’n Ironiese kontras
DAAR word verwag dat die wêreldwye bevolkingsontploffing byna die ekwivalent van nog ’n China gedurende die negentigerjare by ons wêreld gaan byvoeg. Die probleem is die ergste in die stede van die wêreld. Trouens, daar word verwag dat daar binne die volgende 15 jaar vir die eerste keer meer stadsbewoners as plattelanders op hierdie planeet sal wees. Die tydskrif International Wildlife merk op dat, terwyl die wêreld se stede in oorbevolkte megastede ontaard, hulle “die lug en water besoedel, bewerkbare grond rondom hulle grense verorber, bosse vernietig om hout en brandstof te voorsien en broeiplekke word vir misdaad, siekte en wanhoop.”
Intussen verlaat al hoe meer mense plattelandse gebiede. In die Verenigde State is daar byvoorbeeld honderde plattelandse dorpe wat tot niet gaan weens ’n gebrek aan mense. In die uitgestrekte Laagvlakte in die westelike Verenigde State het party distrikte nou meer spookdorpe as bewoonde dorpe. Tien distrikte in Noord-Dakota het net 1,5 of minder mense per vierkante kilometer; 18 distrikte het sedert 1930 ten minste 50 persent van hulle bevolking verloor. Party dink selfs, soos The Wall Street Journal dit stel, dat die hele Laagvlakte “onkeerbaar terugbeweeg na die grasvlakte wat dit eens was”. Waarom? Deskundiges blameer wanbestuur van die grond, die misbruik van ’n beperkte watervoorraad, droogte en ’n ekonomie wat ’n depressie beleef.
Wemelende stede wat tot barstens toe vol is. Uitgestrekte grasvlaktes wat besaai is met verlate dorpe. In daardie ironiese kontras lê verdere sombere bewys dat die mens geensins beter oor die platteland as oor die stad regeer nie, en dat hulle geensins beter oor hierdie planeet as oor sy mense regeer nie. Soos die Bybel dit so gepas stel: “[Dit behoort] nie aan ’n man om te loop en sy voetstappe te rig nie” (Jeremia 10:23). Maar ’n bekwame, regverdige regering is nie buite die vermoë van die mens se Skepper nie. Hy het belowe dat die hele aarde binnekort produktief sal wees en dat dit deur vreedsame bewoners bewerk sal word pleks van deur onbeheerbare bewoners vernietig te word.—Psalm 67:7; 72:16; Jesaja 65:21-23.