Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g91 5/22 bl. 3-5
  • Hoe televisie die wêreld verander het

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Hoe televisie die wêreld verander het
  • Ontwaak!—1991
  • Soortgelyke materiaal
  • Het televisie jou verander?
    Ontwaak!—1991
  • Beheers televisie voordat dit jou beheers
    Ontwaak!—1991
  • Verstandige gebruik van die televisie
    Ontwaak!—2000
  • Maniere om beheer daaroor te kry
    Ontwaak!—2006
Sien nog
Ontwaak!—1991
g91 5/22 bl. 3-5

Hoe televisie die wêreld verander het

GEDURENDE die noordelike somer van verlede jaar het TV die wêreld in ’n sportarena omskep. In Rome, Italië, was die strate verlate. Sowat 25 miljoen Italianers het na die Wêreldbekersokkerwedstryde gekyk. In Buenos Aires, Argentinië, was die strate om dieselfde rede verlate. In Kameroen, Wes-Afrika, het dieselfde grys-blou lig spookagtig deur die vensters geflikker terwyl miljoene mense die spelers saam toegejuig het. In oorloggeteisterde Libanon het soldate televisiestelle op hulle stilstaande tenks gesit om na die wedstryde te kyk. Teen die tyd dat die toernooi sy hoogtepunt bereik het, het nagenoeg een vyfde van die aarde se bevolking daarna gekyk, soos motte na ’n vlam deur die kassie aangetrek, hulle gesigte verlig deur die dowwe glans daarvan.

Hierdie reuse-uitsending op TV was nie uniek nie. In 1985 het bykans ’n derde van die aarde se bevolking—ongeveer 1600 000 000 mense—na die rock-konsert, Live Aid, gekyk. ’n Stuk of twaalf satelliete het die program na sowat 150 lande, van Ysland tot by Ghana, uitgesaai.

TV—hierdie alomteenwoordige kassie is die oorsaak van ’n subtiele revolusie. Die tegnologie het gevorder van die klein, flikkerende skerm van die twintiger- en dertigerjare tot die moderne skerms van vandag, met hulle duidelike kleur en helderheid, en het terselfdertyd wêreldwyd tot ’n groot aanvraag gelei. In 1950 was daar minder as vyfmiljoen televisiestelle in die wêreld. Vandag is daar ongeveer 750 000 000.

Gebeurtenisse soos die Wêreldbekersokkerwedstryde lig net toe watter vermoë TV het om die wêreld in ’n enkele inligtingsnetwerk te verenig. TV het die manier waarop mense van die wêreld rondom hulle leer, verander. Dit het gehelp om nuus en idees, selfs kultuur en waardes, van een land na ’n ander te versprei, en het die politieke en geografiese grense wat vroeër sulke veranderinge gestuit het sonder moeite oorbrug. TV het die wêreld verander. Sommige sê dit kan jou verander.

Johannes Gutenberg word allerweë beskou as die persoon wat groot omwentelinge ten opsigte van kommunikasie teweeggebring het toe hy in 1455 die eerste Bybel gedruk het. Van toe af kon ’n enkele boodskap skielik baie meer mense in ’n korter tydsbestek teen ’n baie laer koste bereik. Regerings het weldra besef watter invloed die pers het en het probeer om deur middel van lisensiewette beheer daaroor uit te oefen. Maar die gedrukte materiaal het al hoe meer mense bereik. In die vroeë negentiende eeu het geskiedskrywer Alexis de Tocqueville opgemerk dat koerante die buitengewone vermoë gehad het om in een dag 10 000 verstande met dieselfde idee te vul.

Neem nou televisie. Dit kan honderde miljoene verstande met dieselfde idee vul—almal oombliklik! En in teenstelling met gedrukte materiaal vereis dit nie dat sy kykers die ingewikkelde leeskuns hoef aan te leer nie, en dit vra hulle ook nie om hulle eie beelde en indrukke te vorm nie. Dit lewer sy boodskappe deur middel van prente en klank en al die lokmiddels wat hulle kan oplewer.

Dit was nie lank voordat politici besef het watter geweldige potensiaal televisie inhou nie. In die Verenigde State het Dwight D. Eisenhower TV skerpsinnig in sy verkiesingsveldtog van 1952 gebruik. Volgens die boek Tube of Plenty—The Evolution of American Television het Eisenhower die verkiesing gewen omdat hy die kandidaat was wat aantrekliker deur die media voorgestel is. Die boek toon dat TV dalk selfs ’n groter rol in John F. Kennedy se oorwinning oor Richard M. Nixon in die verkiesing van 1960 gespeel het. Toe die kandidate op TV debat gevoer het, het Kennedy meer gewildheid by die kykers verwerf as Nixon. Nogtans het die mense wat dieselfde debat oor die radio gehoor het, gemeen dat hulle gelykop was. Waarom die verskil? Nixon het bleek en afgerem gelyk, terwyl Kennedy gesond en sonbruin gelyk het en vertroue en lewenslus uitgestraal het. Ná die verkiesing het Kennedy van televisie gesê: “Ons sou nie ’n kans gehad het sonder daardie toestelletjie nie.”

“Daardie toestelletjie” het voortgegaan om sy invloed wêreldwyd te laat geld. Sommige het dit die derde supermoondheid begin noem. Satelliettegnologie het uitsaaiers in staat gestel om hulle seine oor nasionale grense en selfs oseane heen te stuur. Wêreldleiers het TV as ’n forum gebruik om internasionale steun te werf en hulle teenstanders te kritiseer. Sommige regerings het dit gebruik om propaganda in vyandelike lande uit te saai. En net soos regerings probeer het om Gutenberg se uitvindsel te beheer toe hulle besef het watter invloed dit het, het baie regerings streng beheer oor televisie begin uitoefen. In 1986 het bykans die helfte van alle lande net regeringsbeheerde programme uitgesaai.

Die tegnologie het dit egter al hoe moeiliker gemaak om TV te beheer. Satelliete van vandag stuur seine oor wat selfs in huise met betreklik klein komantennes opgevang kan word. Klein, draagbare videokameras en videokassette in die hande van ’n magdom amateurfotograwe, het dikwels ’n onkeerbare vloed van visuele opnames van bykans enige nuuswaardige gebeurtenis tot gevolg gehad.

Een Amerikaanse nuusorganisasie, Turner Broadcasting’s CNN (Cable News Network), versamel nuusberigte uit sowat 80 lande en saai dit weer oor die hele wêreld uit. Sy wêreldwye dekking van 24 uur per dag kan enige gebeurtenis byna onmiddellik in ’n internasionale vraagstuk verander.

Televisie het al hoe meer van ’n opnemer van wêreldgebeure in ’n vormer van wêreldgebeure verander. TV het in 1989 ’n sleutelrol gespeel in die reeks revolusies wat Oos-Europa geskud het. Skares in Praag, Tsjeggo-Slowakye, het in die strate gesingpraat terwyl hulle op “direkte uitsending” op TV aangedring het. En waar revolusionêre vroeër bloed vergiet het om die een of ander regeringsgebou, vesting of polisievesting in te neem, het die revolusionêre van 1989 allereers geveg om toegang tot televisiestasies te verkry. Trouens, Roemenië se nuwe regering het die land vanuit die televisiestasie begin regeer! Om TV dus die derde supermoondheid te noem, is dalk glad nie so vergesog nie.

Maar TV het meer gedoen as om die politieke arena te beïnvloed. Dit verander nou selfs die wêreld se kultuur en waardes. Die Verenigde State word dikwels van ‘kulturele imperialisme’ beskuldig, met ander woorde, dat hy sy kultuur op die wêreld afdwing deur televisie as medium te gebruik. Aangesien die Verenigde State die eerste land was wat ’n voorraadstapel van winsgewende kommersiële programme opgebou het, kon Amerikaanse vervaardigers in die laat veertiger- en in die vyftigerjare programme aan ander lande verkoop teen ’n breukdeel van wat dit daardie lande sou kos om hulle eie programme te maak.

In die laat tagtigerjare het Kenia tot 60 persent van sy TV-programme ingevoer; Australië, 46 persent; Ecuador, 70 persent; en Spanje, 35 persent. Die meeste hiervan is uit die Verenigde State ingevoer. Een Amerikaanse program, Little House on the Prairie, is in 110 lande uitgesaai. Die program Dallas is in 96 lande vertoon. Sommige het gekla dat plaaslike programme in alle wêrelddele van die televisie af verdwyn, dat Amerikaanse verbruikersgerigtheid en materialisme uitbrei.

Baie lande is in rep en roer oor ‘kulturele imperialisme’. In Nigerië het omroepers gekla dat buitelandse programme die nasionale kultuur ondermyn; hulle is bekommerd dat kykers in Nigerië blykbaar beter ingelig is oor die Verenigde State en Brittanje as oor Nigerië. Europeërs voel dieselfde. By ’n onlangse kongressitting in Amerika het Robert Maxwell, magnaat in die uitsaaiwese, woedend gesê: “Geen land moet toelaat dat sy kultuur deur ’n vreemde kultuur verdring word nie.” Sommige lande het derhalwe beperkings begin instel op die aantal buitelandse programme wat stasies mag uitsaai.

‘Kulturele imperialisme’ kan meer as net die kultuur skade aandoen. Dit kan selfs die planeet skade aandoen. Die Westerse gemeenskap se verbruikersgerigtheid van besit-dit-alles-nou speel ook ’n rol in die besoedeling van die lug, die vergiftiging van die water, die algemene verwoesting van die aarde. Soos ’n skrywer vir The Independent, ’n Londense koerant, dit gestel het: “Televisie bied die wêreld ’n glinsterende beeld van materiële bevryding—van Westerse welvaart—wat bedrieglik is, want dit kan net verkry word ten koste van die natuurlike omgewing wat onherstelbaar beskadig word.”

Dit is duidelik dat televisie die wêreld vandag verander, en nie altyd ten goede nie. Maar dit het ook ’n uitwerking op individue. Is jy vatbaar daarvoor?

[Lokteks op bladsy 4]

Koerante kan in een dag ’n idee in tienduisend verstande plaas

[Lokteks op bladsy 5]

Televisie kan oombliklik honderde miljoene verstande met ’n idee vul

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel