Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • nwt Titus 1:1-3:15
  • Titus

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Titus
  • Die Bybel – Nuwe Wêreld-vertaling
Die Bybel – Nuwe Wêreld-vertaling
Titus

AAN TITUS

1 Van Paulus, ’n slaaf van God en ’n apostel van Jesus Christus volgens die geloof van dié wat God uitgekies het en die akkurate kennis van die waarheid wat verband hou met toegewydheid aan God. 2 Hierdie dinge is gebaseer op die hoop op ewige lewe+ wat God, wat nie kan lieg nie,+ lank gelede belowe het. 3 Maar op sy eie vasgestelde tyd het hy sy woord bekend gemaak deur die predikingswerk wat aan my gegee is+ volgens die bevel van God, ons Redder. 4 Aan Titus, ’n medegelowige wat werklik soos my kind is:

Mag jy onverdiende goedheid en vrede hê van God, die Vader, en van Christus Jesus, ons Redder.

5 Ek het jou in Kreta agtergelaat om sekere dinge* reg te stel en om in een stad ná die ander ouermanne aan te stel volgens die instruksies wat ek jou gegee het: 6 ’n Ouerman moet vry van beskuldiging wees, die man van een vrou, die pa van gelowige kinders wat nie van wilde* of opstandige gedrag aangekla word nie.+ 7 Want as God se bestuurder moet ’n opsiener vry van beskuldiging wees. Hy moenie hardkoppig wees,+ gou kwaad word+ of ’n dronkaard wees nie. Hy moenie gewelddadig* wees of gierig op soek wees na oneerlike wins nie. 8 Hy moet eerder gasvry wees,+ die goeie liefhê, en hy moet verstandig,*+ regverdig en lojaal+ wees. Hy moet selfbeheersing hê+ 9 en in sy onderrigting* stewig aan die betroubare woord* vashou,+ sodat hy mense deur die gesonde* lering kan opbou*+ en dié wat daarteen praat, kan teregwys.+

10 Want daar is baie opstandiges, mense wat dwase dinge sê en ander bedrieg, veral dié wat nog steeds sê dat dit nodig is om besny te word.+ 11 Dit is nodig om hulle monde stil te maak, want dit is juis hulle wat aanhou om die geloof van hele huisgesinne te verswak deur dinge te leer wat hulle nie behoort te leer nie omdat hulle oneerlike wins wil maak. 12 Een van hulle, hulle eie profeet, het gesê: “Mense van Kreta is altyd leuenaars, gevaarlike wilde diere, lui vrate.”

13 Hierdie getuienis is waar. Hou dus aan om streng met hulle te praat en om hulle tereg te wys, sodat hulle gesond in die geloof kan wees 14 en nie sal luister na valse Joodse stories en gebooie van mense wat van die waarheid wegdraai nie. 15 Alles is rein vir rein mense,+ maar vir dié wat onrein en sonder geloof is, is niks rein nie, want hulle verstand en hulle gewete is onrein.+ 16 Hulle verkondig in die openbaar dat hulle God ken, maar hulle dade toon dat hulle hom nie wil ken nie.+ Hulle is afskuwelik en ongehoorsaam en nie geskik vir enige goeie werk nie.

2 Hou jy egter aan om die dinge te sê wat ooreenstem met die gesonde* lering.+ 2 Laat die ouer mans selfbeheersing hê in hulle gewoontes, ernstig en verstandig* wees, sterk geloof hê, liefde betoon en volhard. 3 Net so moet die ouer vrouens God deur hulle gedrag eer, nie laster of aan baie wyn verslaaf wees nie en onderrigters wees van wat goed is. 4 Dan kan hulle die jong vrouens leer* om hulle mans lief te hê, om hulle kinders lief te hê, 5 om verstandig* en rein* te wees, om by die huis te werk* en om te doen wat goed is, terwyl hulle aan hulle eie mans onderdanig is,+ sodat daar nie van die woord van God sleg gepraat sal word nie.

6 Hou ook aan om die jonger mans aan te spoor om verstandig* te wees.+ 7 Wees in alles ’n voorbeeld van goeie dade. Leer ander met alle erns wat suiwer is*+ 8 deur gesonde* woorde te gebruik wat nie gekritiseer kan word nie,+ sodat teenstanders skaam kan kry omdat hulle niks negatiefs* van ons kan sê nie.+ 9 Laat slawe in alles aan hulle eienaars onderdanig wees+ en hulle probeer tevrede stel sonder om teë te praat. 10 Hulle moenie van hulle eienaars steel nie,+ maar hulle moet bewys dat hulle heeltemal betroubaar is sodat hulle die leringe van ons Redder, God, in alles kan versier.+

11 Want die onverdiende goedheid van God is geopenbaar en lei tot redding vir alle soorte mense.+ 12 Dit leer ons om goddeloosheid en wêreldse begeertes te verwerp+ en om met verstandigheid* en regverdigheid en toegewydheid aan God in hierdie wêreld* te lewe.+ 13 Ons doen dit terwyl ons wag op die gelukkige hoop+ en glorieryke openbaring van die groot God en van ons Redder, Jesus Christus. 14 Hy het homself vir ons gegee+ om ons van elke soort wetteloosheid te bevry*+ en vir homself ’n volk te reinig wat sy spesiale besitting is, ywerig vir goeie werke.+

15 Hou aan om met volle gesag hierdie dinge te sê en om ander aan te spoor* en tereg te wys.+ Laat geen mens ooit op jou neersien nie.

3 Hou aan om hulle daaraan te herinner om onderdanig en gehoorsaam te wees aan regerings en owerhede,+ om gereed te wees vir elke goeie werk, 2 om niks slegs van enigiemand te sê nie, om nie stryerig te wees nie, maar redelik,+ en om sagmoedigheid te openbaar teenoor alle mense.+ 3 Want ons was ook voorheen onverstandig, ongehoorsaam, mislei, slawe van allerhande begeertes en genot. Ons het in slegtheid en jaloesie gelewe, was afskuwelik en het mekaar gehaat.

4 Maar toe die goedhartigheid van ons Redder, God,+ en sy liefde vir die mensdom geopenbaar is, 5 het hy ons gered, nie as gevolg van enige regverdige dade wat ons gedoen het nie,+ maar as gevolg van sy eie genade.+ Hy het ons gered deur middel van die bad wat ons lewend gemaak het+ en deur ons nuut te maak met heilige gees.+ 6 Hy het hierdie gees oorvloedig* op ons uitgestort deur Jesus Christus, ons Redder,+ 7 sodat ons, nadat ons op grond van sy onverdiende goedheid regverdig verklaar is,+ erfgename kan word+ wat die hoop het op ewige lewe.+

8 Hierdie woorde is betroubaar, en ek wil hê dat jy moet aanhou om hierdie dinge te beklemtoon sodat dié wat in God glo, daarop kan konsentreer om goeie werke te bly doen. Hierdie dinge is goed en voordelig vir mense.

9 Maar vermy dwase argumente en geslagsregisters en stryery oor die Wet, want dit bereik niks nie en beteken niks nie.+ 10 As iemand ’n sekte bevorder,+ verwerp hom+ nadat hy ’n eerste en ’n tweede keer gewaarsku* is,+ 11 omdat jy weet dat so iemand van die weg afgedwaal het en gesondig het en homself veroordeel het.

12 Wanneer ek Arʹtemas of Tiʹgikus+ na jou toe stuur, moet jy jou bes doen om na my toe te kom in Nikopoʹlis, want ek het besluit om die winter daar te bly. 13 Gee Senas, wat die Wet goed ken, en Apolʹlos alles wat hulle nodig het, sodat hulle niks vir hulle reis sal kortkom nie.+ 14 Maar ons mense moet ook leer om aan te hou met goeie werke en om te help in tye van nood+ sodat hulle nie onproduktief* sal wees nie.+

15 Almal wat by my is, stuur vir jou groete. Stuur groete vir dié wat vir ons lief is en wat in die geloof is.

Mag die onverdiende goedheid met julle almal wees.

Of “dinge wat gebrekkig was”.

Of “losbandige”.

Of “’n slaner”.

Of “oordeelkundig; gesond van verstand”.

Of “onderrigkuns”.

Of “boodskap”.

Of “voordelige”.

Of “vermaan”.

Of “voordelige”.

Of “gesond van verstand”.

Of “tot besinning bring; raad gee”.

Of “gesond van verstand”.

Lett. “kuis”.

Of “om vir hulle huishouding te sorg”.

Of “gesond van verstand”.

Of moontlik “met suiwerheid”.

Of “voordelige”.

Of “veragteliks”.

Of “gesonde verstand”.

Of “stelsel van dinge”. Sien Woordelys.

Lett. “los te koop”.

Of “te vermaan”.

Of “ryklik”.

Of “vermaan”.

Lett. “onvrugbaar”.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel