Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • nwt Hebreërs 1:1-13:25
  • Hebreërs

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Hebreërs
  • Die Bybel – Nuwe Wêreld-vertaling
Die Bybel – Nuwe Wêreld-vertaling
Hebreërs

AAN DIE HEBREËRS

1 God het lank gelede by baie geleenthede en op baie maniere deur middel van die profete met ons voorvaders gepraat.+ 2 Maar nou, aan die einde van hierdie dae, het hy met ons gepraat deur middel van ’n Seun,+ wat hy as erfgenaam van alles aangestel het+ en deur wie hy die dinge in die hemel en die dinge op die aarde gemaak het.*+ 3 Hy is die weerspieëling van God se heerlikheid+ en ’n presiese weergawe van sy persoonlikheid,+ en hy hou alles in stand deur sy kragtige woord. En nadat hy ons van sondes gereinig het,+ het hy aan die regterhand van die Majesteit in die hemel gaan sit.+ 4 So het hy beter as die engele geword+ omdat hy ’n naam geërf het wat hulle s’n oortref.+

5 Vir watter een van die engele het God byvoorbeeld ooit gesê: “Jy is my seun. Vandag het ek jou vader geword”?+ En ook: “Ek sal sy vader word, en hy sal my seun word”?+ 6 Maar wanneer hy sy Eersgeborene+ weer na die aarde stuur, sê hy: “En al God se engele moet aan hom eer bewys.”*

7 Oor die engele sê hy: “Hy maak sy engele geeste en sy dienaars*+ soos die vlamme van ’n vuur.”+ 8 Maar oor die Seun sê hy: “God is u troon+ vir ewig en altyd, en die septer van u Koninkryk is die septer van geregtigheid. 9 U was lief vir regverdigheid en het wetteloosheid gehaat. Daarom het God, u God, u met die olie van vreugde gesalf,+ meer as u metgeselle.”+ 10 En: “U, o Here, het aan die begin die fondamente van die aarde gelê, en die hemel is die werke van u hande. 11 Hulle sal ophou bestaan, maar u sal bly bestaan. Net soos ’n kledingstuk sal hulle almal oud word, 12 en u sal hulle net soos ’n mantel oprol, soos ’n kledingstuk, en hulle sal vervang word. Maar u is dieselfde, en u jare sal nooit tot ’n einde kom nie.”+

13 Maar oor watter een van die engele het hy ooit gesê: “Sit aan my regterhand totdat ek jou vyande ’n voetbank vir jou voete maak”?+ 14 Is hulle nie almal geeste vir heilige* diens,+ wat uitgestuur word om dié te dien wat redding gaan ontvang nie?

2 Daarom is dit nodig dat ons meer as die gewone aandag skenk aan die dinge wat ons gehoor het,+ sodat ons nooit wegdryf nie.+ 2 Want as die woord wat deur middel van engele verkondig is,+ vervul is sodat elke oortreding en ongehoorsame daad in ooreenstemming met geregtigheid gestraf is,+ 3 hoe sal ons dan kan vlug as ons so ’n groot redding laat verbygaan het?+ Want dit is eers deur middel van ons Here bekend gemaak+ en is vir ons bevestig deur dié wat hom gehoor het. 4 God het ook saam getuig deur tekens en wonderwerke en allerhande kragtige werke te doen+ en deur die heilige gees volgens sy wil uit te deel.+

5 Want hy het die toekomstige bewoonde aarde waarvan ons praat,+ nie aan engele onderwerp nie. 6 Maar iemand het êrens getuig: “Wat is die mens dat u aan hom dink, of ’n mensekind dat u vir hom sorg?+ 7 U het hom ’n bietjie laer as engele gemaak. U het hom met heerlikheid en eer gekroon en hom oor die werke van u hande aangestel. 8 U het alles onder sy voete geplaas.”+ Deur alles aan hom te onderwerp,+ het God niks uitgesluit wat nie aan hom onderwerp is nie.+ Maar nou sien ons nog nie dat alles aan hom onderwerp is nie.+ 9 Maar ons sien wel dat Jesus, wat ’n bietjie laer as engele gemaak is,+ met heerlikheid en eer gekroon is omdat hy die dood ondergaan het.+ Deur God se onverdiende goedheid het hy die dood vir elke mens ervaar.+

10 Om baie kinders tot heerlikheid te lei,+ het die Een vir wie alles is en deur wie alles is, dit gepas gevind om die een deur wie redding vir hulle moontlik gemaak is,*+ tot volmaaktheid te bring deur hom te laat ly.+ 11 Want die een wat heilig sowel as dié wat geheilig word,+ is almal afstammelinge van dieselfde vader,+ en daarom is hy nie skaam om hulle broers te noem nie,+ 12 want hy sê: “Ek sal u naam aan my broers bekend maak. Ek sal u in die gemeente loof deur liedere te sing.”+ 13 En hy sê ook: “Ek sal op hom vertrou.”+ En ook: “Kyk! Ek en die jong kinders, wat Jehovah* my gegee het.”+

14 Aangesien die “jong kinders” dan vlees en bloed is, het hy ook vlees en bloed geword+ sodat hy deur sy dood die een kan vernietig wat die vermoë het om die dood te veroorsaak,+ naamlik die Duiwel,+ 15 en sodat hy almal kan bevry wat hulle hele lewe lank slawe was omdat hulle bang was vir die dood.+ 16 Want in werklikheid help hy nie engele nie, maar Abraham se nageslag.*+ 17 Gevolglik moes hy in alle opsigte soos sy “broers” word.+ So kon hy ’n genadige en getroue hoëpriester in die diens van God word om ’n versoeningsoffer+ vir die sondes van die volk te bring.+ 18 Hy het self gely toe hy getoets is,+ en daarom kan hy dié help wat getoets word.+

3 Daarom, heilige broers, wat geroep* is om hemel toe te gaan,+ dink na oor die apostel en hoëpriester wat ons erken – Jesus.+ 2 Hy was getrou aan die Een wat hom aangestel het,+ net soos Moses ook in die hele huis van God was.+ 3 Want Jesus verdien meer eer as Moses,+ aangesien die een wat ’n huis bou, meer eer as die huis self het. 4 Elke huis word natuurlik deur iemand gebou, maar die een wat alles gebou het, is God. 5 Moses was getrou as ’n dienaar in die hele huis van daardie Een, en sy diens was ’n getuienis van die dinge wat later bekend gemaak sou word. 6 Maar Christus was getrou as ’n seun+ oor God se huis. Ons is Sy huis+ as ons tot die einde toe aanhou om moedig te praat en stewig vashou aan die hoop waarop ons trots is.

7 Daarom, net soos die heilige gees sê:+ “Vandag, as julle na sy stem luister, 8 moet julle nie julle harte verhard soos die keer toe julle my bitter kwaad gemaak het, soos op die dag toe julle my in die wildernis getoets het nie.+ 9 Daar het julle voorvaders my getoets en uitgedaag, al het hulle 40 jaar lank my werke gesien.+ 10 Daarom het hierdie geslag vir my iets walgliks geword, en ek het gesê: ‘Hulle dwaal altyd in hulle harte af, en hulle het nie my weë leer ken nie.’ 11 Ek het dus in my woede gesweer: ‘Hulle sal nie in my rus ingaan nie.’”+

12 Pasop, broers, dat nie een van julle ooit ’n goddelose, ongelowige hart ontwikkel deurdat hy van die lewende God wegbeweeg nie.+ 13 Maar hou aan om mekaar elke dag aan te moedig, solank dit “Vandag”+ genoem word, sodat niemand van julle verhard word omdat hy deur die krag van sonde bedrieg is nie. 14 Want ons sal slegs ontvang wat die Christus ontvang het* as ons tot die einde toe stewig vashou aan die vertroue wat ons aan die begin gehad het.+ 15 Soos daar gesê is: “Vandag, as julle na sy stem luister, moet julle nie julle harte verhard soos die keer toe julle my bitter kwaad gemaak het nie.”+

16 Want wie het sy stem gehoor en hom tog bitter kwaad gemaak? Was dit nie in werklikheid almal wat onder Moses se leiding uit Egipte uitgegaan het nie?+ 17 En wie het 40 jaar lank vir God walglik geword?+ Was dit nie dié wat gesondig het, wie se lyke in die wildernis geval het nie?+ 18 En aan wie het hy gesweer dat hulle nie in sy rus sou ingaan nie? Was dit nie aan dié wat ongehoorsaam was nie? 19 Ons sien dus dat hulle weens ’n gebrek aan geloof nie kon ingaan nie.+

4 Aangesien die belofte om in sy rus in te gaan, nog steeds geld, moet ons oppas* dat nie een van ons as onwaardig beskou word om dit te ontvang nie.+ 2 Want die goeie nuus is ook aan ons bekend gemaak,+ net soos aan hulle. Maar die woord wat hulle gehoor het, het hulle nie gehelp nie omdat hulle nie dieselfde geloof gehad het as dié wat geluister het nie. 3 Want ons wat geloof beoefen het, gaan wel in die rus in, net soos hy gesê het: “Ek het dus in my woede gesweer: ‘Hulle sal nie in my rus ingaan nie,’”+ al was sy werke van die begin van die mensdom* af reeds voltooi.+ 4 Want op een plek het hy die volgende van die sewende dag gesê: “En God het op die sewende dag van al sy werke gerus”,+ 5 en hier sê hy weer: “Hulle sal nie in my rus ingaan nie.”+

6 Party moet dus nog daar ingaan, en dié aan wie die goeie nuus eerste bekend gemaak is, het nie ingegaan nie omdat hulle ongehoorsaam was.+ 7 Daarom stel hy dus weer ’n sekere dag vas, wat “Vandag” genoem word. Want hy het lank ná die tyd in Dawid se psalm die woorde gesê wat vroeër genoem is: “Vandag, as julle na sy stem luister, moet julle nie julle harte verhard nie.”+ 8 Want as Josua+ hulle in ’n plek van rus ingelei het, sou God nie agterna van ’n ander dag gepraat het nie. 9 Daar bly dus ’n sabbatsrus oor vir die volk van God.+ 10 Want die mens wat in God se rus ingegaan het, het ook van sy eie werke gerus, net soos God van syne gerus het.+

11 Laat ons dan ons bes doen om in daardie rus in te gaan, sodat niemand in dieselfde patroon van ongehoorsaamheid verval nie.+ 12 Want die woord van God is lewend en kragtig+ en skerper as enige tweesnydende swaard.+ Dit dring diep in ’n mens in en skei siel en gees,* en dit skei die gewrigte van die murg, en dit kan gedagtes en bedoelings van die hart openbaar.* 13 En daar is nie ’n skepping wat God nie kan sien nie,+ maar alles is oop en bloot voor die oë van die Een aan wie ons ’n antwoord moet gee.+

14 Aangesien ons ’n groot hoëpriester het wat in die hemel ingegaan het, Jesus, die Seun van God,+ moet ons aanhou om ons geloof in hom in die openbaar bekend te maak.+ 15 Want ons het nie ’n hoëpriester wat nie met ons swakhede kan simpatiseer nie,+ maar ons het een wat in alle opsigte soos ons getoets is, maar sonder sonde.+ 16 Laat ons dan die troon van onverdiende goedheid met vrymoedigheid nader,+ sodat ons genade kan ontvang en onverdiende goedheid kan vind om ons op die regte tyd te help.

5 Want elke hoëpriester wat uit die mense geneem word, word in die diens van God aangestel ter wille van mense,+ sodat hy gawes en offerandes vir sondes kan bring.+ 2 Hy kan medelye* betoon aan dié wat nie van beter weet nie en wat foute maak,* omdat hy ook sy eie swakhede het, 3 en daarom moet hy nie net offerandes bring vir die sondes van die volk nie, maar ook vir sy eie sondes.+

4 Niemand kan homself hierdie eer gee nie, maar hy ontvang dit net wanneer hy deur God geroep word, net soos Aäron geroep is.+ 5 So ook het die Christus nie homself die eer gegee+ deur ’n hoëpriester te word nie, maar hierdie eer is vir hom gegee deur die Een wat vir hom gesê het: “Jy is my seun. Vandag het ek jou vader geword.”+ 6 Êrens anders sê hy ook: “Jy is vir ewig ’n priester soos Melgiseʹdek.”+

7 Gedurende sy lewe op aarde* het Christus met sterk uitroepe en trane+ smeekgebede en gebede gedoen tot die Een wat hom uit die dood kon red, en sy gebede is beantwoord omdat hy God gevrees het. 8 Al was hy ’n seun, het hy gehoorsaamheid geleer uit die dinge wat hy gely het.+ 9 En nadat hy volmaak geword het,+ het hy verantwoordelik geword vir die ewige redding van almal wat hom gehoorsaam,+ 10 want hy is deur God aangestel om ’n hoëpriester soos Melgiseʹdek te wees.+

11 Ons het baie om oor hom te sê, en dit is moeilik om te verduidelik omdat julle traag geword het om te luister.* 12 Julle behoort teen dié tyd al onderrigters te wees, maar julle het weer iemand nodig om julle van die begin af die basiese* dinge+ van die heilige verklarings van God te leer. Julle het nou weer melk nodig in plaas van vaste voedsel. 13 Want elkeen wat aanhou om van melk te lewe, is onbekend met die woord van regverdigheid, want hy is ’n jong kind.+ 14 Maar vaste voedsel is vir volwasse mense, vir dié wat hulle denkvermoë* geoefen het deur dit te gebruik, sodat hulle kan onderskei wat reg en wat verkeerd is.

6 Noudat ons die basiese leringe+ oor die Christus agtergelaat het, moet ons hard werk om geestelik volwasse te word.+ Laat ons dit doen sonder om weer ’n fondament te lê, naamlik berou oor dooie werke, geloof in God, 2 die leringe oor verskillende dope, die oplê van hande,+ die opstanding van die dooies+ en die ewige oordeel. 3 En met God se hulp sal ons dit doen.

4 Want dié wat voorheen die lig ontvang het+ en wat die hemelse vrye gawe geproe en heilige gees ontvang het 5 en wat die goeie woord van God en kragte van die wêreld wat kom,* ondervind het, 6 maar wat afvallig geword het,+ kan nie gehelp word om weer berou te toon nie, want hulle hang die Seun van God weer aan die paal vir hulleself en maak ’n bespotting van hom in die openbaar.+ 7 Want die grond ontvang ’n seën van God wanneer dit die reën indrink wat dikwels daarop val en dan ’n oes voortbring vir dié wat dit bewerk. 8 Maar as dit dorings en dissels voortbring, word dit verwerp en word dit amper vervloek, en uiteindelik sal dit verbrand word.

9 Maar al sê ons dit, geliefdes, is ons in julle geval oortuig van iets beters, iets wat tot redding lei, al praat ons so. 10 Want God is nie onregverdig nie. Hy sal nie vergeet van julle werk en die liefde wat julle vir sy naam getoon het+ deurdat julle die heiliges gedien het en bly dien nie. 11 Maar ons wil hê dat elkeen van julle net so hardwerkend moet wees sodat julle hoop tot die einde toe+ heeltemal seker kan wees,+ 12 sodat julle nie lui sal word nie,+ maar navolgers sal wees van dié wat deur geloof en geduld die beloftes sal ontvang.

13 Want toe God sy belofte aan Abraham gemaak het, het hy by homself gesweer+ omdat hy by niemand groter kon sweer nie 14 en gesê: “Ek sal jou beslis seën en jou beslis vermeerder.”+ 15 En nadat Abraham geduldig gewag het, het hy hierdie belofte ontvang. 16 Want mense sweer by iemand wat groter as hulle is, en hulle eed is die einde van elke saak, aangesien dit vir hulle ’n wetlike waarborg is.+ 17 Toe God besluit het om vir die erfgename van die belofte+ duideliker te toon dat sy voorneme* nie kan verander nie, het hy dit op dieselfde manier met ’n eed gewaarborg.* 18 Hierdie twee dinge is onveranderlik, en dit is onmoontlik vir God om te lieg.+ Deur middel daarvan kry ons wat na die skuilplek gevlug het, die kragtige aanmoediging om stewig vas te hou aan die hoop wat ons het. 19 Ons het hierdie hoop+ as ’n anker vir die siel.* Dit is seker en vas en lei ons verby die gordyn,*+ 20 waar ’n voorloper ter wille van ons ingegaan het, naamlik Jesus,+ wat vir ewig ’n hoëpriester soos Melgiseʹdek geword het.+

7 Want hierdie Melgiseʹdek, die koning van Salem, priester van die allerhoogste God, het na Abraham toe gegaan toe Abraham op pad terug was nadat hy die konings oorwin het. Hy het Abraham geseën,+ 2 en Abraham het hom ’n tiende van alles gegee. Eerstens word sy naam as “koning van regverdigheid” vertaal, en dan is hy ook koning van Salem, dit wil sê “koning van vrede”. 3 Hy is sonder pa of ma of geslagsregister, en niemand weet wanneer hy gebore is of gesterf het nie. Maar omdat hy soos die Seun van God gemaak is, bly hy vir altyd ’n priester.+

4 Kyk dan hoe belangrik hierdie man was aan wie Abraham, die familiehoof,* ’n tiende gegee het van die beste dinge wat hy in die oorlog gevat het.+ 5 Volgens die Wet moet dié wat as priesters uit die kinders van Levi aangestel is,+ tiendes van die volk insamel,+ dit wil sê van hulle broers, al is hulle nakomelinge van Abraham.* 6 Maar hierdie man, wat nie ’n nakomeling van die kinders van Levi was nie, het tiendes van Abraham geneem en die een geseën wat die beloftes gehad het.+ 7 Niemand kan ontken dat die een wat minder belangrik is, geseën word deur die een wat belangrik is nie. 8 En in die een geval word tiendes ontvang deur mense wat sterf, maar in die ander geval deur iemand van wie getuig word dat hy lewe.+ 9 En daar kan gesê word dat selfs Levi, wat tiendes ontvang, deur middel van Abraham tiendes betaal het, 10 want hy was nog in die liggaam* van sy voorvader toe Melgiseʹdek na hom toe gegaan het.+

11 As volmaaktheid dan werklik deur die Levitiese priesterskap verkry kon word+ (want dit was ’n kenmerk van die Wet wat aan die volk gegee is), hoekom sou dit nog nodig wees dat ’n ander priester opstaan, ’n priester soos Melgiseʹdek+ en nie soos Aäron nie? 12 Aangesien die priesterskap verander word, moet die Wet ook verander word.+ 13 Want die man van wie hierdie dinge gesê word, kom uit ’n ander stam, en niemand uit daardie stam het by die altaar diens gedoen nie.+ 14 Dit is duidelik dat ons Here ’n nakomeling van Juda is,+ en tog het Moses nooit gesê dat priesters uit daardie stam sou kom nie.

15 En dit word nog duideliker wanneer daar ’n ander priester+ verskyn wat soos Melgiseʹdek is.+ 16 Hy dien nie as ’n priester omdat hy uit die stam gekom het* wat deur die Wet vereis is nie, maar op grond van die krag wat hom ’n onvernietigbare lewe gee.+ 17 Want die volgende word van hom getuig: “Jy is vir ewig ’n priester soos Melgiseʹdek.”+

18 Daarom word daar ’n einde gemaak aan die vorige gebod omdat dit swak en ondoeltreffend is.+ 19 Want die Wet het niks tot volmaaktheid gebring nie,+ maar die beter hoop wat aan ons gegee is,+ het wel, en as gevolg daarvan kom ons nader aan God.+ 20 Hierdie priester het ook nie verskyn sonder dat ’n eed gesweer is nie. 21 (Daar is wel manne wat priesters geword het sonder dat ’n eed gesweer is, maar hierdie priester het ’n priester geword toe ’n eed oor hom gesweer is deur die Een wat gesê het: “Jehovah* het gesweer, en hy sal nie van gedagte verander* nie: ‘Jy is vir ewig ’n priester.’”)+ 22 En so het Jesus die waarborg geword van ’n beter verbond.+ 23 Verder moes baie priesters mekaar opvolg+ omdat die dood gekeer het dat hulle as priesters bly dien, 24 maar omdat hy vir ewig bly lewe,+ sal niemand hom as priester opvolg nie. 25 Daarom is hy ook in staat om dié wat God deur middel van hom nader, ten volle te red, want hy is altyd lewend om vir hulle te pleit.+

26 Want dit is gepas vir ons om so ’n hoëpriester te hê wat lojaal, onskuldig, onbesmet,+ afgeskeie van die sondaars en hoër as die hemel is.+ 27 Anders as daardie hoëpriesters, hoef hy nie elke dag eers vir sy eie sondes offers te bring+ en dan vir dié van die volk nie,+ want hy het dit eens en vir altyd gedoen toe hy homself geoffer het.+ 28 Want die Wet stel mense met swakhede as hoëpriesters aan,+ maar die woord van die eed+ wat ná die Wet gesweer is, stel ’n Seun aan, wat vir ewig tot volmaaktheid gebring is.+

8 Hier is dan nou die hoofpunt van wat ons sê: Ons het so ’n hoëpriester,+ en hy het aan die regterhand van die troon van die Majesteit in die hemel gaan sit,+ 2 ’n dienaar* in die heiligdom+ en die ware tent, wat deur Jehovah* opgerig is, nie deur ’n mens nie. 3 Want elke hoëpriester word aangestel om gawes sowel as offerandes te bring. Daarom moes hierdie hoëpriester ook iets hê om te offer.+ 4 As hy op die aarde was, sou hy nie ’n priester wees nie+ omdat daar alreeds manne is wat die gawes volgens die Wet offer. 5 Hierdie manne doen heilige diens as ’n afbeelding en ’n skaduwee+ van die hemelse dinge.+ Dit kan ook gesien word uit die volgende opdrag wat God aan Moses gegee het toe hy die tent moes maak: “Sorg dat jy alles maak volgens die voorbeeld wat op die berg vir jou gewys is.”+ 6 Maar nou het Jesus ’n baie beter bediening* verkry, want hy is ook die middelaar+ van ’n beter verbond,+ wat wetlik bevestig is op beter beloftes.+

7 As daardie eerste verbond foutloos was, sou ’n tweede een nie nodig gewees het nie.+ 8 Hy vind fout met die volk wanneer hy sê: “‘Kyk! Die dae kom,’ sê Jehovah,* ‘wanneer ek met die huis van Israel en met die huis van Juda ’n nuwe verbond sal maak. 9 Dit sal nie wees soos die verbond wat ek met hulle voorvaders gemaak het op die dag toe ek hulle hand gevat het om hulle uit Egipte uit te lei nie.+ Want hulle het nie in my verbond gebly nie, en daarom het ek opgehou om vir hulle om te gee,’ sê Jehovah.*

10 “‘Want dit is die verbond wat ek ná daardie dae met die huis van Israel sal maak,’ sê Jehovah.* ‘Ek sal my wette in hulle verstande sit, en ek sal dit in hulle harte skryf.+ En ek sal hulle God word, en hulle sal my volk word.+

11 “‘Hulle sal nie meer elkeen sy medeburger en elkeen sy broer leer en sê: “Ken Jehovah!”* nie. Want hulle almal sal my ken, van die kleinste tot die grootste onder hulle. 12 Want ek sal hulle vergewe vir hulle onregverdige dade, en ek sal nie meer aan hulle sondes dink nie.’”+

13 Deur te sê “’n nuwe verbond”, het hy die vorige verbond verouderd gemaak.+ En wat verouderd gemaak is en oud word, staan op die punt om te verdwyn.+

9 Die vorige verbond het wetlike vereistes vir heilige diens gehad, en ook ’n heiligdom+ op die aarde. 2 Want ’n eerste tentafdeling is gemaak, waarin die lampstaander+ en die tafel en die uitstalling van die offerbrode* was,+ en dit is die Heilige+ genoem. 3 Maar agter die tweede gordyn*+ was die tentafdeling wat die Allerheiligste+ genoem is. 4 In die Allerheiligste was ’n goue vuurbak+ en die ark van die verbond,+ wat met goud oorgetrek was.+ Binne-in die ark was die goue houer met die manna,+ Aäron se staf wat bloeisels gehad het+ en die kliptablette+ van die verbond. 5 Bo-op was die glorieryke gerubs wat die versoendeksel*+ oorskadu het. Maar dit is nie nou die tyd om in besonderhede oor hierdie dinge te praat nie.

6 Nadat hierdie dinge so gemaak is, sou die priesters gereeld in die eerste tentafdeling ingaan om die heilige dienste te verrig,+ 7 maar die hoëpriester sou een keer per jaar alleen in die tweede afdeling ingaan,+ en hy sou altyd bloed bring+ wat hy vir homself sou offer+ en vir die sondes wat die volk+ uit onkunde gepleeg het. 8 Die heilige gees maak dit dus duidelik dat die weg tot in die heiligdom nie geopenbaar is terwyl die eerste tent nog bestaan het nie.+ 9 Hierdie tent is ’n illustrasie vir die huidige tyd,+ en volgens hierdie reëling word gawes sowel as offerandes gebring.+ Maar hierdie dinge kan nie die gewete van die man wat heilige diens doen, tot volmaaktheid bring nie.+ 10 Dit het net te doen met kos en drank en verskillende seremoniële reinigings.*+ Dit was wetlike vereistes wat verband gehou het met die liggaam,+ en dit is opgelê tot die vasgestelde tyd om dinge reg te stel.

11 Maar toe Christus gekom het as ’n hoëpriester van die goeie dinge wat alreeds gebeur het, het hy deur die groter en volmaakter tent gegaan wat nie met hande gemaak is nie, dit wil sê wat nie van hierdie skepping is nie. 12 Hy het eens en vir altyd in die heiligdom ingegaan, nie met die bloed van bokke en jong bulle nie, maar met sy eie bloed,+ en hy het ’n ewige verlossing* vir ons verkry.+ 13 Die bloed van bokke en bulle+ en die as van ’n jong koei word op onrein mense gesprinkel om hulle liggame* te reinig en te heilig.+ 14 Maar die bloed van die Christus doen soveel meer!+ Hy het homself deur middel van die ewige heilige gees as ’n onbesmette offer vir God aangebied, en dit reinig ons gewetens van dooie werke+ sodat ons heilige diens vir die lewende God kan doen.+

15 Daarom is hy ’n middelaar van ’n nuwe verbond+ sodat dié wat geroep is, die belofte van die ewige erfenis kan ontvang.+ Hy het gesterf om hulle deur ’n losprys+ te bevry van die oortredings onder die vorige verbond. 16 Want wanneer ’n verbond gemaak word, moet die dood van die mens wat die verbond gemaak het, eers bevestig word. 17 ’n Verbond tree in werking by die dood, want dit is nog nie in werking terwyl die mens wat die verbond gemaak het, lewe nie. 18 Daarom het die vorige verbond ook nie sonder bloed in werking getree nie. 19 Want toe Moses al die gebooie van die Wet aan die hele volk oorgedra het, het hy die bloed van die jong bulle en die bokke met water gemeng. Hy het helderrooi wol en hisop gebruik om dit op die boek* en die hele volk te sprinkel, 20 en hy het gesê: “Dit is die bloed van die verbond wat God julle beveel het om te onderhou.”+ 21 Net so het hy die bloed op die tent en op al die houers van die heilige* diens gesprinkel.+ 22 Ja, volgens die Wet word byna alles met bloed gereinig,+ en as bloed nie uitgestort word nie, word geen sondes vergewe nie.+

23 Daarom was dit nodig dat die afbeeldings+ van die dinge in die hemel op hierdie manier gereinig word,+ maar die hemelse dinge vereis offerandes wat veel beter is. 24 Want Christus het nie in ’n heiligdom ingegaan wat met hande gemaak is+ en wat ’n kopie van die werklikheid is nie,+ maar in die hemel self.+ Dit was sodat hy nou vir ons voor God kan verskyn,+ 25 en nie om homself dikwels te offer, soos die hoëpriester elke jaar in die heiligdom ingaan+ met bloed wat nie sy eie is nie. 26 Anders sou hy van die begin van die mensdom* af dikwels moes ly. Maar nou het hy hom eens en vir altyd aan die einde van die tydperke* geopenbaar om ontslae te raak van sonde deur homself te offer.+ 27 En net soos mense eens en vir altyd sterf en daarna geoordeel word, 28 so is die Christus ook eens en vir altyd geoffer om die sondes van baie te dra.+ Wanneer hy die tweede keer verskyn, sal dit nie wees om sonde weg te neem nie,* en hy sal gesien word deur dié wat vol verlange daarna uitsien om deur hom gered te word.+

10 Die Wet is ’n skaduwee+ van die toekomstige goeie dinge,+ maar nie die werklikheid van daardie dinge nie. Daarom kan dit* aanbidders nooit, deur dieselfde offerandes wat jaar ná jaar geoffer word, tot volmaaktheid bring nie.+ 2 Anders sou offerandes mos nie meer gebring word nie, want dié wat heilige diens doen en eenmaal gereinig is, sou nie meer van sondes bewus wees nie. 3 Maar hierdie offerandes herinner hulle jaar ná jaar aan sondes,+ 4 want dit is nie vir die bloed van bulle en bokke moontlik om sondes weg te neem nie.

5 Toe hy in die wêreld ingekom het, het hy dus gesê: “‘U wou nie ’n offerande of ’n offergawe hê nie, maar u het vir my ’n liggaam voorberei. 6 U het nie heelbrandoffers en sonde-offers goedgekeur nie.’+ 7 Toe het ek gesê: ‘Kyk! Ek het gekom (in die boekrol is daar oor my geskryf) om u wil te doen, o God.’”+ 8 Eers het hy gesê: “U wou nie offerandes en offergawes en heelbrandoffers en sonde-offers hê nie, en u het dit nie goedgekeur nie.” Dit verwys na offerandes wat volgens die Wet gebring word. 9 Dan sê hy: “Kyk! Ek het gekom om u wil te doen.”+ Hy verwyder dit wat eerste is sodat hy dit wat tweede is, kan instel. 10 Deur hierdie “wil”+ is ons eens en vir altyd geheilig deur middel van die offer van die liggaam van Jesus Christus.+

11 Elke priester neem ook dag ná dag sy plek in om heilige* diens te doen+ en om oor en oor dieselfde offerandes te bring,+ wat sonde nooit heeltemal kan wegneem nie.+ 12 Maar hierdie man het eens en vir altyd een offerande vir sondes gebring en het aan die regterhand van God gaan sit,+ 13 en hy wag van toe af totdat sy vyande ’n voetbank vir sy voete gemaak word.+ 14 Want deur een slagoffer het hy dié wat geheilig word, eens en vir altyd tot volmaaktheid gebring.+ 15 En die heilige gees bevestig dit ook vir ons, want eers sê dit: 16 “‘Dit is die verbond wat ek ná daardie dae met hulle sal maak,’ sê Jehovah.* ‘Ek sal my wette in hulle harte sit, en ek sal dit in hulle verstande skryf.’”+ 17 Dan sê dit: “En ek sal nie meer aan hulle sondes en hulle wettelose dade dink nie.”+ 18 As God dan nou hierdie sondes vergewe het, is geen offers meer nodig nie.

19 Broers, deur die bloed van Jesus het ons die vrymoedigheid* om gebruik te maak van die weg wat in die heiligdom+ ingaan. 20 Hy het hierdie nuwe en lewende weg vir ons geopen* deur die gordyn,*+ naamlik sy liggaam,* 21 en nou het ons ’n groot priester oor die huis van God.+ 22 Laat ons dus met opregte harte en rotsvaste geloof nader kom, aangesien ons harte deur besprinkeling gereinig is van ’n goddelose gewete+ en ons liggame met skoon water gewas is.+ 23 Laat ons aan die openbare bekendmaking van ons hoop vashou sonder om te twyfel,+ want die een wat die belofte gemaak het, is getrou. 24 En laat ons aandag skenk aan* mekaar sodat ons mekaar tot liefde en goeie werke kan aanspoor.*+ 25 Ons moenie ons vergaderingbywoning verwaarloos,+ soos party die gewoonte het nie, maar ons moet mekaar aanmoedig,+ en ons moet dit al hoe meer doen terwyl ons die dag sien nader kom.+

26 Want as ons opsetlik sonde beoefen nadat ons akkurate kennis van die waarheid ontvang het,+ bly daar nie meer enige offerande vir sondes oor nie,+ 27 maar daar is ’n sekere vreeslike verwagting van oordeel en ’n brandende woede wat die teenstanders gaan verteer.+ 28 Enigiemand wat nie die Wet van Moses gehoorsaam nie, word op die getuienis van twee of drie doodgemaak+ sonder enige genade. 29 Wat dink julle? As iemand die Seun van God vertrap het en die bloed van die verbond+ waardeur hy geheilig is, as iets doodgewoons beskou het en die gees van onverdiende goedheid beledig en verwerp het,+ verdien hy nie om soveel swaarder gestraf te word nie? 30 Want ons ken die Een wat gesê het: “Die wraak is myne. Ek sal terugbetaal.” Hy sê ook: “Jehovah* sal sy volk oordeel.”+ 31 Dit is iets vreesliks om in die hande van die lewende God te val.

32 Maar bly dink aan die tyd nadat julle die lig gesien het,+ toe julle ’n groot stryd deurgemaak het en baie gely het. 33 Soms is julle in die openbaar* beledig en sleg behandel, en soms het julle dié wat so iets deurgemaak het, bygestaan. 34 Want julle het simpatie met dié in die gevangenis en het julle vreugde behou toe julle van julle besittings beroof is,+ omdat julle weet dat julle ’n beter besitting het wat permanent is.+

35 Moenie ophou om met vrymoedigheid te praat nie, want dit sal ryklik beloon word.+ 36 Julle het volharding nodig,+ want as julle die wil van God bly doen, sal julle die vervulling van die belofte ontvang. 37 Want nog “’n baie kort rukkie”,+ en “die een wat kom, sal kom en sal nie lank neem nie”.+ 38 “Maar my regverdige kneg sal deur geloof lewe”,+ en “as hy van my af wegbeweeg, gee hy my* geen vreugde nie”.+ 39 Ons is dan nou nie die soort wat van God af wegbeweeg en vernietig word nie,+ maar die soort wat geloof het en daardeur sal bly lewe.

11 Geloof is die vaste vertroue dat die dinge waarvoor ’n mens hoop, sal gebeur.+ Dit is die duidelike* bewys dat dinge wat nie gesien word nie, ’n werklikheid is. 2 Want deur middel hiervan het die manne van die ou tyd* God se goedkeuring ontvang.*

3 Deur geloof verstaan ons dat die dinge in die hemel en op die aarde deur God se woord voorberei is,* sodat wat gesien word, ontstaan het uit dinge wat nie gesien word nie.

4 Deur geloof het Abel ’n offerande van groter waarde aan God gebring as dié van Kain,+ en deur hierdie geloof het hy die getuienis ontvang dat hy regverdig is, want God het sy gawes goedgekeur.*+ En al het hy gesterf, praat+ hy nog steeds deur sy geloof.

5 Deur geloof is Henog+ weggeneem sodat hy nie die dood sou sien nie, en hy kon nêrens gevind word nie omdat God hom weggeneem het.+ Voordat hy weggeneem is, het hy die getuienis ontvang dat hy God se hart bly gemaak het. 6 Wat meer is, sonder geloof is dit onmoontlik om God se goedkeuring te verkry, want as iemand God wil nader, moet hy glo dat hy bestaan* en dat hy die beloner word van dié wat hom ernstig soek.+

7 Deur geloof het Noag+ vrees vir God geopenbaar nadat hy ’n waarskuwing van God ontvang het oor dinge wat nog nie gesien is nie.+ Hy het ’n ark gebou+ sodat sy huisgesin gered kon word. Deur hierdie geloof het hy die wêreld veroordeel,+ en hy het ’n erfgenaam geword van die regverdigheid wat deur geloof verkry word.

8 Deur geloof was Abraham+ gehoorsaam toe hy geroep is om weg te trek na ’n plek wat hy as ’n erfenis sou ontvang. Hy het weggetrek, al het hy nie geweet waarheen hy gaan nie.+ 9 Deur geloof het hy as ’n uitlander in die land van die belofte gewoon.+ Hy het in tente gewoon+ saam met Isak en Jakob, wat saam met hom erfgename van presies dieselfde belofte was.+ 10 Want hy het uitgesien na die stad wat ware fondamente het, wat deur God ontwerp en gebou is.*+

11 Deur geloof het Sara krag ontvang om swanger te word,* al was sy te oud daarvoor,+ want sy het geglo dat die Een wat die belofte gemaak het, getrou* is. 12 Daarom is daar uit een man wat so goed as dood was,+ kinders gebore+ wat so baie soos die sterre van die hemel en so ontelbaar soos die sand op die strand is.+

13 In geloof het hulle almal gesterf, al het hulle nie die vervulling van die beloftes ontvang nie.+ Maar hulle het dit van ver af gesien+ en dit verwelkom en in die openbaar bekend gemaak dat hulle vreemdelinge en tydelike inwoners in die land is. 14 Want dié wat so praat, maak dit duidelik dat hulle ernstig op soek is na ’n plek wat hulle eie is. 15 En tog, as hulle bly dink het aan die plek waaruit hulle weggetrek het,+ sou hulle ’n geleentheid gevind het om terug te gaan. 16 Maar nou sien hulle uit na ’n beter plek, ’n plek wat tot die hemel behoort. Daarom is God nie skaam om hulle God genoem te word nie,+ want hy het selfs ’n stad vir hulle voorberei.+

17 Deur geloof het Abraham, toe hy getoets is,+ Isak so goed as geoffer. Hierdie man, wat die beloftes met blydskap ontvang het, het sy enigste* seun probeer offer,+ 18 al is daar vir hom gesê: “Wat jou nageslag* genoem sal word, sal deur Isak wees.”+ 19 Maar hy het geredeneer dat God hom selfs uit die dood kon opwek, en hy het hom toe ook in ’n figuurlike sin*+ daaruit terugontvang.

20 Deur geloof het Isak vir Jakob+ en Esau+ geseën in verband met dinge wat in die toekoms sou gebeur.

21 Deur geloof het Jakob elkeen van Josef se seuns+ geseën toe hy op die punt gestaan het om te sterf,+ en hy het aanbid terwyl hy op die bopunt van sy staf geleun het.+

22 Deur geloof het Josef na aan die einde van sy lewe gepraat van die uittog van die Israeliete, en hy het instruksies* in verband met sy liggaam* gegee.+

23 Deur geloof is Moses ná sy geboorte drie maande lank deur sy ouers weggesteek+ omdat hulle gesien het dat die jong kind mooi is+ en hulle nie vir die koning se bevel bang was nie.+ 24 Deur geloof het Moses geweier om die seun van Farao se dogter+ genoem te word toe hy groot was.+ 25 Hy het eerder gekies om saam met God se volk sleg behandel te word as om sonde ’n kort tydjie te geniet, 26 omdat die skande van die Christus vir hom waardevoller was as die skatte van Egipte, want hy het sy oë stip op die beloning gehou. 27 Deur geloof het hy Egipte verlaat,+ maar hy was nie bang vir die woede van die koning nie,+ want hy het standvastig gebly soos iemand wat die Onsigbare sien.+ 28 Deur geloof het hy die Pasga gevier en die bloed aan die deurposte gespat, sodat die vernietiger niks aan hulle eersgeborenes sou doen nie.+

29 Deur geloof het hulle deur die Rooisee getrek asof dit droë grond was,+ maar toe die Egiptenare dit probeer doen het, het hulle verdrink.+

30 Deur geloof het die mure van Jeʹrigo geval nadat die volk sewe dae lank daarom gemarsjeer het.+ 31 Deur geloof het Ragab, die prostituut, nie doodgegaan saam met dié wat ongehoorsaam was nie, want sy het die spioene vreedsaam ontvang.+

32 En wat sal ek nog sê? Want daar is nie genoeg tyd vir my om nog te vertel van Giʹdeon,+ Barak,+ Simson,+ Jefta,+ Dawid+ sowel as Samuel+ en die ander profete nie. 33 Deur geloof het hulle koninkryke verslaan,+ gedoen wat reg is, beloftes verkry,+ die bekke van leeus toegestop,+ 34 die krag van vuur weerstaan,+ van die skerpte van die swaard ontsnap,+ hulle swakheid verander in krag,+ dapper geword in oorlog+ en aanvallende leërmagte laat vlug.+ 35 Vrouens het hulle dooies deur ’n opstanding ontvang,+ maar ander manne is gemartel, want hulle het geweier om vrygelaat te word,* sodat hulle ’n beter opstanding kan verkry. 36 En ander het gely omdat hulle bespot en met ’n gésel* geslaan is, en selfs omdat hulle geboei+ en gevange gehou+ is. 37 Hulle is met klippe doodgegooi,+ hulle is getoets, hulle is in twee* gesaag, hulle is met die swaard doodgemaak.+ Hulle het rondgeloop in skaapvelle, in bokvelle,+ terwyl hulle gebrek gely het, swaargekry het+ en sleg behandel is.+ 38 En die wêreld het hulle nie verdien nie. Hulle het rondgeloop in woestyne en berge en grotte+ en gate van die aarde.

39 En tog het hulle almal, al het hulle as gevolg van hulle geloof ’n goeie getuienis gekry, nie die vervulling van die belofte ontvang nie, 40 want God het iets beters vir ons in gedagte gehad.+ Hulle sou dus nie sonder ons tot volmaaktheid gebring word nie.

12 Omdat ons so ’n groot wolk van getuies om ons het, moet ons ook ontslae raak van elke gewig en van die sonde wat ons maklik verstrik.+ Laat ons die wedloop wat voor ons is, met volharding hardloop+ 2 terwyl ons ons oë stip gerig hou op die een wat ons in ons geloof lei en wat ons geloof volkome maak* – Jesus.+ As gevolg van die vreugde wat voor hom gestel is, het hy ’n folterpaal* verduur en het die skande nie vir hom saak gemaak nie, en hy het aan die regterhand van die troon van God gaan sit.+ 3 Let goed op die een wat die vyandige spraak moes verduur van sondaars+ wat hulleself op hierdie manier benadeel het, sodat julle nie moeg word en moed opgee nie.+

4 In julle stryd teen daardie sonde het julle nog nooit tot die dood toe weerstand gebied nie. 5 En julle het die aansporing wat tot julle as seuns gerig is, heeltemal vergeet: “My seun, moenie neersien op die dissipline wat van Jehovah* kom nie, en moet ook nie moed opgee wanneer jy deur hom reggehelp word nie, 6 want Jehovah* dissiplineer dié wat hy liefhet. Ja, hy straf* elkeen wat hy as ’n seun aanneem.”+

7 Wat julle verduur, is deel van julle dissipline.* God behandel julle soos seuns.+ Want watter seun word nie deur sy pa gedissiplineer nie?+ 8 Maar as julle nie hierdie dissipline ontvang het nie, is julle in werklikheid buite-egtelike kinders en nie seuns nie. 9 Om die waarheid te sê, ons menslike pa’s* het ons gedissiplineer, en ons het hulle gerespekteer. Moet ons dan nie selfs meer bereid wees om ons te onderwerp aan die Vader van ons geestelike lewe sodat ons kan lewe nie?+ 10 Want hulle het ons ’n kort rukkie gedissiplineer op ’n manier wat hulle gedink het goed is, maar hy doen dit tot ons voordeel sodat ons in sy heiligheid kan deel.+ 11 Ja, geen dissipline lyk op die oomblik asof dit iets is om oor bly te wees nie, maar dit is pynlik.* Tog bring dit ná die tyd die vreedsame vrug van regverdigheid voort vir dié wat daardeur opgelei is.

12 Versterk dus die hande wat slap hang en die knieë wat swak is,+ 13 en hou aan om reguit paaie vir julle voete te maak,+ sodat wat kreupel is, nie uit lit raak nie, maar eerder gesond gemaak word. 14 Probeer hard om in vrede met alle mense te lewe+ en om die heiligheid te hê+ waarsonder geen mens die Here sal sien nie. 15 Wees baie versigtig dat niemand die kans laat verbygaan om die onverdiende goedheid van God te ontvang nie, dat geen giftige wortel opskiet en moeilikheid veroorsaak en baie mense daardeur onrein word nie.+ 16 En sorg dat daar niemand onder julle is wat seksueel onsedelik* is of wat heilige dinge nie waardeer nie, soos Esau, wat sy regte as eersgeborene vir een maaltyd verruil het.+ 17 Want julle weet dat hy verwerp is toe hy ná die tyd die seën wou ontvang, want al het hy met trane hard probeer om sy pa van gedagte te laat verander,+ het dit niks gehelp nie.*

18 Julle het nie by iets gekom waaraan gevat kan word+ en wat met vuur aan die brand gesteek is nie.+ Julle het nie gekom by ’n donker wolk of digte donkerte of ’n storm+ 19 of die geluid van ’n trompet+ of ’n stem wat praat nie.+ Toe die volk dit hoor, het hulle gesmeek dat niks verder vir hulle gesê moes word nie.+ 20 Want hulle is bang gemaak deur hierdie bevel: “As selfs ’n dier aan die berg raak, moet dit met klippe doodgegooi word.”+ 21 Wat hulle gesien het, het hulle so bang gemaak dat Moses selfs gesê het: “Ek is bang en ek bewe.”+ 22 Maar julle het gekom by ’n berg Sion+ en ’n stad van die lewende God, hemelse Jerusalem,+ en tienduisende engele 23 in hulle algemene vergadering,+ en die gemeente van die eersgeborenes, wat in die hemel opgeskryf is, en God, die Regter van almal,+ en die geestelike lewens+ van regverdiges wat tot volmaaktheid gebring is.+ 24 En julle het gekom by Jesus, die middelaar+ van ’n nuwe verbond,+ en die bloed wat gesprinkel is en wat op ’n beter manier praat as Abel se bloed.+

25 Sorg dat julle nie weier om te luister na* die een wat praat nie.* Want in die verlede het mense op die aarde geweier om te luister na die een wat ’n waarskuwing van God gegee het, en hulle is gestraf. Sal ons dan nie beslis ook gestraf word as ons nie luister na die een wat uit die hemel praat nie?+ 26 Destyds het sy stem die aarde geskud,+ maar nou het hy belowe: “Ek sal nie net die aarde nie, maar ook die hemel nog ’n keer skud.”+ 27 Met die uitdrukking “nog ’n keer” word daar bedoel dat die dinge wat geskud word, dit wil sê die dinge wat gemaak is, verwyder word sodat net die dinge wat nie geskud word nie, kan oorbly. 28 Aangesien ons ’n Koninkryk gaan ontvang wat nie geskud kan word nie, laat ons dus aanhou om baat te vind by die onverdiende goedheid, waardeur ons aanvaarbare heilige diens aan God kan bied met vrees en ontsag vir hom. 29 Want ons God is ’n verterende vuur.+

13 Hou aan om broederlike liefde te betoon.+ 2 Moenie gasvryheid vergeet nie,*+ want party het engele gasvry ontvang sonder dat hulle dit geweet het.+ 3 Dink aan dié wat in die tronk is*+ asof julle saam met hulle daar is,+ en aan dié wat sleg behandel word, aangesien julle self nog ook in die liggaam is.* 4 Die huwelik moet vir almal eerbaar* wees en die huweliksbed moet rein bly,+ want God sal seksueel onsedelike mense* en egbrekers oordeel.+ 5 Julle lewenswyse moet vry wees van die liefde vir geld,+ terwyl julle tevrede is met die dinge wat julle nou het.+ Want hy het gesê: “Ek sal jou nooit verlaat nie en jou nooit in die steek laat nie.”+ 6 Daarom kan ons goeie moed hou en sê: “Jehovah* is my helper. Ek sal nie bang wees nie. Wat kan ’n mens aan my doen?”+

7 Hou dié in gedagte wat die leiding onder julle neem,+ wat oor die woord van God met julle gepraat het. Kyk noukeurig na die uiteinde van hulle gedrag, en volg hulle geloof na.+

8 Jesus Christus is gister en vandag en tot in ewigheid dieselfde.

9 Moenie mislei word deur allerhande vreemde leringe nie, want dit is beter dat die hart deur onverdiende goedheid versterk word as deur kos,* wat geen voordeel inhou vir dié wat hulle daarmee besig hou nie.+

10 Ons het ’n altaar, en dié wat by die tent heilige diens doen, mag niks eet wat daarop is nie.+ 11 Want die bloed van diere word deur die hoëpriester as ’n sonde-offer in die heiligdom ingeneem, en die liggame van hierdie diere word buite die kamp verbrand.+ 12 Daarom het Jesus ook buite die stadspoort gely+ om die volk met sy eie bloed te heilig.+ 13 Laat ons dan na hom toe gaan buite die kamp en die skande dra wat hy gedra het,+ 14 want ons het nie hier ’n stad wat permanent is nie, maar ons soek ernstig na die stad wat sal kom.+ 15 Laat ons deur hom altyd aan God ’n lofoffer bring,+ dit wil sê die vrug van ons lippe+ wat sy naam in die openbaar bekend maak.+ 16 En moet ook nie vergeet om goed te doen en om wat jy het, met ander te deel nie,+ want sulke offerandes maak God bly.+

17 Wees gehoorsaam aan dié wat die leiding onder julle neem+ en wees onderdanig,+ want hulle waak oor julle en sal daarvoor aanspreeklik gehou word.+ As julle dit doen, sal hulle hulle werk met vreugde kan doen sonder om te sug, want anders sal dit vir julle skadelik wees.

18 Hou aan om vir ons te bid, want ons is daarvan oortuig dat ons ’n eerlike* gewete het, en ons wil ons in alles eerlik gedra.+ 19 Maar ek spoor julle dringend aan om te bid sodat ek nog gouer aan julle teruggegee kan word.

20 God het die groot herder+ van die skape, ons Here Jesus, met die bloed van ’n ewige verbond uit die dood teruggebring. Mag die God van vrede 21 julle met alle goeie dinge toerus om sy wil te doen, en mag hy dit wat goed is in sy oë deur middel van Jesus Christus in ons verrig. Aan God behoort die eer vir ewig en altyd. Amen.

22 Ek spoor julle dan nou aan, broers, om geduldig na hierdie aanmoedigende woorde te luister, want ek het ’n kort brief aan julle geskryf. 23 Ek wil hê dat julle moet weet dat ons broer Timoʹteus vrygelaat is. As hy binnekort kom, sal ons julle saam besoek.

24 Stuur groete vir almal wat die leiding onder julle neem en vir al die heiliges. Dié in Italië+ stuur vir julle groete.

25 Mag die onverdiende goedheid met julle almal wees.

Of “deur wie hy die stelsels van dinge gemaak het”. Sien Woordelys.

Of “voor hom neerbuig”.

Of “openbare dienaars”.

Of “openbare”.

Of “die Hoofbewerker van hulle redding”.

Sien Aanh. A5.

Lett. “saad”.

Of “genooi”.

Lett. “deelgenote van die Christus word”.

Lett. “vrees”.

Of “grondlegging van die wêreld”.

Of “die uiterlike en die innerlike”. Sien Woordelys, “Siel” en “Gees”.

Of “onderskei”.

Sien Woordelys.

Of “wat afdwaal”.

Lett. “In die dae van sy vlees”.

Of “afgestomp geword het in julle gehoor”.

Of “elementêre”.

Of “waarnemingsvermoëns”.

Of “die komende stelsel van dinge”. Sien Woordelys.

Of “raad”.

Of “met ’n eed ingetree”. Lett. “met ’n eed bemiddel”.

Of “ons lewens”.

Of “voorhangsel”.

Of “aartsvader”.

Lett. “al het hulle uit Abraham se lendene gekom”.

Lett. “lendene”.

Of “op grond van die vleeslike afstamming”.

Sien Aanh. A5.

Of “spyt voel”.

Of “openbare dienaar”.

Sien Aanh. A5.

Of “openbare diens”.

Sien Aanh. A5.

Sien Aanh. A5.

Sien Aanh. A5.

Sien Aanh. A5.

Of “aanbiedingsbrode”.

Of “voorhangsel”.

Of “plek van versoening”.

Lett. “verskeie dope”.

Lett. “loskoping; bevryding”.

Lett. “vlees”.

Of “boekrol”.

Of “openbare”.

Of “grondlegging van die wêreld”.

Of “die voleinding van die stelsels van dinge”. Sien Woordelys.

Lett. “sal dit afgeskeie van sonde wees”.

Of moontlik “mense”.

Of “openbare”.

Sien Aanh. A5.

Of “vertroue”.

Lett. “ingewy”.

Of “voorhangsel”.

Lett. “vlees”.

Of “besorg wees oor; ag gee op”.

Of “motiveer; aanvuur”.

Sien Aanh. A5.

Lett. “asof in ’n teater”.

Of “my siel”.

Of “oortuigende”.

Of “ons voorvaders”.

Lett. “getuienis aangaande hulleself ontvang”.

Of “dat die stelsels van dinge deur God se woord georden is”. Sien Woordelys, “Stelsel van dinge”.

Of “erken deur getuienis te gee”.

Lett. “is”.

Of “waarvan God die argitek en boumeester is”.

Lett. “saad te ontvang”.

Of “betroubaar”.

Lett. “eniggebore”.

Lett. “saad”.

Of “by wyse van illustrasie”.

Of “’n bevel”.

Of “begrafnis”. Lett. “beendere”.

Of “om deur die een of ander losprys bevry te word”.

Sien Woordelys.

Of “stukkend”.

Of “die Hoofbewerker en Vervolmaker van ons geloof”.

Sien Woordelys.

Sien Aanh. A5.

Sien Aanh. A5.

Of “slaan met ’n gésel”. Sien Woordelys, “Gésel”.

Of “opleiding”.

Lett. “die pa’s van ons vlees”.

Of “dit maak ons hartseer”.

Sien Woordelys, “Seksuele onsedelikheid”.

Lett. “het hy geen plek daarvoor gevind nie”.

Of “nie verskonings maak teenoor”.

Of “nie die een wat praat, ignoreer nie”.

Of “Moenie vergeet om goed te wees vir vreemdelinge nie”.

Lett. “dié wat geboei is”.

Of moontlik “asof julle saam met hulle ly”.

Of “kosbaar”.

Sien Woordelys, “Seksuele onsedelikheid”.

Sien Aanh. A5.

D.w.s. reëls oor kos.

Lett. “goeie”.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel