Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g90 11/8 bl. 25
  • “Dwelms? Skud sommer hand met Satan!”

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • “Dwelms? Skud sommer hand met Satan!”
  • Ontwaak!—1990
  • Soortgelyke materiaal
  • Kan die stryd teen dwelms gewen word?
    Ontwaak!—1999
  • Hoe kan ek van dwelms losbreek?
    Vrae wat jongmense vra—Antwoorde wat werk, Deel 1
  • Sal vigs gestuit word? Indien wel, hoe?
    Ontwaak!—2002
  • Dwelms—Wie gebruik dit?
    Ontwaak!—2001
Sien nog
Ontwaak!—1990
g90 11/8 bl. 25

“Dwelms? Skud sommer hand met Satan!”

Watter uitwerking kan die gebruik van dwelms vir “vermaak” op die menseliggaam hê? Beskou Charles. Hy was 15 toe hy deur toedoen van sy ouer suster vir die eerste keer dwelms begin gebruik het. Oor die daaropvolgende 15 jaar het hy dagga, kokaïen en heroïen in verskillende kombinasies gebruik. Hy het straf uitgedien in ’n hele aantal verbeteringsgestigte weens geringe diefstal en gewapende roof. Sy dwelmgebruik het daartoe gelei dat hy Vigs opgedoen het. Hy was verbysterd toe hy meegedeel is dat hy met die Vigs-virus besmet is en het hulpeloos toegekyk terwyl sy lang, kragtige, gespierde liggaam weggeteer het tot ’n blote geraamte. Lees sy droewige verhaal en vra jou dan af: ‘Is dit die moeite werd?’

“JY VERNIETIG ’n wonderlike liggaam. En daar is soveel dinge wat jy nooit ervaar nie wanneer jy dwelms gebruik net om bedwelmd te bly. Eerstens kan jy nie saam met jou dogter speel nie. Jy kan nie saam met haar bal speel nie, jy kan nie saam met haar hardloop nie. Ek het nooit gesien hoe my enigste babaseuntjie grootword, begin loop en dergelike dinge doen nie. Ek kan nie saam met my vrou gaan dans nie, want ek kan nie meer dans nie. Ek kan nie meer aan die meeste sportsoorte deelneem nie, want my liggaam is nie net gevoelloos nie maar beweeg ook stadig soos ’n robot.

“My hande funksioneer nie meer soos vroeër nie. Ek kan nie meer skeer of my snor of my hare sny soos vroeër nie. Ek kan nie meer aantrek soos vroeër nie. Ek kan nie eens die knope van my hemde vasmaak nie. Ek kan nie alleen badkamer toe gaan nie. Somtyds kan ek nie eens ’n ooghaar uit my oog verwyder nie, want my vingers werk nie. Ek kan nie meer kook soos vroeër nie. My beroep as teël- en mattelêer is van my weggeneem weens daardie virus, te wyte aan die dwelms.

“Almal moet op my wag. Ek is soos ’n baba. My brein funksioneer nie meer soos vroeër nie. Ek vergeet. Ek moet byvoorbeeld nadink oor wat my huisbediende se naam is. My vrou herhaal dinge oor en oor, en ek vergeet hulle. En die probleem is dit raak erger.

“Alles is seer, elke sekonde van die dag. Die pyn kan ’n sterk man laat huil, ongeag wie jy is. Die pynpille wat hulle jou gee—hulle vreet ’n gat in jou maag, en jy kry ’n maagseer. Jy kan die pynpille dus nie heeltyd drink nie. En jy bloei en bring bloed op van die maagseer. As enigiets my sny, moet ek my oor infeksie bekommer. My vel is baie teer. Ek kan nie meer met my seun stoei en speel nie.

“Ek het gedink dit sal nooit met my gebeur nie. Vyftien jaar van dwelmmisbruik—ek het gedink ek het skotvry daarvan afgekom. En nou het ek die Vigs-virus. Ek weet nie wanneer ek gaan sterf nie.

“As enigeen Jehovah dus daarvoor wil verruil, laat hom weet. Dwelms? Skud sommer hand met Satan, want dit is sy werktuig!”

Nadat Charles die waarheid van God se Woord geleer het, het hy die dwelmgewoonte gestaak en ’n gedoopte Getuie van Jehovah geword. Terwyl hy in die hospitaal was, het hy sonder ophou vir dokters, verpleegsters en medepasiënte gepreek. Maar drie en ’n half jaar na sy doop, op 27 Januarie 1990, het Charles op 37-jarige ouderdom gesterf.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel