DIE EERSTE BRIEF VAN JOHANNES
1 Ons skryf aan julle oor die woord van die lewe, wat van die begin af was, wat ons gehoor het, wat ons met ons oë gesien het, wat ons bekyk het en met ons hande gevoel het.+ 2 Ja, die lewe is geopenbaar, en ons het dit gesien. Ons getuig+ en vertel julle van die ewige lewe+ wat by die Vader was en wat aan ons geopenbaar is. 3 Ons vertel ook vir julle wat ons gesien en gehoor het+ sodat julle ook met ons verenig kan wees.* En ons is ook verenig met die Vader en met sy Seun Jesus Christus.+ 4 En ons skryf hierdie dinge sodat ons vreugde volkome kan wees.
5 Hier is die boodskap wat ons van hom gehoor het en aan julle bekend maak: God is lig,+ en daar is geen duisternis in hom* nie. 6 As ons sê: “Ons is met hom verenig,” en tog hou ons aan om in die duisternis te lewe, lieg ons en lewe ons nie in ooreenstemming met die waarheid nie.+ 7 Maar as ons in die lig lewe soos hy in die lig is, dan is ons verenig met mekaar, en die bloed van Jesus, sy Seun, reinig ons van alle sonde.+
8 As ons sê: “Ons het geen sonde nie,” mislei ons onsself+ en is die waarheid nie in ons nie. 9 As ons ons sondes bely, is hy getrou en regverdig om ons sondes te vergewe en ons van alle onregverdigheid te reinig.+ 10 As ons sê: “Ons het nie gesondig nie,” maak ons hom ’n leuenaar en is sy woord nie in ons nie.
2 My kindertjies, ek skryf hierdie dinge aan julle sodat julle nie ’n sonde pleeg nie. Maar as iemand wel ’n sonde pleeg, het ons ’n helper* by die Vader, naamlik Jesus Christus,+ wat regverdig is.+ 2 En hy is ’n versoeningsoffer vir ons sondes,+ en tog nie net vir ons sondes nie,+ maar ook vir dié van die hele wêreld.+ 3 Hieraan sal ons weet dat ons hom leer ken het: as ons aanhou om sy gebooie te gehoorsaam. 4 Die een wat sê: “Ek het hom leer ken,” en tog nie sy gebooie gehoorsaam nie, is ’n leuenaar, en die waarheid is nie in hom nie. 5 Maar die liefde vir God is waarlik tot volmaaktheid gebring in elkeen wat sy woord gehoorsaam.+ So weet ons dat ons in eenheid met hom is.+ 6 Die een wat sê dat hy in eenheid met hom bly, is self onder verpligting om te lewe net soos hy gelewe het.+
7 Geliefdes, ek skryf nie aan julle ’n nuwe gebod nie, maar ’n ou gebod wat julle van die begin af gehad het.+ Hierdie ou gebod is die woord wat julle gehoor het. 8 En tog skryf ek aan julle ’n nuwe gebod, wat waar is in sy geval en in julle s’n, want die duisternis gaan verby en die ware lig skyn reeds.+
9 Die een wat sê dat hy in die lig is en tog sy broer haat,+ is nog steeds in die duisternis.+ 10 Die een wat sy broer liefhet, bly in die lig,+ en daar is geen struikelblok vir hom nie. 11 Maar die een wat sy broer haat, is in die duisternis en lewe in die duisternis,+ en hy weet nie waarheen hy gaan nie,+ want die duisternis het sy oë verblind.
12 Kindertjies, ek skryf aan julle omdat julle sondes ter wille van sy naam vergewe is.+ 13 Vaders, ek skryf aan julle omdat julle hom leer ken het wat van die begin af is. Jong manne, ek skryf aan julle omdat julle die Duiwel* oorwin het.+ Jong kinders, ek skryf aan julle omdat julle die Vader leer ken het.+ 14 Vaders, ek skryf aan julle omdat julle hom leer ken het wat van die begin af is. Jong manne, ek skryf aan julle omdat julle sterk is+ en die woord van God in julle bly+ en julle die Duiwel* oorwin het.+
15 Moenie die wêreld of die dinge in die wêreld liefhê nie.+ As iemand die wêreld liefhet, is die liefde vir die Vader nie in hom nie,+ 16 want alles wat in die wêreld is – die begeerte van die vlees+ en die begeerte van die oë+ en die gespog met ’n mens se besittings* – het nie hulle oorsprong by die Vader nie, maar het hulle oorsprong by die wêreld. 17 Wat meer is, die wêreld en sy begeertes gaan verby,+ maar die een wat die wil van God doen, bly vir ewig.+
18 Jong kinders, dit is die laaste uur. Julle het gehoor dat die antichris kom,+ en daar het nou reeds baie antichriste verskyn,+ en daarom weet ons dat dit die laaste uur is. 19 Hulle het van ons uitgegaan, maar hulle was nie van ons soort nie,*+ want as hulle van ons soort was, sou hulle by ons gebly het. Maar hulle het uitgegaan sodat dit duidelik kan wees dat nie almal van ons soort is nie.+ 20 En julle is gesalf deur die Een wat heilig is,+ en julle almal het kennis. 21 Ek skryf aan julle, nie omdat julle nie die waarheid ken nie,+ maar omdat julle dit ken, en omdat geen leuen sy oorsprong by die waarheid het nie.+
22 Wie is die leuenaar? Dit is die een wat ontken dat Jesus die Christus is.+ Dit is die antichris,+ die een wat die Vader en die Seun verwerp. 23 Elkeen wat die Seun verwerp, is nie in eenheid met die Vader nie.+ Maar die een wat die Seun erken,+ is in eenheid met die Vader.+ 24 Wat julle betref, wat julle van die begin af gehoor het, moet in julle bly.+ As die dinge wat julle van die begin af gehoor het, in julle bly, sal julle ook in eenheid met die Seun en in eenheid met die Vader bly. 25 En dit is wat hy self aan ons belowe het – die ewige lewe.+
26 Ek skryf hierdie dinge aan julle oor dié wat julle probeer mislei. 27 En wat julle betref, die salwing wat julle van hom ontvang het,+ bly in julle, en julle het nie nodig dat iemand julle leer nie, maar die salwing wat van hom kom, leer julle oor alles+ en is waar en is nie ’n leuen nie. Net soos dit julle geleer het, moet julle in eenheid met hom bly.+ 28 Daarom, kindertjies, bly nou in eenheid met hom, sodat ons vrymoedigheid van spraak kan hê+ wanneer hy geopenbaar word en nie by sy teenwoordigheid in skaamte van hom af hoef weg te gaan nie. 29 As julle weet dat hy regverdig is, weet julle ook dat elkeen wat regverdigheid beoefen, uit hom gebore is.+
3 Dink aan die liefde wat die Vader ons gegee het.+ Ons word kinders van God genoem,+ en dit is wat ons is. Daarom ken die wêreld ons nie,+ want dit het hom nie leer ken nie.+ 2 Geliefdes, ons is nou kinders van God,+ maar dit is nog nie geopenbaar wat ons sal wees nie.+ Ons weet wel dat ons soos hy sal wees wanneer hy geopenbaar word, want ons sal hom sien net soos hy is. 3 En elkeen wat hierdie hoop in hom het, reinig homself+ net soos hy rein is.
4 Elkeen wat sonde beoefen, beoefen ook wetteloosheid, en sonde is wetteloosheid. 5 Julle weet ook dat hy geopenbaar is om ons sondes weg te neem,+ en daar is geen sonde in hom nie. 6 Elkeen wat in eenheid met hom bly, beoefen nie sonde nie.+ Niemand wat sonde beoefen, het hom gesien of hom leer ken nie. 7 Kindertjies, laat niemand julle mislei nie. Die een wat regverdigheid beoefen, is regverdig, net soos hy regverdig is. 8 Die een wat sonde beoefen, het sy oorsprong by die Duiwel, want die Duiwel sondig al van die begin af.*+ Die Seun van God is geopenbaar met die doel om die werke van die Duiwel te vernietig.*+
9 Elkeen wat uit God gebore is, beoefen nie sonde nie,+ want Sy saad* bly in so iemand, en hy kan nie sonde beoefen nie, want hy is uit God gebore.+ 10 Die kinders van God en die kinders van die Duiwel word aan hierdie feit geken: Elkeen wat nie regverdigheid beoefen nie, het nie sy oorsprong by God nie, en ook nie die een wat sy broer nie liefhet nie.+ 11 Want die boodskap wat julle van die begin af gehoor het, is dat ons mekaar moet liefhê.+ 12 Ons moenie soos Kain wees, wat sy oorsprong by die Duiwel* gehad het en sy broer doodgemaak het nie.+ En hoekom het hy hom doodgemaak? Want sy eie werke was goddeloos,+ maar sy broer se werke was regverdig.+
13 Broers, moenie verbaas wees dat die wêreld julle haat nie.+ 14 Ons weet dat ons uit die dood na die lewe oorgegaan het,+ want ons het die broers lief.+ Die een wat nie liefhet nie, bly in die dood.+ 15 Elkeen wat sy broer haat, is ’n moordenaar,+ en julle weet dat geen moordenaar die ewige lewe het nie.+ 16 Ons het die liefde leer ken omdat hy sy lewe* vir ons gegee het,+ en ons is onder verpligting om ons lewens* vir ons broers te gee.+ 17 Maar as iemand genoeg materiële besittings het om van te lewe en sien dat sy broer gebrek ly en tog weier om medelye* aan hom te betoon, hoe kan die liefde vir God dan in hom bly?+ 18 Kindertjies, ons moet liefhê, nie met woorde of met die tong nie,+ maar met dade+ en in waarheid.+
19 So sal ons weet dat ons ons oorsprong by die waarheid het. Ons sal ons hart voor hom gerusstel* 20 in alles waarin ons hart ons veroordeel, want God is groter as ons hart en weet alles.+ 21 Geliefdes, as ons hart ons nie veroordeel nie, het ons vrymoedigheid van spraak teenoor God,+ 22 en wat ons ook al vra, ontvang ons van hom+ omdat ons sy gebooie gehoorsaam en doen wat goed is in sy oë. 23 Ja, sy gebod is dat ons geloof in die naam van sy Seun Jesus Christus moet hê+ en mekaar moet liefhê,+ net soos hy ons beveel het. 24 Wat meer is, die een wat sy gebooie gehoorsaam, bly in eenheid met hom, en hy in eenheid met so iemand.+ En deur die gees wat hy ons gegee het, weet ons dat hy in eenheid met ons bly.+
4 Geliefdes, moenie elke geïnspireerde stelling* glo nie,+ maar toets die geïnspireerde stellings* om te sien of hulle hulle oorsprong by God het,+ want baie valse profete het in die wêreld verskyn.+
2 Dit is hoe julle weet dat die geïnspireerde stelling van God kom: Elke geïnspireerde stelling wat erkenning gee aan die feit dat Jesus Christus as ’n mens van vlees gekom het, het sy oorsprong by God.+ 3 Maar elke geïnspireerde stelling wat nie erkenning gee aan Jesus nie, het nie sy oorsprong by God nie.+ Wat meer is, julle het gehoor dat hierdie geïnspireerde stelling sou kom,+ en dit kom van die antichris en is nou reeds in die wêreld.+
4 Julle het julle oorsprong by God, kindertjies, en julle het daardie persone oorwin,+ want die een wat in eenheid met julle is,+ is groter as die een wat in eenheid met die wêreld is.+ 5 Hulle het hulle oorsprong by die wêreld,+ en daarom sê hulle dinge wat uit die wêreld kom, en die wêreld luister na hulle.+ 6 Ons het ons oorsprong by God. Die een wat God leer ken, luister na ons.+ Die een wat nie sy oorsprong by God het nie, luister nie na ons nie.+ Dit is hoe ons onderskei tussen die geïnspireerde stelling wat waar is en die geïnspireerde stelling wat vals is.+
7 Geliefdes, laat ons aanhou om mekaar lief te hê,+ want die liefde kom van God, en elkeen wat liefhet, is uit God gebore en ken God.+ 8 Die een wat nie liefhet nie, het God nie leer ken nie, want God is liefde.+ 9 Dit is hoe die liefde van God in ons geval geopenbaar is: God het sy eniggebore Seun*+ in die wêreld uitgestuur sodat ons deur hom die lewe kan verkry.+ 10 Hierdie liefde beteken die volgende: nie dat ons God liefgehad het nie, maar dat hy ons liefgehad het en dat hy sy Seun gestuur het as ’n versoeningsoffer+ vir ons sondes.+
11 Geliefdes, as dit is hoe God ons liefgehad het, dan is ons ook onder verpligting om mekaar lief te hê.+ 12 Niemand het God nog ooit gesien nie.+ As ons aanhou om mekaar lief te hê, bly God in ons en word sy liefde in ons tot volmaaktheid gebring.+ 13 Ons weet dat ons in eenheid met hom is en hy in eenheid met ons, want hy het ons sy gees gegee. 14 Wat meer is, ons het self gesien en getuig dat die Vader sy Seun as redder van die wêreld gestuur het.+ 15 As iemand erken dat Jesus Christus die Seun van God is,+ bly God in eenheid met hom en hy in eenheid met God.+ 16 En ons het die liefde wat God vir ons het, leer ken, en ons glo daarin.+
God is liefde,+ en die een wat in die liefde bly, bly in eenheid met God, en God bly in eenheid met hom.+ 17 Dit is hoe die liefde in ons tot volmaaktheid gebring is, sodat ons op die oordeelsdag vrymoedigheid van spraak* kan hê,+ want net soos hy is, so is ons ook in hierdie wêreld. 18 Daar is geen vrees in die liefde nie.+ Volmaakte liefde dryf vrees uit, want vrees hou ons terug. Ja, die een wat vrees, is nie tot volmaaktheid gebring in die liefde nie.+ 19 Ons het lief omdat hy ons eerste liefgehad het.+
20 As iemand sê: “Ek het God lief,” maar sy broer haat, is hy ’n leuenaar.+ Want as iemand nie lief is vir sy broer,+ wat hy gesien het nie, kan hy nie lief wees vir God, wat hy nie gesien het nie.+ 21 En ons het hierdie gebod van hom, dat die een wat God liefhet, ook sy broer moet liefhê.+
5 Elkeen wat glo dat Jesus die Christus is, is uit God gebore,+ en elkeen wat die Vader liefhet, het die een lief wat uit hom gebore is. 2 Wanneer ons God liefhet en sy gebooie nakom, weet ons dat ons die kinders van God+ liefhet. 3 Want die liefde vir God beteken dat ons sy gebooie gehoorsaam.+ En tog is sy gebooie nie swaar nie,+ 4 want elkeen* wat uit God gebore is, oorwin die wêreld.+ En dit is hoe ons die wêreld oorwin het: deur ons geloof.+
5 Wie kan die wêreld oorwin?+ Is dit nie die een wat glo dat Jesus die Seun van God is nie?+ 6 Hy is die een wat deur middel van water en bloed gekom het, Jesus Christus – nie met die water alleen nie,+ maar met die water en met die bloed.+ En die gees getuig,+ want die gees is die waarheid. 7 Daar is drie wat getuig: 8 die gees+ en die water+ en die bloed,+ en die getuienis van hierdie drie stem ooreen.
9 As ons die getuienis van mense aanvaar, is God se getuienis groter. Want dit is die getuienis van God, naamlik die getuienis wat hy oor sy Seun gegee het. 10 Wie sy geloof in die Seun van God stel, het die getuienis in homself. Wie nie geloof in God het nie, het God ’n leuenaar gemaak,+ omdat hy nie sy geloof gestel het in die getuienis wat God oor sy Seun gegee het nie. 11 En dit is die getuienis: God het ons die ewige lewe gegee,+ en hierdie lewe is in sy Seun.+ 12 Die een wat die Seun het, het hierdie lewe. Die een wat nie die Seun van God het nie, het nie hierdie lewe nie.+
13 Ek skryf hierdie dinge aan julle sodat julle kan weet dat julle die ewige lewe het,+ julle wat julle geloof in die naam van die Seun van God stel.+ 14 En ons het die vertroue*+ dat hy ons hoor,+ ongeag wat ons volgens sy wil vra. 15 En as ons weet dat hy ons hoor in alles wat ons ook al vra, weet ons dat ons die dinge gaan kry wat ons vra, omdat ons dit van hom gevra het.+
16 As iemand sien dat sy broer ’n sonde pleeg wat nie tot die dood lei nie, sal hy vra, en God sal hom die lewe gee.+ Dit geld vir iemand wat nie sonde pleeg wat tot die dood lei nie. Maar daar is ’n sonde wat wel tot die dood lei.+ Ek sê nie dat hy moet bid vir iemand wat daardie sonde pleeg nie. 17 Alle onregverdigheid is sonde,+ en tog is daar ’n sonde wat nie tot die dood lei nie.
18 Ons weet dat elkeen wat uit God gebore is, nie sonde beoefen nie, maar die een wat uit God gebore is,* beskerm hom, en die Duiwel* kan niks aan hom doen nie.*+ 19 Ons weet dat ons aan God behoort, maar die hele wêreld is in die mag van die Duiwel.*+ 20 Maar ons weet dat die Seun van God gekom het,+ en hy het ons insig* gegee sodat ons die kennis van die ware God kan verkry. En ons is in eenheid met die ware God,+ deur middel van sy Seun Jesus Christus. Dit is die ware God en die ewige lewe.+ 21 Kindertjies, bly weg van afgode.+
Of “’n deelgenootskap kan hê”.
Of “in eenheid met hom”.
Of “iemand wat vir ons pleit”.
Lett. “die Bose”.
Lett. “die Bose”.
Of “die spoggerige vertoon van ’n mens se lewensmiddele”.
Of “hulle het nie aan ons behoort nie”.
Of “vandat hy begin het”.
Of “verbreek”.
D.w.s. saad wat kan voortplant of vrug kan dra.
Lett. “die Bose”.
Of “siel”.
Of “siele”.
Sien Woordelys.
Of “oortuig”.
Lett. “elke gees”.
Lett. “die geeste”.
Of “die enigste Seun wat direk deur God gemaak is”.
Of “vertroue”.
Lett. “alles”.
Of “vrymoedigheid van spraak”.
D.w.s. Jesus Christus, die Seun van God.
Lett. “die Bose”.
Of “kry geen houvas op hom nie”.
Lett. “die Bose”.
Lett. “verstandelike waarnemingsvermoëns; intellektuele vermoëns”.