DIE TWEEDE BRIEF AAN TIMOTEUS
1 Van Paulus, ’n apostel van Christus Jesus deur God se wil volgens die belofte van die lewe wat deur Christus Jesus is.+ 2 Aan Timoʹteus, ’n geliefde kind:+
Mag jy onverdiende goedheid, genade en vrede hê van God, die Vader, en van Christus Jesus, ons Here.
3 Ek is dankbaar teenoor God, vir wie ek met ’n skoon gewete heilige diens doen net soos my voorvaders. In my smeekgebede dink ek dag en nag aan jou. 4 Wanneer ek aan jou trane dink, verlang ek om jou te sien sodat ek met vreugde gevul kan word. 5 Want ek onthou jou opregte geloof,+ wat jou ouma Loʹïs en jou ma Eunice eers gehad het en wat jy ongetwyfeld nog steeds het.
6 Om hierdie rede herinner ek jou daaraan om die gawe van God wat jy ontvang het toe ek my hande op jou gelê het,+ soos ’n vuur aan die gang te hou.* 7 Want die gees wat God ons gegee het, maak ons nie lafhartig nie,+ maar gee ons krag,+ liefde en gesonde verstand. 8 Moet jou dus nie skaam vir die getuienis oor ons Here nie,+ en ook nie vir my, wat ’n gevangene ter wille van hom is nie. Maar wees bereid om vir die goeie nuus te ly+ en om op God se krag te vertrou.+ 9 Hy het ons gered en ons geroep met ’n heilige roeping,+ nie as gevolg van ons werke nie, maar as gevolg van sy eie voorneme en onverdiende goedheid.+ Dit is lank gelede deur middel van Christus Jesus aan ons gegee, 10 maar nou is dit duidelik sigbaar gemaak deur die openbaring van ons Redder, Christus Jesus.+ Hy het ’n einde aan die dood gemaak+ en het deur die goeie nuus+ aan ons getoon hoe om die lewe te kry,+ sowel as ’n liggaam wat nie kan vergaan nie.+ 11 Ek is as ’n prediker en ’n apostel en ’n onderrigter aangestel om hierdie goeie nuus bekend te maak.+
12 Daarom ly ek ook hierdie dinge,+ maar ek skaam my nie.+ Want ek ken die Een in wie ek geglo het, en ek is seker dat hy alles wat ek aan hom toevertrou het, tot daardie dag toe kan bewaar.+ 13 Bly by die patroon* van gesonde* woorde+ wat jy by my gehoor het, met die geloof en liefde wat die gevolg is van eenheid met Christus Jesus. 14 Bewaar hierdie skat met behulp van die heilige gees, wat in ons woon.+
15 Jy weet dat al die manne in die provinsie Asië+ hulle rug op my gedraai het, insluitende Figeʹlus en Hermoʹgenes. 16 Mag die Here genade aan die huis van Onesiʹforus+ betoon, want hy het my dikwels aangemoedig en hom nie vir my gevangenisboeie geskaam nie. 17 Om die waarheid te sê, toe hy in Rome was, het hy ywerig na my gesoek en my gevind. 18 Ek bid dat die Here Jehovah* in dié dag genade aan hom sal betoon. En jy weet goed wat hy alles in Efeʹse vir my gedoen het.
2 My kind,+ hou dan aan om krag te verkry uit die onverdiende goedheid wat in Christus Jesus is. 2 Jy moet die dinge wat jy by my gehoor het en wat deur baie getuies bevestig is,+ aan getroue mense leer, wat dan weer bekwaam sal wees om ander te onderrig. 3 Wees bereid om te ly+ as ’n goeie soldaat+ van Christus Jesus. 4 Niemand wat as ’n soldaat dien, raak betrokke by* die sakebedrywighede* van die lewe nie omdat hy die een wat hom in diens geneem het, tevrede wil stel. 5 En selfs as iemand aan die spele deelneem, ontvang hy nie die kroon as hy nie volgens die reëls deelgeneem het nie.+ 6 Die hardwerkende boer moet die eerste een wees wat van die vrugte eet. 7 Dink voortdurend aan wat ek sê. Die Here sal jou al hierdie dinge laat verstaan.*
8 Onthou dat Jesus Christus uit die dood opgewek is+ en Dawid se nakomeling* was.+ Dit is die goeie nuus wat ek verkondig,+ 9 en daarvoor ly ek en word ek soos ’n misdadiger gevange gehou.+ Maar die woord van God kan nie gevange gehou word nie.+ 10 Daarom gaan ek voort om alles ter wille van die uitverkorenes te verduur,+ sodat hulle ook deur Christus Jesus gered kan word en ewige heerlikheid kan verkry. 11 Hierdie woorde is betroubaar: As ons saam gesterf het, sal ons ook saam lewe.+ 12 As ons volhard, sal ons ook saam as konings regeer.+ As ons sê dat ons hom nie ken nie, sal hy ook sê dat hy ons nie ken nie.+ 13 As ons ontrou is, bly hy getrou, want hy kan niks doen wat teen sy geaardheid is nie.*
14 Hou aan om hulle aan hierdie dinge te herinner en waarsku* hulle voor God om nie oor woorde te stry nie. Dit is iets wat heeltemal nutteloos is omdat dit skadelik is vir dié wat daarna luister. 15 Doen jou bes om God se goedkeuring te hê as ’n werker wat hom oor niks hoef te skaam nie en wat die woord van die waarheid reg hanteer.+ 16 Maar vermy leë praatjies wat ’n bespotting maak van wat heilig is,+ want dit sal tot groter goddeloosheid lei 17 en sal soos kanker versprei. Himeneʹus en Fileʹtus is onder diegene wat hierdie woorde versprei.+ 18 Hierdie manne het van die waarheid afgedwaal deur te sê dat die opstanding reeds plaasgevind het,+ en hulle laat party mense se geloof verswak. 19 Tog bly die stewige fondament van God staan, en dit het hierdie seël: “Jehovah* ken dié wat aan hom behoort”,+ en: “Laat elkeen wat die naam van Jehovah*+ aanroep, wegdraai van onregverdigheid.”
20 In ’n groot huis is daar nie net houers van goud en silwer nie, maar ook van hout en klei. Party word vir ’n eervolle doel gebruik, maar ander vir ’n oneervolle doel. 21 As iemand dus van die laasgenoemdes wegbly, sal hy ’n houer* wees wat vir ’n belangrike doel gebruik word, geheilig, nuttig vir sy eienaar, geskik vir elke goeie werk. 22 Vlug dus vir die begeertes van die jeug, maar streef na regverdigheid, geloof, liefde en vrede, saam met dié wat die Here uit ’n rein hart aanroep.
23 En verwerp dwase en dom debatte,+ want jy weet dat dit tot stryery lei. 24 ’n Slaaf van die Here hoef nie te stry nie. Hy moet eerder vriendelik* wees teenoor almal,+ hy moet kan onderrig en hy moet selfbeheersing hê wanneer hy onregverdig behandel word.+ 25 Hy moet dié wat nie ’n goeie gesindheid het nie,+ met sagmoedigheid onderrig. Miskien sal God hulle toelaat om berou te toon,* wat tot akkurate kennis van die waarheid lei,+ 26 en sal hulle tot hulle sinne kan kom en uit die strik van die Duiwel kan ontsnap, aangesien hulle lewend deur hom gevang is om sy wil te doen.+
3 Maar weet dat daar in die laaste dae+ swaar tye sal wees wat moeilik is om deur te kom. 2 Want mense sal selfsugtig wees, geldgierig, trots en hoogmoedig. Hulle sal beledigende dinge sê. Hulle sal ongehoorsaam wees aan hulle ouers. Hulle sal ondankbaar en dislojaal wees. 3 Hulle sal geen natuurlike liefde hê nie en nie bereid wees om tot enigiets in te stem nie. Hulle sal slegte dinge van mense sê en geen selfbeheersing hê nie. Hulle sal wreed wees en sonder liefde vir wat goed is. 4 Hulle sal verraaiers wees, hardkoppig,* opgeblase van trots en lief vir plesier eerder as vir God. 5 Dit sal lyk asof hulle God dien, maar hulle sal nie lewe soos mense wat God dien nie.*+ Bly weg van hierdie mense af. 6 Want onder hulle is daar manne wat op ’n slinkse manier huise binnedring en swak vrouens in hulle mag kry. Hierdie vrouens is met sondes oorlaai en word deur allerhande begeertes gelei. 7 Hulle leer heeltyd, en tog kan hulle nooit akkurate kennis van die waarheid verkry nie.
8 En net soos Jannes en Jambres Moses teëgestaan het, so gaan hulle ook voort om die waarheid teë te staan. Sulke mense se denke is heeltemal sleg, en hulle het nie God se goedkeuring nie omdat hulle nie volgens die geloof lewe nie. 9 Tog sal hulle nie ver kom nie, want almal sal kan sien hoe dwaas hulle is, soos in die geval van daardie twee manne.+ 10 Maar jy het my getrou gevolg in my onderrigting, my lewenswyse,+ my doel, my geloof, my geduld, my liefde en my volharding. 11 Jy weet ook hoe ek vervolg is en gely het in Antioʹgië,+ in Ikoʹnium+ en in Listra.+ Ek het hierdie vervolginge verduur, en die Here het my uit hulle almal gered.+ 12 Om die waarheid te sê, almal wat met toegewydheid aan God as ’n volgeling van Christus Jesus wil lewe, sal ook vervolg word.+ 13 Maar goddelose mense en bedrieërs sal al hoe slegter word, terwyl hulle ander mislei en self mislei word.+
14 Maar jy moet bly by die dinge wat jy geleer het en wat jy oortuig is om te glo,+ want jy weet by wie jy dit geleer het 15 en dat jy van jongs af+ die heilige geskrifte geken het,+ wat jou wys kan maak vir redding deur geloof in Christus Jesus.+ 16 Die hele Skrif is deur God geïnspireer+ en is nuttig om te onderrig,+ om tereg te wys, om dinge reg te stel, om in regverdigheid te dissiplineer,+ 17 sodat die mens van God heeltemal bekwaam kan wees, ten volle toegerus vir elke goeie werk.
4 Ek gee jou hierdie ernstige bevel voor God en Christus Jesus, wat die lewendes en die dooies+ sal oordeel+ wanneer hy geopenbaar word+ en in sy Koninkryk is:+ 2 Verkondig die woord,+ bly dringend daarmee besig in goeie tye en in moeilike tye. Wys tereg,+ gee streng raad, moedig aan. Doen dit met alle geduld en deur goed te onderrig.*+ 3 Want daar sal ’n tyd wees wanneer hulle nie die gesonde* lering+ sal verdra nie, maar hulle sal hulle eie begeertes volg en vir hulle onderrigters bymekaarmaak wat dinge sê wat hulle graag wil hoor.*+ 4 Hulle sal nie meer na die waarheid luister nie en sal aandag skenk aan valse stories. 5 Maar jy moet in alles helder van verstand bly, moeilike tye deurstaan,+ die werk van ’n evangelieprediker doen* en jou bediening ten volle uitvoer.+
6 Want ek word reeds soos ’n drankoffer uitgegooi,+ en die tyd vir my verlossing+ is naby. 7 Ek het die goeie stryd gestry,+ ek het die wedloop voltooi,+ ek het die geloof behou. 8 Van nou af wag die kroon van regverdigheid+ vir my, wat die Here, die regverdige regter,+ vir my in daardie dag as ’n beloning sal gee.+ Hy sal dit egter nie net vir my gee nie, maar ook vir almal wat uitgesien het na sy openbaring.
9 Doen jou bes om binnekort na my toe te kom. 10 Want Demas+ het my verlaat omdat hy lief is vir hierdie wêreld,* en hy het na Tessaloʹnika gegaan. Kressens is na Galaʹsië, en Titus is na Dalmaʹsië. 11 Net Lukas is by my. Bring Markus saam met jou, want ek kan hom goed gebruik in die bediening. 12 Maar ek het Tiʹgikus+ na Efeʹse gestuur. 13 Wanneer jy kom, moet jy die mantel bring wat ek in Troas by Karpus gelos het, en die boekrolle, veral die perkamente.*
14 Aleksander, die kopersmid, het my baie skade aangedoen. Jehovah* sal hom terugbetaal vir wat hy gedoen het.+ 15 Pasop vir hom, want hy het ons boodskap erg teëgestaan.
16 Toe ek my die eerste keer verdedig het, het niemand my gehelp nie, maar hulle almal het my in die steek gelaat. Mag God dit nie teen hulle hou nie. 17 Maar die Here het naby my gestaan en my krag gegee, sodat ek die boodskap ten volle kon verkondig en al die nasies dit kon hoor.+ En ek is uit die leeu se bek verlos.+ 18 Die Here sal my van elke goddelose werk bevry en my vir sy hemelse Koninkryk red.+ Aan hom behoort die eer vir ewig en altyd. Amen.
19 Stuur groete vir Prisca en Aʹquila+ en die huis van Onesiʹforus.+
20 Erasʹtus+ het in Korinte gebly, maar ek het Troʹfimus+ in Mileʹte agtergelaat omdat hy siek was. 21 Doen jou bes om voor die winter hier aan te kom.
Eubuʹlus stuur vir jou groete, en so ook Pudens en Linus en Claudia en al die broers.
22 Mag die Here wees met die gees wat jy openbaar. Mag sy onverdiende goedheid met julle wees.
Of “aan te wakker”.
Of “voorbeeld; maatstaf”.
Of “voordelige”.
Sien Aanh. A5.
Lett. “raak verstrengel in”.
Of moontlik “die alledaagse bedrywighede”.
Of “onderskeidingsvermoë in alles gee”.
Lett. “saad”.
Lett. “hy kan homself nie verloën nie”.
Lett. “getuig deeglik vir”.
Sien Aanh. A5.
Sien Aanh. A5.
Of “instrument”.
Of “taktvol”.
Of “van gedagte te verander”.
Of “roekeloos”.
Of “maar hulle sal die krag van toegewydheid aan God verloën”.
Of “en met onderrigkuns”.
Of “voordelige”.
Lett. “sodat hulle ore gestreel kan word”.
Of “aanhou om die goeie nuus te verkondig”.
Of “die teenswoordige stelsel van dinge”. Sien Woordelys.
D.w.s. boekrolle van leer.
Sien Aanh. A5.