Hulle vergoelik die afgryse van oorlog
OORLOG is in 1988 in JAMA (Journal of the American Medical Association) as “die allerverskriklikste plaag van die 20ste eeu” beskryf. Daar word geraam dat 90 miljoen mense tot dusver gedurende die 20ste eeu in oorloë gesterf het. Deur die geskiedenis heen was omtrent 50 persent van oorlogverwante sterfgevalle burgerlikes, maar die persentasie het dramaties gestyg. Teen die sewentigerjare het burgerlikes 73 persent van die sterfgevalle uitgemaak, en in die tagtigerjare 85 persent daarvan.
Hoe kan mense sulke grootskaalse moord op burgerlikes vergoelik? Net soos vroeë Amerikaners slawerny vergoelik het. Hulle het geweier om die slagoffers as mense te beskou. Die handboek The Sociology of Social Problems merk op: “Die gesegde ‘alle mense is gelyk geskape’, was nie op Negers van toepassing nie, aangesien hulle ‘eiendom’ was en nie mense nie.” Die JAMA-artikel het opgemerk dat die nasies insgelyks “die volle menslikheid van die slagoffers [ontken], en hulle identiteit op tipiese wyse beperk tot ’n benaming wat op ’n enkele eienskap slaan wat na bewering die soewereiniteit van die nasie bedreig: hy is nie meer ’n man, ’n vader, ’n houtsnyer, ’n kleinboer nie, maar ’n bourgeois; sy is nie meer ’n vrou, ’n student, ’n dogter, ’n poësieliefhebber nie, maar ’n Marxis”.
Nasionalisme, gesteun deur geestelikes, is grotendeels vir die afgryslike slagting verantwoordelik, soos Katolieke geskiedskrywer E. I. Watkin erken het: “Wat ook al die amptelike teorie, in die praktyk is die beginsel ‘my land is altyd reg’ die een wat Katolieke biskoppe in oorlogstyd gevolg het. . . . Wat aggressiewe nasionalisme betref, het hulle as die mondstuk van die Keiser opgetree.”
[Foto-erkenning op bladsy 31]
U.S. Army