DIE TWEEDE BRIEF VAN PETRUS
1 Van Simon Petrus, ’n slaaf en apostel van Jesus Christus. Aan dié wat deur die regverdigheid van ons God en die Redder Jesus Christus ’n geloof verkry het wat net so kosbaar is soos ons s’n:
2 Mag julle deur akkurate kennis+ van God en van Jesus, ons Here, onverdiende goedheid en vrede in oorvloed geniet. 3 Want deur God se krag het ons alles ontvang wat ons help om met toegewydheid aan God te lewe. Dit is te danke aan die akkurate kennis van die Een wat ons deur sy eie heerlikheid en goedheid geroep het.+ 4 Deur hierdie dinge het hy aan ons die beloftes gegee wat kosbaar en baie groot is.+ Danksy hierdie beloftes kan julle deel in die krag en heerlikheid van God+ omdat julle ontsnap het van die wêreld se sedelike en geestelike agteruitgang wat die gevolg is van verkeerde begeertes.
5 Ja, daarom moet julle julle ywerig inspan+ om by julle geloof goedheid*+ te voeg, by julle goedheid* kennis,+ 6 by julle kennis selfbeheersing, by julle selfbeheersing+ volharding, by julle volharding toegewydheid aan God,+ 7 by julle toegewydheid aan God broederlike liefde, by julle broederlike liefde liefde vir alle mense.+ 8 Want as hierdie dinge in julle bestaan en oorvloedig is, sal julle nie onbedrywig of onproduktief* word+ wat die akkurate kennis van ons Here Jesus Christus betref nie.
9 Want enigiemand wat ’n gebrek aan hierdie dinge het, is blind en sluit sy oë vir die lig*+ en het vergeet dat hy lank gelede van sy sondes gereinig is.+ 10 Broers, daarom moet julle julle selfs meer inspan om julle roeping+ en verkiesing te verseker, want as julle aanhou om hierdie dinge te doen, sal julle beslis nooit misluk nie.+ 11 Om die waarheid te sê, so sal toegang tot die ewige Koninkryk+ van ons Here en Redder Jesus Christus ryklik aan julle gegee word.+
12 Daarom is ek van plan om julle altyd aan hierdie dinge te herinner, al ken julle dit en staan julle vas in die waarheid wat in julle is. 13 Maar ek dink dat dit reg is om julle deur herinneringe aan te vuur,+ solank ek in hierdie tabernakel* is,+ 14 aangesien ek weet dat my tabernakel binnekort verwyder sal word, net soos ons Here Jesus Christus dit aan my duidelik gemaak het.+ 15 Ek sal altyd my bes doen sodat julle self hierdie dinge kan onthou* nadat ek vertrek het.
16 Toe ons die krag en teenwoordigheid van ons Here Jesus Christus aan julle bekend gemaak het, was dit nie gebaseer op valse stories wat mense op ’n slim manier uitgedink het nie. Dit was eerder omdat ons ooggetuies van sy grootheid was.+ 17 Want hy het eer en heerlikheid van God, die Vader, ontvang toe die bron van groot heerlikheid hierdie woorde vir hom gesê het:* “Dit is my Seun, my geliefde, wat ek self goedgekeur het.”+ 18 Ja, ons het hierdie woorde uit die hemel hoor kom terwyl ons saam met hom op die heilige berg was.
19 Die profetiese woord is dus vir ons nog sekerder gemaak, en julle doen goed deur aandag daaraan te skenk soos aan ’n lamp+ wat in ’n donker plek skyn (totdat die dag aanbreek en die dagster+ opkom) in julle harte. 20 Want julle is bewus van hierdie belangrike feit: Geen profesie in die Skrif is gebaseer op enige persoonlike idees* nie. 21 Want profesieë het nooit deur die wil van ’n mens ontstaan nie,+ maar mense het God se woorde bekend gemaak terwyl hulle deur heilige gees gelei* is.+
2 Daar was egter ook valse profete onder die volk, en net so sal daar valse onderrigters onder julle wees.+ Hulle sal stilletjies skadelike sektes inbring en sal selfs die eienaar verwerp wat hulle gekoop het.+ As gevolg hiervan sal hulle vinnig vernietig word. 2 Verder sal baie hulle skaamtelose gedrag*+ navolg, en weens hulle sal mense sleg praat van die weg van die waarheid.+ 3 Hulle sal julle ook gierig uitbuit met valse woorde. Maar hulle oordeel, waarop daar lank gelede besluit is,+ kom vinnig nader, en hulle vernietiging sal beslis kom.+
4 God het selfs die engele wat gesondig het,+ nie gespaar nie, maar hy het hulle gestraf deur hulle in Tarʹtarus*+ te gooi en hulle in kettings* van digte duisternis te sit om hulle vir die oordeel te bewaar.+ 5 Hy het ook nie die wêreld van lank gelede gespaar nie,+ maar hy het Noag, ’n prediker van regverdigheid,+ saam met sewe ander veilig bewaar+ toe hy ’n vloed oor ’n wêreld van goddelose mense gebring het.+ 6 En hy het die stede Sodom en Gomorʹra veroordeel+ deur hulle tot as te verbrand, en daardeur het hy vir goddelose mense ’n voorbeeld gegee van wat sou kom.+ 7 Maar hy het die regverdige Lot verlos,+ wat baie ontsteld was oor die skaamtelose gedrag* van die wettelose mense, 8 want daardie regverdige man se regverdige siel* is dag ná dag gepynig deur die wettelose dinge wat hy gesien en gehoor het terwyl hy tussen hulle gewoon het. 9 Jehovah* weet dus hoe om mense wat hom met toegewydheid dien, uit moeilike omstandighede te red.+ Maar hy bewaar onregverdige mense om vernietig te word op die dag van die oordeel,+ 10 veral dié wat die liggame* van ander onrein wil maak+ en wat neersien op gesag.+
Hulle is uitdagend en arrogant en is nie bang om sleg te praat van dié wat eer verdien nie, 11 terwyl engele, al is hulle sterker en kragtiger, hulle nie met beledigende woorde beskuldig nie, uit respek vir Jehovah.*+ 12 Maar hierdie mense is soos verstandelose diere wat instinktief optree en gebore word om gevang en vernietig te word, en hulle praat beledigend oor dinge waarvan hulle niks weet nie.+ Hulle sal vernietig word as gevolg van hulle eie slegte gedrag, 13 en hulle sal skade ly as ’n beloning vir hulle eie skadelike gedrag.
Hulle geniet dit om hulle oor te gee aan allerhande uitspattige dinge,+ selfs gedurende die dag. Hulle is soos vlekke en merke, en hulle verlustig hulle in bedrieglike leringe terwyl hulle saam met julle feesvier.+ 14 Hulle oë is vol egbreuk+ en kan nie ophou sondig nie, en hulle mislei dié wie se geloof nie sterk is nie. Hulle het ’n hart wat vol gierigheid is. Hulle is vervloekte kinders. 15 Omdat hulle van die reguit pad afgedwaal het, is hulle mislei. Hulle het dieselfde pad gevolg as Biʹleam,+ die seun van Beor, wat lief was vir die beloning van slegte dade,+ 16 maar hy is tereggewys vir sy eie oortreding.+ ’n Stom donkie wat met die stem van ’n mens gepraat het, het probeer keer dat die profeet iets dwaas doen.+
17 Hulle is fonteine sonder water en miswolke wat deur ’n hewige storm aangewaai word, en die donkerste duisternis is vir hulle bewaar.+ 18 Want hulle sê dinge wat indrukwekkend klink maar niks beteken nie. En hulle bevorder vleeslike begeertes+ en skaamtelose gedrag,* waardeur hulle mense mislei wat onlangs gevlug het van dié wat ’n sondige lewe lei.+ 19 Terwyl hierdie persone vryheid aan hulle belowe, is hulle self slawe van sonde.+ Want elkeen wat deur iemand* anders oorwin word, word sy slaaf.+ 20 Ja, as hulle akkurate kennis van die Here en Redder Jesus Christus verkry het en as gevolg daarvan gevlug het van die dinge van die wêreld wat ’n mens onrein maak,+ maar dan weer daarby betrokke raak en daardeur oorweldig word, het hulle laaste toestand erger geword as die eerste.+ 21 Dit sou vir hulle beter gewees het om nie akkurate kennis van die weg van regverdigheid te hê nie as om dit te hê maar dan weg te draai van die heilige gebod wat hulle ontvang het.+ 22 Wat met hulle gebeur het, bewys die waarheid van die spreekwoord wat sê: “Die hond het teruggekeer na wat hy opgegooi het, en die vark wat gewas is, het weer in die modder gaan rol.”+
3 Geliefdes, dit is nou die tweede brief wat ek aan julle skryf, waarin ek, net soos in my eerste brief, julle vermoë om helder te dink, aanwakker deur julle aan sekere dinge te herinner.+ 2 Dan sal julle die woorde kan onthou wat die heilige profete voorheen gesê* het, sowel as die gebod van die Here en Redder deur middel van julle apostels. 3 In die eerste plek moet julle weet dat daar in die laaste dae spotters sal kom, wat hulle eie begeertes sal volg.+ Hulle sal spot 4 en sê: “Waar is sy beloofde teenwoordigheid dan?+ Van die dag af dat ons voorvaders gesterf het, bly alles net soos dit was van die begin van die skepping af.”+
5 Want hulle ignoreer opsetlik die feit dat daar lank gelede hemele en ’n aarde was wat deur die woord van God stewig bo water gestaan het en deur water omring is,+ 6 en deur middel van hierdie woord is die wêreld van daardie tyd vernietig toe dit met water oorstroom is.+ 7 Maar deur dieselfde woord word die hemele en die aarde wat nou bestaan, vir die vuur bewaar en word dit gehou tot die dag van oordeel en van die vernietiging van die goddelose mense.+
8 Maar moenie hiervan vergeet nie, geliefdes: Een dag by Jehovah* is soos ’n duisend jaar en ’n duisend jaar soos een dag.+ 9 Jehovah* is nie traag om sy belofte te vervul,+ soos party mense dink nie, maar hy is geduldig met julle omdat hy nie wil hê dat enigiemand vernietig moet word nie, maar wil hê dat almal berou moet toon.+ 10 Maar Jehovah* se dag+ sal soos ’n dief kom,+ en op daardie dag sal die hemele met ’n gedreun* verbygaan.+ Die elemente, wat intens warm sal wees, sal verdwyn, en die aarde en die werke daarin sal geopenbaar word.+
11 Aangesien al hierdie dinge so sal verdwyn, moet julle dink aan watter soort mense julle behoort te wees. Julle gedrag moet heilig wees en julle moet dade van toegewydheid aan God verrig, 12 terwyl julle wag vir die teenwoordigheid van die dag van Jehovah* en dit goed in gedagte hou.*+ In hierdie dag sal die hemele deur vlamme vernietig word+ en sal die elemente in die intense hitte smelt! 13 Maar daar is nuwe hemele en ’n nuwe aarde waarna ons volgens sy belofte uitsien,+ en regverdigheid sal daarin woon.+
14 Daarom, geliefdes, aangesien julle vir hierdie dinge wag, moet julle julle bes doen om uiteindelik vlekkeloos en onbesmet en in vrede deur hom bevind te word.+ 15 En beskou die geduld van ons Here as redding, net soos ons geliefde broer Paulus ook aan julle geskryf het volgens die wysheid wat aan hom gegee is.+ 16 Hy praat oor hierdie dinge, net soos hy ook in al sy briewe doen. Party dinge in sy briewe is egter moeilik om te verstaan, en dit word verdraai deur mense wat oningelig* is of wie se geloof nie sterk is nie. Hulle verdraai ook die res van die Skrif, en dit sal tot hulle vernietiging lei.
17 Daarom, geliefdes, omdat julle hierdie dinge vooruit weet, moet julle oppas dat die wettelose mense met hulle valse leringe julle nie saam met hulle weglei en julle julle standvastigheid* verloor nie.+ 18 Nee, maar hou aan om te groei in die onverdiende goedheid en kennis van ons Here en Redder Jesus Christus. Aan hom behoort die eer, nou sowel as tot die dag van die ewigheid. Amen.
Of “sedelike goedheid; deug”.
Of “sedelike goedheid; deug”.
Of “onvrugbaar”.
Of moontlik “is blind en kortsigtig”.
Of “tent”, d.w.s. sy aardse liggaam.
Of “meld”.
Lett. “so ’n stem aan hom oorgedra het”.
Of “interpretasie”.
Of “beweeg”. Lett. “meegevoer”.
Of “dade van skaamtelose gedrag”. Meervoud van die Griekse woord a·selʹgei·a. Sien Woordelys.
Sien Woordelys.
Of moontlik “putte”.
Grieks: a·selʹgei·a. Sien Woordelys.
Sien Woordelys.
Sien Aanh. A5.
Lett. “vlees”.
Sien Aanh. A5.
Of “dade van skaamtelose gedrag”. Meervoud van die Griekse woord a·selʹgei·a. Sien Woordelys.
Of “iets”.
Of “voorspel”.
Sien Aanh. A5.
Sien Aanh. A5.
Sien Aanh. A5.
Of “gesuis”.
Sien Aanh. A5.
Of “en ’n sterk begeerte daarvoor het”. Lett. “dit bespoedig”.
Of “ongeleerd”.
Of “stabiliteit”.