Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • nwt 1 Timoteus 1:1-6:21
  • 1 Timoteus

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • 1 Timoteus
  • Die Bybel – Nuwe Wêreld-vertaling
Die Bybel – Nuwe Wêreld-vertaling
1 Timoteus

DIE EERSTE BRIEF AAN TIMOTEUS

1 Van Paulus, ’n apostel van Christus Jesus deur die bevel van God, ons Redder, en van Christus Jesus, ons hoop.+ 2 Aan Timoʹteus,*+ ’n ware kind+ in die geloof:

Mag jy onverdiende goedheid, genade en vrede ontvang van God, die Vader, en van Christus Jesus, ons Here.

3 Toe ek op die punt gestaan het om na Masedoʹnië te gaan, het ek jou aangemoedig om in Efeʹse te bly. Maar ek doen dit nou weer sodat jy sekere persone kan beveel om nie valse leringe te versprei nie 4 en om ook nie aandag te skenk aan valse stories+ en aan geslagsregisters nie. Hierdie dinge loop op niks uit nie+ en laat net spekulasies ontstaan eerder as om iets te bied wat van God af kom en wat geloof opbou. 5 Die rede waarom ek hierdie opdrag gee, is sodat ons liefde+ uit ’n rein hart en uit ’n goeie gewete en uit geloof+ sonder skynheiligheid kan hê. 6 Party het hierdie dinge verwerp en by dwase praatjies+ betrokke geraak. 7 Hulle wil onderrigters+ van die wet wees, maar hulle verstaan nie die dinge wat hulle sê of die dinge waarop hulle so sterk aandring nie.

8 Ons weet dat die Wet goed is as ’n mens dit reg* toepas, 9 en ons hou in gedagte dat ’n wet nie vir ’n regverdige mens gemaak word nie, maar vir mense wat wetteloos+ en opstandig is, goddelose mense en sondaars, mense wat dislojaal is* en nie respek het vir wat heilig is nie, wat hulle pa of ma of iemand anders vermoor, 10 wat seksueel onsedelik* is, mans wat homoseksualiteit beoefen,* ontvoerders, leuenaars, mense wat leuens onder eed vertel,* en enigiets anders wat teen die gesonde* lering+ is 11 volgens die glorieryke goeie nuus van die gelukkige God, wat aan my toevertrou is.+

12 Ek is dankbaar teenoor Christus Jesus, ons Here. Hy het my krag gegee en ’n bediening aan my toegewys omdat hy my as getrou beskou het,+ 13 al was ek vroeër ’n lasteraar en ’n vervolger en ’n trotse man.+ Tog is genade aan my betoon omdat ek oningelig was en sonder geloof opgetree het. 14 Maar die onverdiende goedheid van ons Here was buitengewoon groot, saam met geloof en die liefde wat in Christus Jesus is. 15 Hierdie woorde is betroubaar en verdien om ten volle aanvaar te word: Christus Jesus het in die wêreld ingekom om sondaars te red,+ en ek is die ergste van hulle almal.+ 16 Maar genade is aan my betoon sodat Christus Jesus al sy geduld kon toon deur middel van my, die ergste geval. So het ek ’n voorbeeld geword vir dié wat geloof in hom sal stel om die ewige lewe te verkry.+

17 Aan die Koning van die ewigheid,+ wat onsterflik*+ en onsigbaar+ is, die enigste God,+ behoort eer en heerlikheid vir ewig en altyd. Amen.

18 My kind, Timoʹteus, ek gee hierdie opdrag aan jou in ooreenstemming met die profesieë wat oor jou gemaak is, sodat jy daardeur kan aanhou om die goeie oorlog te voer+ 19 terwyl jy geloof en ’n goeie gewete+ behou. Party het hulle gewete opsygestoot, en as gevolg daarvan het hulle geloof skipbreuk gely. 20 Himeneʹus+ en Aleksander is onder hulle, en ek het hulle aan Satan oorgelewer+ sodat hulle deur dissipline geleer kan word om nie te laster nie.

2 In die eerste plek wil ek almal dan aanspoor om tot God te bid vir alle soorte mense. Smeek God vir sy hulp en dank hom. 2 Bid vir konings en almal wat ’n hoë posisie* het,+ sodat ons kan voortgaan om ’n kalm en stil lewe te lei met erns en uitsluitlike toegewydheid aan God.+ 3 Dit is goed en aangenaam in die oë van God, ons Redder,+ 4 wie se wil dit is dat alle soorte mense gered moet word+ en akkurate kennis van die waarheid moet kry. 5 Want daar is een God,+ en een middelaar+ tussen God en die mense:+ ’n mens, Christus Jesus,+ 6 wat homself as ’n ooreenstemmende losprys vir almal* gegee het.+ Daar moet op die regte tyd hiervan getuig word. 7 Om hierdie getuienis te kan gee,+ is ek as ’n prediker en ’n apostel aangestel,+ ’n onderrigter van nasies+ om hulle te leer van geloof en waarheid. Ek praat die waarheid, ek lieg nie.

8 Daarom wil ek hê dat die mans op elke plek moet aanhou bid en lojaal hulle hande moet oplig,+ sonder om kwaad te word+ en te stry.+ 9 Net so moet die vrouens gepaste* klere dra en hulle versier met beskeidenheid en gesonde verstand,* nie met hare wat kunstig gevleg is en goud of pêrels of baie duur klere nie,+ 10 maar op ’n manier wat gepas is vir vrouens wat sê dat hulle aan God toegewyd is,+ naamlik deur goeie werke.

11 Laat ’n vrou in stilte* leer met volle onderdanigheid.+ 12 Ek laat ’n vrou nie toe om te onderrig of om gesag oor ’n man te hê nie, maar sy moet stil wees.*+ 13 Want Adam is eerste gevorm, en toe Eva.+ 14 Ook is Adam nie bedrieg nie, maar die vrou is geheel en al bedrieg+ en het ’n oortreder geword. 15 Maar ’n vrou sal beskerm word deur kinders te kry,+ solank sy* in geloof en liefde en heiligheid en met gesonde verstand*+ volhard.

3 Hierdie woorde is betroubaar: As ’n man ’n opsiener+ wil wees, begeer hy ’n goeie werk. 2 Daarom moet ’n opsiener hom so gedra dat mense geen rede het om hom te kritiseer nie. Hy moet die man van een vrou wees, matig in gewoontes, verstandig,*+ ordelik, gasvry,+ iemand wat kan onderrig,+ 3 nie ’n dronkaard nie,+ nie gewelddadig* nie, maar redelik,+ nie iemand wat daarvan hou om te stry nie,+ nie iemand wat lief is vir geld nie,+ 4 ’n man wat goeie leiding aan sy eie huisgesin gee,* wie se kinders onderdanig is en hulle goed gedra.*+ 5 (Want as ’n man nie weet hoe om aan sy eie huisgesin leiding te gee* nie, hoe sal hy vir die gemeente van God sorg?) 6 Hy moenie ’n pasbekeerde wees nie,+ sodat hy nie dalk opgeblase van trots word en dieselfde oordeel ontvang wat oor die Duiwel uitgespreek is nie. 7 Hy moet ook ’n goeie reputasie* hê onder mense buite die gemeente,+ sodat hy nie in die skande kom en in ’n strik van die Duiwel beland nie.

8 Net so moet bedieningsknegte ernstig wees, nie bedrieglike dinge sê nie,* hulle nie aan baie wyn oorgee nie, nie gierig op soek wees na oneerlike wins nie+ 9 en met ’n skoon gewete+ vashou aan die heilige geheim van die geloof.

10 Hulle moet ook eers getoets word om te sien of hulle geskik is.* Dan kan hulle as bedienaars dien, aangesien hulle vry van beskuldiging is.+

11 Vrouens moet ook ernstig wees, nie lasteraars nie,+ matig in gewoontes, getrou in alles.+

12 Bedieningsknegte moet mans van een vrou wees, wat goeie leiding aan hulle kinders en aan hulle eie huisgesinne gee. 13 Want die manne wat op ’n goeie manier dien, verkry ’n goeie reputasie vir hulleself met groot vrymoedigheid van spraak in die geloof in Christus Jesus.

14 Ek skryf hierdie dinge aan jou, al hoop ek om binnekort na jou toe te kom. 15 Maar as ek om die een of ander rede nie dadelik kan kom nie, sal jy weet hoe jy jou in God se huisgesin behoort te gedra,+ wat die gemeente van die lewende God is, ’n pilaar en fondament van die waarheid. 16 Ja, die heilige geheim van hierdie toegewydheid aan God is beslis groot: ‘Hy is geopenbaar in die vlees,+ is regverdig verklaar in die gees,+ het aan engele verskyn,+ is onder nasies verkondig,+ is in die wêreld geglo,+ is in heerlikheid na die hemel opgeneem.’

4 Maar die geïnspireerde woord* sê duidelik dat party in latere tye afvallig sal word van die geloof omdat hulle sal luister na misleidende geïnspireerde woorde*+ en leringe van demone, 2 weens die skynheiligheid van mense wat leuens vertel,+ wie se gewetens ongevoelig gemaak is, asof dit met ’n brandyster gebrand is. 3 Hulle verbied mense om te trou+ en om sekere kosse te eet,+ maar God het hierdie kosse geskep sodat dié wat geloof het+ en die waarheid goed ken, ’n dankgebed daarvoor kan sê en dit kan eet.+ 4 Want elke skepping van God is goed,+ en niks moet verwerp word+ as dit met dankbaarheid ontvang word nie, 5 want dit word geheilig deur God se woord en deur daaroor te bid.

6 Deur hierdie goeie raad aan die broers te gee, sal jy ’n goeie bedienaar van Christus Jesus wees, een wat gevoed word met die woorde van die geloof en van die goeie leringe wat jy getrou gevolg het.+ 7 Maar verwerp valse stories+ wat oneer oor God bring, soos dié wat deur ou vrouens vertel word. Werk eerder hard* met toegewydheid aan God as jou doelwit. 8 Want fisiese oefening het min voordeel, maar toegewydheid aan God is voordelig vir alles, want dit hou ’n belofte in vir die lewe wat ons nou het en die lewe wat sal kom.+ 9 Hierdie woorde is betroubaar en verdien om ten volle aanvaar te word. 10 Dit is waarom ons hard werk en ons inspan,+ want ons het ons hoop gestel op ’n lewende God, wat ’n Redder+ is van alle soorte mense,+ veral van dié wat getrou is.

11 Hou aan om hierdie bevele te gee en dit aan ander te leer. 12 Laat niemand ooit op jou neersien omdat jy jonk is nie. Word eerder ’n voorbeeld vir die getroues in woord, in gedrag, in liefde, in geloof, in sedelike reinheid.* 13 Totdat ek kom, moet jy aanhou om hard te werk aan openbare voorlesing,+ aansporing* en onderrigting. 14 Moenie die gawe in jou verwaarloos wat aan jou gegee is deur ’n profesie en toe die liggaam van ouermanne hulle hande op jou gelê het nie.+ 15 Dink na* oor hierdie dinge, wees verdiep daarin, sodat almal jou vooruitgang duidelik kan sien. 16 Skenk voortdurend aandag aan jouself en aan jou onderrigting.+ Hou aan om hierdie dinge te doen, want so sal jy jouself red en dié wat na jou luister.+

5 Moenie ’n ouer man skerp kritiseer nie.+ Gee hom eerder raad asof hy jou pa is. Behandel jonger mans soos broers, 2 ouer vrouens soos ma’s, jonger vrouens soos susters, met ’n rein hart.*

3 Sorg vir* weduwees wat werklik weduwees is.*+ 4 Maar as ’n weduwee kinders of kleinkinders het, moet hulle eers leer om toegewydheid aan God in hulle eie huisgesin te betoon.+ Hulle moet hulle ouers en grootouers die sorg gee wat hulle toekom,+ want dit is goed in God se oë.+ 5 Die vrou wat werklik ’n weduwee is en behoeftig agtergelaat is, het haar hoop op God gestel+ en hou dag en nag aan om smeekgebede en gebede te doen.+ 6 Maar die weduwee wat lewe net om haar begeertes* te bevredig, is dood, al lewe sy. 7 Hou dus aan om hierdie instruksies* te gee, sodat niemand iets teen hulle kan sê nie. 8 Ja, as iemand nie vir sy eie mense sorg nie, veral nie vir lede van sy huisgesin nie, het hy die geloof verwerp en is hy erger as iemand sonder geloof.*+

9 ’n Weduwee moet op die lys gesit word as sy ten minste 60 jaar oud is, die vrou van een man was, 10 bekend staan vir haar goeie werke,+ kinders grootgemaak het,+ gasvry was,+ die voete van heiliges gewas het,+ dié gehelp het wat swaarkry+ en elke goeie werk ywerig gedoen het.

11 Moet egter nie jonger weduwees op die lys sit nie, want wanneer hulle seksuele begeertes tussen hulle en die Christus kom, wil hulle trou. 12 En hulle sal oordeel oor hulleself bring omdat hulle die belofte wat hulle voorheen gemaak het,* verbreek het. 13 Terselfdertyd kom hulle in die gewoonte om hulle tyd te mors. Hulle gaan van die een huis ná die ander en mors nie net hulle tyd nie, maar skinder ook en meng in ander mense se sake in+ en praat oor dinge waaroor hulle nie behoort te praat nie. 14 Daarom wil ek hê dat die jonger weduwees moet trou,+ kinders kry,+ vir ’n huishouding sorg en die teenstander geen geleentheid gee om te kritiseer nie. 15 Om die waarheid te sê, party het alreeds weggedraai en Satan begin volg. 16 As ’n gelowige vrou familielede het wat weduwees is, moet sy hulle help, sodat die gemeente nie die las hoef te dra nie. Dan kan die gemeente dié help wat werklik weduwees is.*+

17 Die ouermanne wat goeie leiding gee,+ verdien dubbele eer,+ veral dié wat hard werk in woord en onderrigting.+ 18 Want die Skrif sê: “Jy mag nie ’n bul se bek toebind wanneer hy op die dorsvloer werk nie”,+ en dit sê ook: “Die werker is sy loon werd.”+ 19 Moenie ’n beskuldiging teen ’n ouer man* aanvaar as daar nie twee of drie getuies is nie.+ 20 Jy moet dié wat sonde beoefen, voor almal teregwys+ as ’n waarskuwing vir die res.* 21 Ek beveel jou ernstig voor God en Christus Jesus en die engele wat uitgekies is: Gehoorsaam hierdie instruksies sonder om bevooroordeeld of partydig te wees.+

22 Moet nooit haastig wees om jou hande op enigiemand te lê nie,*+ en moenie ’n deel hê aan die sondes van ander nie. Bly sedelik rein.*

23 Moenie langer water drink nie,* maar drink ’n bietjie wyn vir jou maag en omdat jy so dikwels siek is.

24 Die sondes van party mense is algemeen bekend, en hulle word dadelik geoordeel, maar die sondes van ander word later bekend.+ 25 Net so is party goeie werke algemeen bekend,+ en selfs goeie werke wat nie algemeen bekend is nie, kan nie weggesteek word nie.+

6 Dié wat slawe is, moet aanhou om alle eer aan hulle eienaars te gee,+ sodat daar nooit sleg gepraat sal word van die naam van God en die leringe nie.+ 2 En dié wat gelowige eienaars het, moenie disrespekvol teenoor hulle wees omdat hulle broers is nie. Laat hulle eerder ywerige slawe wees, want dié wat deur hulle goeie diens bevoordeel word, is gelowiges en geliefdes.

Hou aan om hierdie dinge aan ander te leer en hierdie aansporings te gee. 3 As enigiemand ’n ander lering verkondig en nie saamstem met die gesonde* onderrigting+ wat van ons Here Jesus Christus af kom of met die lering wat in ooreenstemming met toegewydheid aan God is nie,+ 4 is hy opgeblase van trots en verstaan hy niks nie.+ Hy het ’n obsessie met* argumente en debatte oor woorde.+ Hierdie dinge lei tot jaloesie, onenigheid, beledigende taal* en goddelose agterdog. 5 Dit lei ook tot aanhoudende stryery oor onbelangrike dinge deur mense wie se verstande onrein is+ en wat die waarheid nie meer verstaan nie. Hulle dink dat toegewydheid aan God vir hulle voordele inhou.+ 6 Toegewydheid aan God hou beslis groot voordele in+ as dit met tevredenheid gepaardgaan. 7 Want ons het niks in die wêreld ingebring nie, en ons kan ook niks daaruit wegdra nie.+ 8 As ons dan kos en klere* het, sal ons met hierdie dinge tevrede wees.+

9 Maar dié wat vasbeslote is om ryk te wees, val in versoeking en ’n strik+ en swig voor baie dwase en skadelike begeertes wat mense tot rampspoed en vernietiging lei.+ 10 Want die liefde vir geld is ’n wortel van allerhande skadelike dinge, en deur hulle aan hierdie liefde oor te gee, het party van die geloof afgedwaal en baie pyn vir hulleself veroorsaak.*+

11 Maar jy, o man van God, vlug vir hierdie dinge. Werk eerder hard om regverdigheid, toegewydheid aan God, geloof, liefde, volharding en sagmoedigheid+ aan te kweek. 12 Stry die goeie stryd van die geloof. Kry ’n stewige houvas op die ewige lewe waarvoor jy geroep is en waarvan jy voor baie getuies ’n goeie openbare bekendmaking gedoen het.

13 Ek beveel jou voor God, wat alles aan die lewe hou, en voor Christus Jesus, wat as ’n getuie die goeie openbare bekendmaking voor Pontius Pilatus+ gedoen het, 14 om aan die gebod gehoorsaam te wees en onbesmet te bly sonder dat enigiemand iets teen jou kan sê. Hou aan om dit te doen totdat ons Here Jesus Christus geopenbaar word.+ 15 Die gelukkige en enigste Heerser sal homself op die vasgestelde tye openbaar. Hy is die Koning van dié wat as konings regeer en Here van dié wat as here+ regeer. 16 Hy is die enigste een wat onsterflikheid het,+ en hy woon in lig wat so helder is dat niemand daar naby kan kom nie.+ Geen mens het hom gesien of kan hom sien nie.+ Aan hom behoort die eer en ewige mag. Amen.

17 Beveel dié wat ryk is in hierdie wêreld* om nie hoogmoedig* te wees nie en om nie te vertrou op rykdom wat kan verdwyn nie,+ maar op God, wat alles ryklik aan ons gee om te geniet.+ 18 Sê vir hulle om goed te doen, om ryk te wees in goeie werke, om vrygewig te wees, bereid om te deel.+ 19 So sal hulle vir hulleself ’n skat bewaar – ’n goeie fondament vir die toekoms,+ sodat hulle ’n stewige houvas op die werklike lewe kan kry.+

20 Timoʹteus, beskerm wat aan jou toevertrou is+ en vermy die leë praatjies wat ’n bespotting maak van wat heilig is en valse kennis+ wat die waarheid weerspreek. 21 Omdat party met sulke kennis gespog het, het hulle van die geloof afgedwaal.

Mag die onverdiende goedheid met julle wees.

Beteken “iemand wat God eer”.

Lett. “wettiglik”.

Of “nie lojale liefde het nie”.

Sien Woordelys, “Seksuele onsedelikheid”.

Of “mans wat met mans seks het”. Lett. “mans wat by mans lê”.

Of “wat valslik sweer”.

Of “voordelige”.

Lett. “onverderflik”.

Of “gesagsposisie”.

Of “alle soorte mense”.

Of “ordentlike”.

Of “goeie oordeel; verstandigheid”.

Of “kalmte”.

Of “kalm wees”.

Lett. “hulle”.

Of “goeie oordeel; verstandigheid”.

Of “oordeelkundig; gesond van verstand”.

Of “’n slaner”.

Of “wat . . . goed bestuur”.

Of “met alle erns onderdanig is”.

Of “om . . . te bestuur”.

Of “getuienis”.

Of “uit twee monde praat nie”.

Of “kwalifiseer”.

Lett. “die gees”.

Lett. “misleidende geeste”.

Of “Oefen jou eerder”.

Lett. “kuisheid”.

Of “vermaning”.

Of “Peins”.

Lett. “in alle kuisheid”.

Lett. “Eer”.

Of “weduwees wat werklik behoeftig is”, d.w.s. wat niemand het om vir hulle te sorg nie.

Moontlik seksuele begeertes.

Of “bevele”.

Of “’n ongelowige”.

Of “hulle eerste betuiging van geloof”.

Of “die weduwees wat werklik behoeftig is, help”, d.w.s. wat niemand het om vir hulle te sorg nie.

Of “’n ouerman”. Sien Woordelys.

Lett. “sodat die res vrees kan hê”.

D.w.s., moenie enigiemand oorhaastig aanstel nie.

Lett. “Hou jouself kuis”.

Of “Hou op om net water te drink”.

Of “voordelige”.

Of “ongesonde belangstelling in”.

Of “laster”.

Of moontlik “huisvesting”. Lett. “bedekking”.

Lett. “hulleself oral met baie pyne deurboor”.

Of “stelsel van dinge”. Sien Woordelys.

Of “arrogant”.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel