“’n Seksuele krisis” onder die geestelikes
“’NSEKSUELE krisis vreet aan die sentrale senustelsel van die Katolieke Kerk”, het Jason Berry gesê, ’n skrywer uit Louisiana wat ’n toekenning van die Katolieke persvereniging ontvang het vir sy dekking van pedofilie in die National Catholic Reporter. Berry het voorts aangaande perverse seksuele dade teen kinders deur die geestelikes in The Washington Post gesê:
“Sedert 1985 is daar dwarsdeur Amerika en Kanada geweldig baie gevalle van pedofilie aangemeld waarby priesters of broers betrokke was. Amerikaanse bisdomme het gevolglik groot verliese gely in hofsake, en versekeringsdekking vir sulke optrede bestaan nie meer nie. Hierdie veranderinge het plaasgevind te midde van ’n aantal berigte dat ongeveer 10 tot 20 persent van Amerikaanse priesters moontlik aktiewe homoseksuele is.”
The Providence Sunday Journal van Rhode Island sê: “Biskoppe in 29 state . . . het eise om skadevergoeding van slagoffers wat seksueel deur Katolieke geestelikes misbruik is, ontvang, en die Kerk het tot dusver minstens [R156] miljoen aan vonnisse en skikkings betaal.” In Louisiana het ’n priester erken dat hy 35 seuns gemolesteer het en is tot 20 jaar gevangenisstraf gevonnis, hoewel, sê die Journal, dit duidelik was dat hy “minstens 75 kinders oor 10 jaar aangerand het”. En ’n priester van Rhode Island het skuldig gepleit op 26 aanklagte van seksuele misbruik waarby jong seuns betrokke was.
’n Ondersoek van Covenant House, ’n toevlugsoord in die stad New York vir kinders wat van die huis wegloop, het getoon dat die diensdoende priester hom aan seksuele wangedrag met ’n aantal jong mans en seuns skuldig gemaak het. En die Rooms Katolieke aartsbiskop van Atlanta het bedank nadat dit aan die lig gekom het dat hy twee jaar lank ’n seksuele verhouding met ’n ongehude moeder gehad het.
’n Konferensie van Amerikaanse Katolieke biskoppe het ’n verslag ontvang oor die “katastrofe” van regsgedinge teen priesters wat pedofiele is. Die verslag van 100 bladsye, sê die Journal, “het ’n strategie uiteengesit wat, gegrond op die 30 sake wat toe nog hangende was, die Kerk se aanspreeklikheid in siviele hofsake tot [R2,6 miljard] sou beperk”. Die hofsake word deur die Katolieke ouers van die betrokke kinders gevoer. En psigiaters wat die jong slagoffers van hierdie misdade behandel, sê daar is langtermyn-, dikwels permanente, skade.
God se Woord praat van sulke “skandelike hartstogte” waardeur mans “in wellus teenoor mekaar ontbrand: manne . . . met manne skandelikheid bedrywe”, en dit voeg by dat die “verordening van God” is dat “die wat sulke dinge doen, die dood verdien”.—Romeine 1:26, 27, 32; sien ook 1 Korinthiërs 6:9, 10.
’n Groot deel van die probleem ontstaan ongetwyfeld vanweë die onskriftuurlike gebruik van selibaat, wat priesters verbied om te trou. Maar die Bybel, God se Woord, sê duidelik dat diegene in die Christenbediening mag trou. Soos die Katolieke Douay Version van die Bybel dit uitdruk: “Dit betaam ’n biskop om . . . die man van een vrou te wees” (1 Timotheüs 3:2). En dit sê ook dat mense wat “verbied om te trou” ’n bewys is dat “sommige van die geloof afvallig sal word en verleidende geeste en leringe van duiwels sal aanhang”.—1 Timotheüs 4:1-3.