhaal dat die Hebreërs by Babiloniese bronne ‘geleen’ het, pleks van op die hoogte van moderne argeologiese navorsing te bly.”—Creation Revealed in Six Days, Londen, 1949, bladsy 58.
In sy boek Archaeology and the Bible beklemtoon professor George A. Barton boonop hierdie belangrike godsdiensverskil tussen die twee skeppingsverslae: “Die Babiloniese gedig is mitologies en politeïsties. Sy voorstelling van die godheid is geensins verhewe nie. Sy gode bemin en haat, hulle knoei en sweer saam, veg en vernietig. Mardoek, die oorwinnaar, oorwin slegs ná ’n hewige geveg, wat die hoogste eise aan sy kragte stel. Daarteenoor weerspieël Genesis die mees verhewe vorm van monoteïsme. God is so terdeë die meester van al die elemente van die heelal dat hulle sy geringste woord gehoorsaam. Hy beheer alles sonder inspanning. Hy spreek en dit word gedoen. As ons, soos die meeste geleerdes, wel toegee dat daar ’n verband tussen die twee verhale is, is daar geen beter maatstaf vir die inspirasie van die Bybelverslag as om dit met die Babiloniese verslag te vergelyk nie. Wanneer ons vandag die hoofstuk in Genesis lees, openbaar dit steeds aan ons die majesteit en krag van die een God, en dit wek by die hedendaagse mens, net soos in die geval van die eertydse Hebreër, ’n gesindheid om die Skepper te aanbid.”
Met betrekking tot eertydse skeppingsmites in die algemeen is daar gesê: “Daar is nog nie ’n mite gevind wat uitdruklik van die skepping van die heelal praat nie, en dié wat te doen het met die organisasie van die heelal en sy kulturele prosesse, die skepping van die mens en die totstandbrenging van die beskawing word gekenmerk deur politeïsme en die gode se stryd om opperheerskappy, in skerp teenstelling met die Hebr[eeuse] monoteïsme van [Genesis hoofstukke 1, 2].”—New Bible Dictionary, onder redaksie van J. Douglas, 1985, bladsy 247.